Ons het geleer ’n appel ’n dag laat die dokter wag, maar as jy ’n sekere gedeelte van die appel nie eet nie, kry jy nie die voedsaamste gedeelte nie
Hoe eet jy ‘n appel? Sny jy die skil af en dan in netjies wiggies of verorber jy die hele ding? As eersgenoemde die geval is, doen jy dit verkeerd, want jy verloor ‘n hele paar voedsame elemente.
Navorsers aan die Graz-universiteit in Oostenryk het in ‘n studie bevind dat mens eintlik die hele appel moet eet. Stronk inkluis. Appels bevat vesel en flavenoïede sowel as goeie bakterieë en die meeste van hierdie goeie bakterieë word in die stronk (stammetjie en saadjies) gevind.
Volgens die studie wat in die joernaal Frontieres of Microbiology gepubliseer is, bevat ‘n enkele appel ongeveer 100 miljoen bakteriese selletjies en as jy die stronk uitgooi, neem jy net ongeveer 10 miljoen van hierdie kosbare selletjies in.
Die skil is ook glo baie voedsaam. Die studie het voorts bevind dat organiese appels ‘n groter bakteriese diversiteit toon as dié wat gewoonweg gekweek word.
Daar is egter baie mense wat glo dis gevaarlik om vrugte se saadjies of pitjies te eet omdat dit sianied bevat. Hoewel dit tegnies waar is volgens ‘n artikel op www.today.com moet jy egter honderde saadjies inneem voordat dit giftig kan wees.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.