Poffertjies met skelvis

Poffertjies word tradisioneel soet bedien, maar hierdie heerlike skelvisvulsel van my ma deel ek graag met julle

Deur: Mareli Visser

Maak 18

DEEG
100 g botter
180 ml (¾ k) water
60 ml (¼ k) melk
250 ml (1 k) koekmeel
1,25 ml (¼ t) sout
3 groot eiers
1 eiergeel
VULSEL
250 g skelvis (haddock)
375 ml (1½ k) melk
30 ml (2 e) botter|
125 ml (½ k) melk
80 ml (1/3 k) koekmeel
2,5 ml (½ t) growwe swartpeper
125 ml (½ k) gerasperde kaas
15 ml (1 e) pietersielie, grofgekap

Maak ook hierdie lekker viskoekies

Metode

Verhit oond tot 200°C en voer bakplaat met waspapier uit.

  1. Deeg Bring botter, water en melk tot kookpunt.
  2. Terwyl dit kook, roer meel en sout by totdat deeg van kant van pot loskom en roer vir verdere drie minute tot gaar.
  3. Plaas warm mengsel in voedselverwerker op medium spoed en gooi dan eiers een vir een by. Meng vir twee minute.
  4. Skep mengsel in spuitsak en druk poffertjies op bakplaat.
  5. Bak vir tien minute by 200 °C. Maak oonddeur oop dat stoom ontsnap. Maak oonddeur weer toe en bak vir verdere tien minute by 180 °C.
  6. Haal uit oond en sny poffertjies dadelik met skerp mes oop sodat stoom kan ontsnap.
  7. Vulsel Kook skelvis vir vyf minute in melk totdat skelvis gaar is.
  8. Haal skelvis uit melk en laat afkoel. Verwyder vel en enige donker dele en vlok dit fyn met vurk.
  9.  Gooi botter by melk waarin skelvis gekook was en smelt oor lae hitte.
  10. Meng melk en meel tot glad en voeg by kokende melk-en-bottermengsel. Roer aanhoudend totdat mengsel begin prut.
  11. Voeg gevlokte skelvis, peper, kaas en pietersielie by kokende mengsel en roer vir drie minute.
  12. Verwyder kastrol van stoof en laat afkoel.
  13. Skep vulsel in versiersak en spuit poffertjies vol.

Send this to a friend