Noodsaaklike veiligheidswenke vir in en om jou huis, sowel as agter die stuur

Reg vir die ysige voorspelling? Jy sal wees met hiérdie handige oorsiglys

Met die SA Weerdiens wat waarsku teen moontlike sneeu in dele van die land later vandeesweek, word Suid-Afrikaners gemaan om proaktiewe stappe te neem om genoegsaam voor te berei vir die ysige winter.

“Die winter hou unieke risiko’s in”, sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Dit is daarom noodsaaklik om seker te maak dat jy bewus is van hierdie risiko’s en deeglik voorbereid is – beide tuis en op die pad.”

 

Virseker bied die volgende noodsaaklike veiligheidswenke vir in en om jou huis, sowel as agter die stuur:

 

Wenke vir tuis:

  • Geute – Gaan alle geute, sowel as jou huis se dak, na vir ‘n opeenhoping van blare, want dié hou nie alleen ‘n brandgevaar in tydens die droeë wintermaande nie, maar veroorsaak ook blokkasies wat groot skade kan veroorsaak wanneer die reëns weer begin.
  • Krake – Gaan alle strukture, veral ondersteuningsstrukture vir dakke en dekke, na vir krake. Wanneer vogtigheid in hierdie krake versamel en in die nagtelike ure vries, sit dit uit en veroorsaak selfs meer skade.
  • Sneeu en ryp – Indien jy in ‘n area woon wat geneig is tot swaar ryp of sneeu, maak seker dat die strukture rondom jou huis die ekstra gewig kan dra en dat jy goed toegerus is om opgehoopte ys en sneeu te verwyder indien nodig. Bring versterkings aan waar nodig.
  • Geyser – Laat jou geyser nagaan om seker te maak dat onderdele soos die element en termostaat werk, dat alle bedrading veilig is en dat daar geen lekplekke is nie. Oorweeg dit om ‘n outomatiese skakelaar en kombers vir jou geyser te kry. Dit spaar nie alleen elektrisiteit nie, maar kan ook help om te voorkom dat die geyser bars as gevolg van uitermatige temperatuurwisseling.
  • Uitklinkskakelaar – Maak seker dat dié skakelaar behoorlik werk. Die druk op jou huis se elektrisiteitstoevoer is hoër in die winter en ‘n foutiewe uitklinkskakelaar kan ‘n groot brandgevaar inhou.
  • Kabels en bedrading – Die somerslaap van wintertoestelle is soms nadelig vir hulle bedrading, so maak seker dat jy dit nagaan vir krake en skeure om ‘n brandgevaar te vermy.
  • Elektriese kombers – Gaan die bedrading van jou kombers na, omdat foutiewe bedrading ‘n skok- en brandgevaar kan inhou. Probeer ook die gewoonte aanleer om die kombers kort voordat jy gaan slaap aan te skakel en weer af te skakel wanneer jy in die bed klim.
  • Skakel af tydens kragonderbrekings – Wanneer daar ‘n kragonderbreking is en jy onseker is of ‘n toestel ‘aan’ is of nie, wees eerder versigtig en skakel die hoofskakelaar af, of ontkoppel die toestel by die muurprop.
  • Brandstowwe – maak seker dat toestelle wat van brandstowwe soos gas in paraffien gebruik maak in ‘n goeie werkende toestand is, en dat die brandstowwe veilig weg van jou huis af geberg word.

 

Voertuigwenke:

  • Ruitveërmotors – As jou motor buite staan, moet jy seker maak dat ruitveërs afgeskakel is voordat jy die enjin afskakel. Die stremming van ys wat op die veërs opbou, kan die ruitveërmotor laat uitbrand wanneer jy jou motor weer aanskakel. Spoel die voorruit en ruitveërs met warm water af voordat jy op ’n koue wintersoggend vertrek. Moet egter nie kokende water gebruik nie, omdat dit die ruit kan laat kraak.
  • Loopvlak – Maak seker dat jou bande genoegsame loopvlak het. Swak onderhoude en verweerde bande is veral in ysige toestande ’n gevaar vir jou en ander motoriste.
  • Druk – Lae temperature kan banddruk verlaag. Banddruk van 2 bar in lente- en somertemperature kan byvoorbeeld maklik tot 1,8 bar daal in die winterkoue. Maak dus dubbel seker dat die bande reg gepomp is.
  • Battery en olie – Enjins vat moeiliker in lae temperature weens laer batterykrag en minder vloeibare olie, so laat jou motorbattery nagaan en ook die olie vervang – met olie wat aan die vervaardiger se spesifikasies voldoen – indien nodig.
  • Koue vat – Hoe laer die temperatuur, hoe stadiger verdamp brandstof en hoe moeiliker ontbrand dit. Indien jou voertuig lanklaas nagesien is, is nou die ideale tyd vir ’n diens. Selfs net ’n nuwe stel vonkproppe kan ’n groot verskil maak.
  • Vriespunt vloeistowwe – Gebruik die regte mengsel van vries-teenmiddel en water om optimum vries- en kookpunt te verseker. ’n Konsentrasie van tussen 40% en 50% (per volume) word deur die AA aanbeveel.
  • Winter wasem – Wasem en ys op ruite is ‘n groot winterrisiko. Maak seker dat jou motor se ontwasemingstoestelle werk en dat die verwarmer reg werk. Pasop egter daarvoor om die verwarmer té warm te stel, omdat dit tot lomerigheid kan lei.
  • Barsies moet gaan bars – Klein barsies in die voorruit kan in groot krake ontaard wanneer die temperatuur baie wissel, veral as vogtigheid dit binnedring. Laat dus jou voertuig se voorruit so gou as moontlik nagaan en herstel
  • Brandstof-slim – Sorg dat die brandstoftenk altyd meer as halfvol is. As jy in die winter gestrand raak, sal die motorenjin jou enigste bron van hitte wees.
  • Glans – Winterglans, waar bestuurders tydelik verblind word deur die son, dra by tot duisende ongelukke wêreldwyd. In die wintermaande is die son naby die horison tydens oggend- en middag spitstyd en bied voertuie se sonskerms min of geen beskerming. Dra ‘n goeie sonbril en verminder spoed wanneer daar beperkte sigbaarheid is.

 

“Selfs wanneer al hierdie dinge na omgesien is, is daar ‘n kans dat die onvoorsiene sal gebeur. Maak seker dat jy altyd ‘n noodplan in plek en noodnommers byderhand het, en dat jy voldoende verseker is”, sluit Twilley af.

Besoek www.virseker.co.za

Bron: Virseker

Winter

Send this to a friend