Sjefs: Janette Mocke

sjef_janette_mocke

Kinderpartytjies kan ‘n nagmerrie word as jy nie bedrewe agter die oond voel nie en die kinders se besluiteloosheid dinge nou nie regtig vergemaklik nie. Maar Janette Mocke se nuutste boek, Nog maklike soet happies vir kinders, wat pas by Struik Lifestyle verskyn het, bied die oplossing.

Maryke Roberts

Elke hoofstuk bevat ‘n ander partytjietema, waaronder treine, monsters, skape, skoenlappers, bye, superhelde, lappoppe en dinosourusse. Al die soet happies word gemaak van maklik bekombare bestanddele, soos malvalekkers, roomyshorinkies, jellielekkers en stokkielekkers.

Sedert die verskyning van haar eerste boek, Maklike soet happies vir kinders, het sy gereeld op televisieprogramme, insluitende Pasella, Expresso en Hectic Nine (SABC 2), sowel as in tydskrifte verskyn. Ná skool het sy ‘n aantal suksesvolle koeke vir haar familie en vriende gebak, waaronder haar eie troukoek. Haar skeppings was só suksesvol dat sy besluit het om haar stokperdjie haar besigheid te maak. Vandag is sy die eienaar van ‘n Supacake-agentskap, bak koeke en kolwyntjies, en tower peuselhappies op vir verjaardae, troues en ander spesiale geleenthede.

Sy erken ruiterlik dat haar belangstelling in kos van haar ouma kom. Sy was altyd aan die bak en Janette het ure in die kombuis saam met haar deurgebring.

Hoe het die idee van jou eerste kookboek gekom en hoe het dit jou lewe verander?

Ek was besig om my foto’s van die partytjie-eetgoed wat ek al gemaak het, uit te sorteer. Terwyl ek daardeur geblaai het, het ek gedink dit kan ‘n boek word. Nie seker hoe dit my lewe verander het nie, maar dit maak my baie gelukkig om dit met ander te deel en vir ander te wys dat dit nie moeilik hoef te wees nie. Enigeen kan dit doen.

Wat was die mooiste koek wat jy nog gebak het?

My troukoek. Dit was dalk nie vir ander my mooiste nie, maar definitief vir my.

Wat is jou terugvalgebak as jy vinnig iets moet bak?

Kolwyntjies.

Watter oulike versiersel-alternatiewe het jy al uitgedink – anders as die tradisionele?

Dis moeilik om te sê wat oulik is vir ander, maar my persoonlike gunsteling is versierde vingerbeskuitjies.

Wat is die een gebak wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet saamneem na geleenthede?

Die “brownies”.

Hoe sal jy jou kookstyl tuis beskryf?

Hoe vinniger hoe beter. Ek hou nie regtig van kook nie.

Wat was jou slegste soetding ooit?

Skuimpies. Om die een of ander rede kan ek dit net nie perfek regkry nie.

Wat is jou kinders en vriende se kinders se gewildste eetding in jou nuwe boek?

Op dié stadium die Milo-roomys. Ek dink dit het iets te doen met die verskriklike warm somer wat ons gehad het.

Wat is vir jou belangrik by die bediening van soetgoed?

Dat dit mooi moet lyk. Dit maak só ‘n groot verskil in hoe iets lyk as dit voorgesit word.

Watter gebak-reuk herinner jou aan jou ouma?

Soetkoekies. My gunsteling-tydverdryf as kind was om koekies saam met my ouma te bak. Daar was altyd ‘n gebak op groot skaal aan die gang. Of dit nou vir die ouetehuis, skool of kerk kermis was, bak is daar gebak.

Watter drie bekende mense sal jy nooi vir ‘n koek- en teepartytjie en hoekom?

Buddy Valastro (Cake Boss) – ek sal graag sy kritiek oor van my gebak wil hoor; Nataniël, hy is skreeusnaaks en ook ‘n groot koskenner, en Steve Hofmeyr, net om hom te ontmoet. Hy is absoluut briljant en het so ‘n groot sukses gemaak van alles wat hy doen.

Wat is trooskos vir jou en hoekom?

Pasta. Ek is mal oor pasta.

Wat is jou lewensleuse?

Leef voluit en vertrou op die Here.

Watter een bestanddeel kikker vir jou enige dis op?

Sjokolade. Seker nie enige dis nie, maar die meeste van hulle. Ek is mal daaroor om met sjokolade te eksperimenteer.

Wat is jou gunstelingkookboek?

Enige kinderpartytjieboek.

Wat is jou gunsteling-kosbestemming?

Parys

Wat was jou grootste kombuisflater?

Fudge. Kry dit net nie 100% reg nie.

Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap?

My mikrogolfoond.

Watter kortpad het jy ontdek wat jy met lesers kan deel?

Dat ‘n bordjie klaar versierde kolwyntjies (beskikbaar by die meeste kettingwinkels) met die die hulp van plastiekdiertjies/items en lekkers omgetower kan word om by amper enige tema te pas. Laat net jou verbeelding gaan.

Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens waarmee jy ongelooflike goed kan bak?

Dit gaan seker snaaks klink, maar ek hou nie regtig van bak nie. Ek is wel mal daaroor om klaar gemaakte koekies en lekkers te gebruik en iets daaruit te skep. Die vyf bestandele wat altyd in my spens is, is dus witsjokolade, Marie-beskuitjies, Smarties, versiersuiker en roomyshorinkies.

• Janette se boek is ook in Engels beskikbaar as More Easy Party Treats.

Janette Mocke se Malvabytjies uit Nog maklike soet happies vir kinders (Struik Lifestyle)

Bestanddele

10 malvalekkers

suigstokkie-stokkies

geel sjokolade (witsjokolade met poeierkleursel met ‘n oliebasis wat in die mikrogolf gemaak word)

swart en wit fondant

water

Metode

Druk ‘n malvalekker op ‘n suigstokkie-stokkie. Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond en doop die malvalekkers daaarin sodat dit heeltemal bedek is. Hou dit onderstebo dat die oortollige sjokolade kan afloop. Laat staan tot die sjokolade gestol is.

Rol die swart fondant uit en sny dun strokies uit. Plak 2 strokies oor die malvalekker. Vorm die ogies, neusie en mondjie uit die swart fondant en plak dit voor op die malvalekker vas. Vorm ook die angel uit die swart fondant en plak dit agter op die malvalekker. Rol die wit fondant uit en druk ‘n sirkel uit. Sny die sirkel middeldeur. Plak die 2 halwe sirkels bo-op die malvalekker vir vlerkies. Gebruik water om die deeltjies te plak as dit nie wil vassit nie.

Laat staan tot die fondant en sjokolade heeltemal hard is.

Lewer 10.

bytjies

SOURCES
verskaf

Send this to a friend