Ryk sjokoladekoek

Bak ’n heerlik dekadente sjokoladekoek!

Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS Foto ANDREA CALDWELL

12 porsies

Bestanddele

180 g sagte botter
187 ml (¾ k) strooisuiker
6 ekstragroot eiers, geskei
5 ml (1 t) vanieljegeursel
15 ml (1 e) likeur van jou keuse
2 00 g (1 groot plak) donkersjokolade, in blokkies gebreek
250 ml (1 k) koekmeel
ROOMVULSEL
250 ml (1 k) room
15 ml (1 e) versiersuiker, gesif
2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
SJOKOLADEVERSIERSEL
60 ml (4 e) botter
60 ml (4 e) water
90 g (1 plak) donkersjokolade, in blokkies gebreek
312 ml (1¼ k) versiersuiker, gesif

Metode

Stel oond op 180 °C.

  1. Room botter en strooisuiker tot liggeel met elektriese klitser.
  2. Voeg eiergele by en klits weer. Voeg vanieljegeursel en likeur by. Klits weer.
  3. Smelt sjokolade in mikrogolf teen 50% krag of op stoof in dubbelkoker. Roer tot glad en voeg by bottermengsel.
  4. Roer koekmeel by bottermengsel tot deeg.
  5. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou by deeg in.
  6. Voer ronde koekpan van 20 cmdeursnee met bakpapier uit. Spuit koekpan met kossproei.
  7. Skep deeg in koekpan. Bak vir 40 minute of tot toetspen skoon uitkom.
  8. Laat koek bietjie in koekpan afkoel en keer op afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.
  9. Sny koek horisontaal in helfte deur.
  10. Roomvulsel Klits room saam met versiersuiker en vanieljegeursel tot styf.
  11. Smeer op koeklaag. Plaas koeklaag bo-op.
  12. Sjokoladeversiersel Verhit botter, water en sjokolade saam oor matige hitte in kastrol terwyl jy af en toe roer tot dit glad is.
  13. Verwyder van hitte. Roer versiersuiker by tot glad en smeer bo-oor koek.
  14. Versier soos verkies.

Send this to a friend