Vark vir elke dag

Dié resep vir varkboud is ‘n wonderlike manier om jou rande te rek as dit by vleis kom. Sit dit op ‘n Sondagmiddag in die oond en jy kan heel week daaraan smul in verskillende gedaantes.

Die goedgegeurde varkboud word vir ure aaneen in die oond gebak tot dit sag is en uit mekaar kan trek – daarom dat dit as “pulled pork” in die suide van Noord-Amerika bekend staan, soortgelyk aan gepluisde hoender.

Bestanddele

VIR DIE VARK
1.5 kg varkboud, oortollighede verwyder
50 ml bruinsuiker
10 ml (2 t) sout
10 ml (2 t) elk paprika, komyn en gedroogde oreganum
5 ml (1 t) mosterdpoeier
30 ml (2 e) olie
30 ml (2 e) witwynasyn
VIR DIE SOUS
125 ml (½ k) tamatiesous
125 ml (½ k) witwynasyn
30 ml (2 e) mosterd
60 ml (¼ k) bruinsuiker
10 ml (2 t) elk paprika, komyn en gedroogde oreganum
125 ml (½ k) water

Metode

1 Meng al die bestanddele vir die vark om ‘n marinade te maak. Sny kepe in die varkvet, skep die marinade oor en vryf dit in die vark in. Plaas in die yskas om 1 – 4 ure te marineer.
2 Stel die oond op 160 °C.
Plaas die vark saam met die marinade in ‘n oondpan, voeg 1 koppie water by en bedek met foelie. Bak vir 4 ure of tot dit sag is en begin uitmekaarval. Kyk ongeveer elke uur daarna en voeg nog water by indien nodig.
3 Gebruik twee vurke of jou hande om die varkvleis fyn te maak, voeg enige oorblywende sous uit die pan by en hou eenkant.
4 Meng al die sousbestanddele in ‘n klein kastrol. Roer oor lae hitte om te smelt en kook dan vir 1 minuut saam. Voeg van die sous by die varkvleis; net genoeg om die vark souserig te hou.

Nou vir die variasies

Nadat die vark gepluis is kan jy self besluit hoe om dit te eet.
Sit dit in ‘n tortilla of pita met koolslaai en braaisous. In plaas van koolslaai kan jy dit ook saam avokado en suurroom in ‘n tortilla sit. Eet dit op die meer tradisionele Amerikaanse manier in ‘n broodrolletjie met net die braaisous by.
Die wonderlikste hiervan is dat daar altyd oorbly! Die vleis is heerlik op rys saam met groente, jy kan dit in ‘n pastagereg omskep, dit op tuisgemaakte pizza sit, of in geroosterde broodjies eet.
Beslis iets om te probeer!

Vinnige koolslaai
In plaas daarvan om net mayonnaise by jou kool te sit, kan jy dit effens verander.
Maak ‘n sous aan met 60 ml mayonnaise, 30 ml asyn, 15 ml suiker, 15 ml water en ‘n knippie mosterdpoeier. Voeg ook ‘n paar knypies fyn komyn by. Pas aan na smaak.
Sny ‘n appel in dun skyfies, of rasper dit en voeg ook by die slaai.

Send this to a friend