Diskriminasie maak seer

Oorgewig mense is dikwels aan die verloorkant op sosiale sowel as professionele gebied. Oorgewig kinders word op skool gespot, later in hul lewens maklik in die werksplek gemarginaliseer en sosiaal vermy.

Deur Kristel Loots

Om anders na ’n oorgewig persoon te kyk, word dikwels deur daardie persoon sélf aangehelp omdat die negatiewe assosiasie en diskriminasie aan eie bas gevoel is.

Die verhouding tussen oorgewig en armoede is genuanseerd. In die nie te verre verlede nie is oorgewig met rykdom verbind, want die met meer geld was in staat om meer te eet. In die afgelope paar geslagte, in ontwikkelde lande, is daardie siening egter omgekeer. In die wêreld van vandag is kalorieryke kos geredelik en goedkoop beskikbaar. Die assosiasies is intussen aangepas.

 

Seksisme speel ook ’n rol

Daar word ook met vet mans gespot, maar dis veral teenoor vet vroue wat daar gediskrimineer word. Vandaar ook die baie ‘Yo’ mama’s so fat’-grappies wat wyd op internet en in die volksmond te kry is. Daar word ook gesê ’n man se grootste vrees wanneer hy hom in ’n ‘blinde’-afspraak begewe is dat dit ’n vet vrou mag wees wat op hom wag. (’n Vrou se grootste vrees daarenteen is glo dat sy by ’n reeksmoordenaar mag beland.)

“Ons kultuur het ’n obsessie met gewig,” reken die blogger  Ayushi Mona. Om na ’n vrou as ‘vet’ te verwys, is anders as om na haar as kort of lank te beskryf. Vet is nie net feitelik nie, dit dra swaar aan negatiewe emosie. Wanneer twee vriendinne mekaar weer raakloop, is die gewig wat verloor is – of andersins – dikwels waarna eerste opgelet en verwys word. Dit bepaal dan ook soms die verloop van die res van die vriendskap. Die gewig wat so ’n aanmerking dra moenie onderskat word nie. Daar kan nog melding gemaak word van jou hare wat begin grys word, maar nie die ekstra kilogramme wat jy deesdae met jou saamdra nie. Want jou belewenis daarvan is om in die oë van die spreker dadelik gedemoveer te word en op die onderste sport as ’n vet vrou – en dus as minderwaardig – geklassifiseer te word.

 

’n Feministiese siening

Jenny Bruso, ’n selferkende feminis, is behoorlik keelvol daarvoor dat oorgewig mense uitgesonder word as sondebokke na wie daar maar klippe gegooi kan word. Sy skryf die teenkanting teen veral lywige vroue aan die patriargale stelsel toe. “Dis omdat die meeste mans bedreig voel deur ’n vet vrou,” verklaar sy. “’n Vrou is veronderstel om in ’n hoekie te pas waar sy nie te veel ruimte sal inneem, haar stem te duidelik sal laat hoor of te veel amok maak nie.”

Sy raak veral moeilik omdat hierdie diskriminasie hoofsaaklik nog ’n gender-kwessie is. Vet vroue kry spotname soos ‘Walvis” of “Koei” sonder die geringste gewetenswroeging oor die skade wat dit aan ’n selfbeeld kan doen wat op sy beste dalk nie te gesond is nie. Dis veral tienermeisies en jong skoolverlaters wat swaar onder hierdie treitering gebuk gaan.

“Ja,” sê Jenny, “vroue kán met mans meeding, maar net as hulle met perfekte lywe onder hul korporatiewe kantoorklere spog.”

Of altans dis wat die samelewing ons wil laat glo.

Send this to a friend