Sterkos: Amore Bekker – Lendeskyf (sirlion) met gekaramelliseerde uie

Die sprankelende radio-aanbieder Amore Bekker kan net so lekker kook soos sy gesels. Amore is soos ’n vars briesie in die middagverkeer met haar RSG-program, Tjailatyd en maak boonop luisteraars honger met die segment waar mense hul lekker resepte kan deel.

Haar wenk is om so eenvoudig as moontlik te kook en net goeie produkte te gebruik. Sy hou daarvan om met olyfolie, Maldonsout, knoffel en rissies te kook en hou baie van kerriegeregte.

“Ek is ’n ywerige kok en glo dat die bui waarin jy is wanneer jy kos maak, ’n groot invloed het op hoe jou kos gaan proe. Die energie waarmee jy kook, spoel na jou dis oor. ’n Mens kan nooit soos jou ma kos maak nie, al volg jy die resep stap vir stap, want niks kan ’n ma se liefde dupliseer nie,” sê sy.

KOSFILOSOFIE Om te eet is ’n manier om die lewe te assimileer – Martin Versfeld

GUNSTELINGKOK Nataniël

2 porsies

SOUS

2 knoffelhuisies, fyngesny

1 rooi rissie, fyngekap

100 ml olyfolie

45 ml (3 e) suurlemoensap

sout en peper na smaak

LENDESKYF

bietjie olyfolie

1 groot ui, in skywe gesny

5 ml (1 t) bruinsuiker

30 ml (2 e) balsemieke asyn

2 handevol roketblare

600 g lendeskyf

sout en peper na smaak

parmesaanskaafsels

1 Sous Meng bestanddele saam en hou eenkant.

2 Lendeskyf Verhit bietjie olie en soteer ui tot sag. Voeg bruinsuiker en asyn by. Laat vir 5 minute oormatige hitte kook tot sous verdik.

3 Skep ui op bord en sit roketblare bo-op.

4 Die vleis moet kamertemperatuur wees. Vryf dit met olyfolie en dan met sout en peper.

5 Maak vleis gaar soos jy daarvan hou.

6 Laat vleis vir 5 minute rus voordat dit gesny word.

7 Sny in skywe en sit op roketblare.

8 Sprinkel parmesaanskaafsels oor en sit saam met sous voor.

Send this to a friend