Vrae oor borskanker

Dr Justus Apffelstaedt antwoord ’n paar vrae wat vrouens dikwels oor borskanker het.

Deur CHRISTA SWANEPOEL

Dr Justus Apffelstaedt, spesialischirurg met ‘n belangstelling in bors-, skildklier- en byskildkliergesondheid, sowel as sagteweefsel-onkologie. Hy antwoord ’n paar vrae oor borskanker.

1. Waarom moet ek elke jaar ’n mammogram laat doen?

’n Mammogram is die beste manier om borskanker betyds op te spoor. Vroeë opsporing verhoog jou kanse op oorlewing en verminder jou kanse om ’n mastektomie as deel van die behandeling te ondergaan.

2. Waarom is ’n kliniese ondersoek, ’n mammogram én ‘n sonar nodig?

Daar is skaars vorms van borskanker (byvoorbeeld inflammatoriese borskanker en Paget-siekte van die tepel) wat slegs met ’n kliniese ondersoek gediagnoseer kan word en gewoonlik nie met ’n mammogram of sonar raakgesien kan word nie. Sowat 5–10% van borskankers kan net op ’n mammogram gesien word wat weer nie met ’n sonar opgetel kan word nie en 5–10% word weer nie in ’n mammogram waargeneem nie omdat dit soos die normale borsweefsel lyk, maar dit kan wel met ’n sonar opgemerk word. As jy al drie met ’n ondersoek ondergaan, is die kanse beter om kanker te diagnoseer sou dit teenwoordig wees.

3. Hoe verskil ’n borssonar van ’n gewone sonar?

Met ’n borssonar word die sondeerder teen konstante spoed oor die bors beweeg en die beelde word konstant gemonitor. Die beelde kan dan later driedimensioneel gerekonstrueer word om na die bors as geheel te kyk. Dit kan veral klein letsels opspoor, veral in borste met digte weefsel.

4. Wat veroorsaak borskanker?

Die presiese oorsaak van kanker word steeds nagevors, maar sekere faktore kan jou risiko verhoog om borskanker te kry. n Ouderdom (ouer) n As jy ’n vrou is (mans kry ook borskanker) n Jou ouderdom met jou eerste kind se geboorte (ouer) n Die ouderdom waarop jy jou eerste maandstonde gehad het (jonger) n Alkoholverbruik n Asjkenasi-Joodse oorsprongLiggaamsgewig (swaarder) n Die BRCA1- of BRCA2-geenmutasie n Familiegeskiedenis van borskanker n Borsdigtheid n Hiperplasie (’n goedaardige borstoestand) n Lobvormige karsinoom op die plek n Menopousale hormoonterapie n Persoonlike geskiedenis van kanker n Blootstelling aan bestraling deur mediese prosedures n Bestraling in jou kinderdae

5. Wanneer is dit nodig om genetiese toetse vir borskanker te laat doen?

Oorweeg dit in die volgende gevalle. 1 Een of meer vroue in jou familie is voor die ouderdom van 45 met borskanker gediagnoseer. 2 As daar ’n familiegeskiedenis van kanker is, soos prostaatkanker, melanoom en pankreaskanker. 3 As daar bors- en baarmoederkanker in ’n paar geslagte van dieselfde kant van die familie is. 4 As ’n vrouefamilielid ’n tweede keer met borskanker in dieselfde of die ander bors gediagnoseer word of bors- en eierstokkanker het. 5 As ’n manlike familielid met borskanker gediagnoseer is. 6 As daar ’n geskiedenis van borsen/ of eierstok-, pankreas- of manlike borskanker in ’n familie met Asjkenasi- Joodse voorgeslagte is.

6. Wanneer moet jy MRB (magnetieseresonansbeelding) laat doen?

As jy ’n hoë genetiese risiko het om borskanker te kry of ’n draer van die BRCA-gene is, word ’n MRB vir een keer per jaar aanbeveel.

7. Kan ’n mammogram borskanker veroorsaak?

Nee. Langer as 40 jaar al het miljoene vroue ’n mammogram ondergaan. Net soos met radiografie behels dit blootstelling aan X-strale, maar die vlakke is baie laag. Die tegnologie het ook baie verbeter oor die laaste jare sodat dit die laagste dosis moontlik gebruik. Baie vroue wonder ook of die platdruk van die bors kanker kan veroorsaak. Die antwoord is “nee”. Hoekom dit gedoen moet word, is om die bors so wyd as moontlik uit te sprei om al die strukture te sien en hoe platter die bors, hoe minder die dosis X-strale.

8. Die antwoord op die onderstaande vrae is almal NEE

  • Kan sweetweerders borskanker veroorsaak?
  • Kan ’n bra met draad onder die bors borskanker veroorsaak?
  • Kan die gebruik van ’n selfoon borskanker veroorsaak?
  • Kan die gebruik van ’n mikrogolfoond borskanker veroorsaak?

9. Is mammogramme pynlik?

Al word die bors platgedruk, ervaar die meeste vroue nie pyn nie. Vroue met sensitiewe borste kan ongemak ervaar. Dis belangrik om te ontspan, want as die pektorale spiere agter die bors ontspanne is, sal dit die mammogram vergemaklik.

10. Watter tyd van die maand is vir my die beste om ’n mammogram te ondergaan?

Dit word aanbeveel dat jy ’n mammogram ’n week ná menstruasie ondergaan, wanneer jou borste die minste sensitief is. Jy kan twee tot vier weke voor die mammogram ook nagkersolie aansmeer as jou borste sensitief is.

11. Hoekom is my borste seer selfs as daar geen abnormaliteite is nie?

Pynlike borste is gewoonlik aan hormone toe te skryf. Gedurende die menstruele siklus word die borste vir swangerskap en uiteindelik borsvoeding voorberei net soos wat die baarmoeder voorberei word. Die hoeveelheid vloeistof wat normaalweg in die bors is, vermeerder in volume en die melkkliere en buisies swel op tot met menstruasie en as die hormone verander, word die vloeistof geabsorbeer. Borsweefsel is nie staties nie en soos ons ouer word, word die borsweefsel met vetweefsel vervang. Dit begin rondom 40 jaar, maar wissel van vrou tot vrou. Dit veroorsaak ’n mate van vloeistofwanbalans in die bors wat weer die borste teer kan maak. Dit word involusie genoem.

12. Ek wil graag kosmetiese borschirurgie hê. Moet ek eers ’n borsondersoek laat doen?

Dit word aanbeveel dat jy vir ’n borskankerondersoek gaan voor jy ’n kosmetiese operasie laat doen. Enige chirurgie van die borste sal toekomstige borsondersoeke kompliseer en dalk kan ’n bestaande kanker misgekyk word.

13. Ek het ’n borsprostese. Kan ek steeds ’n mammogram kry?

Ja. Borsvergroting beteken nie vermeerdering van klierweefsel nie. Laat net die persoon wat die mammogram doen, weet dat jy ’n prostese het sodat sy dit in ag kan neem om die volledige borsweefsel te vertoon.

14. Kan ’n borsbesering borskanker veroorsaak?

Borste kan beserings goed weerstaan en ’n besering van die bors kan nie borskanker veroorsaak nie. Erge trauma kan vet-nekrose veroorsaak wanneer weefsel doodgaan. Dit voel soos ’n knop en kan verkeerdelik met ’n mammogram as kanker gesien word. Vet-nekrose is nie ’n vorm van kanker nie en kan ook nie in kanker ontwikkel nie.

15. Na watter tekens moet ek oplet?

  • Enige grootte knoppe of verdikking van die borsweefsel en oksel
  • Enige verandering van die vel van die bors, die areola of tepel
  • Veranderinge in die vorm van die bors of aanhoudende ongemak
  • Afskeiding uit die tepel wat nie met swangerskap en borsvoeding verband hou nie  

Help GHD om ’n verskil te maak!

Om 15 jaar se ondersteuning van borskankerliefdadigheidsorganisasies te vier, werk die maatskappy ghd saam met die bekende Amerikaanse tatoeëerkunstenaar, David Allen, om ‘n oorspronklike ontwerp te skep wat gegrond is op sy bekroonde werk om mastektomieletsels te verbloem.

GHD het Grace Lombardo, ‘n ware heldin, gekies om bewusmaking te skep vir hul samewerking met David (van Chicago). Grace, ‘n ma van drie, is in 2016 op die ouderdom van 35 met borskanker gediagnoseer. Sy het ‘n dubbelmastektomie en rekonstruksie ondergaan en in 2017 het sy David Allen van Chicago vertrou om haar letsels te verbloem. Só kon sy weer van die beheer wat kanker van haar geneem het, terugneem. Grace deel haar storie ter bewusmaking van ander vroue wat ook deur die trauma van borskanker gaan.

GHD span juis saam met David kragte saam vir hul 15de herdenking van hul pienk-veldtog. Die maatskappy het tot dusver daarin geslaag om meer as R270 miljoen vir borskankerliefdadigheidsorganisies in te samel. David maak dit al vir amper ‘n dekade sy missie om vroue te help om hul vroulikheid ná borskanker terug te neem. Met jou ondersteuning, is dit GHD se doel om ‘n verdere R15 miljoen hierdie jaar in te samel met hul nuwe beperkte “ink on pink”-reeks. Vir elke beperkte uitgawe haaryster wat verkoop word, skenk GHD R100 aan PinkDrive. Die aanbevole prys vir die GHD Gold is R2 800 en vir die GHD Platinum+ is R3 400. Jy kan dit in uitgesoekte salonne koop of klik hier om dit aanlyn te koop.

Send this to a friend