Skuimpienessies met sjokolademousse

Maak hierdie lekker skuimpienessies die naweek! Dis ook ’n oulike bederfie vir Moedersdag

16 nessies

Bestanddele

MERINGUE
4 ekstragroot eierwitte
knypie sout
375 ml (1½ k) strooisuiker
60 ml (4 e) mielieblom
30 ml (2 e) witasyn
2,5 ml (½ t) vanieljegeursel
SJOKOLADEMOUSSE
400 g bruinsjokolade, in blokkies gebreek
375 ml (1½ k) room

Metode

Stel oond op 120 °C.

  1. Klits eierwitte en sout met elektriese klitser tot sagte punte vorm.
  2. Voeg strooisuiker bietjiesgewys by en klits tot styf.
  3. Sif mielieblom oor eierwitte. Voeg asyn en vanieljegeursel by. Klits weer tot stywe punte vorm.
  4. Vul versierbuis met meringue en spuit nessies so groot soos verkies.
  5. Bak 30 minute by 120 °C en verlaag dan hitte na 100 °C en bak nog 30 minute. Maak oonddeur effens oop en laat in oond afkoel.
  6. Sjokolademousse Smelt sjokolade en room saam in glasmengbak in mikrogolf teen 50% krag vir twee tot drie minute. Roer elke minuut.
  7. Roer tot glad en sonder klonte. Laat vir 40 minute in yskas afkoel. Dit moenie gestol wees nie.
  8. Klits met elektriese klitser tot pofferig. 9 Skep sjokolademousse in skuimpienessies en sit voor.

Send this to a friend