Escargot-voorgereg met drie kase

Escargot-voorgereg met drie kase

LieSl Marx is ’n veelsydige kunstenaar wat nie net as vervaardiger, dramaturg en sangeres uitblink nie, maar ook ’n opnamekunstenaar en regisseur is. Sy deel haar resep vir ‘n Escargot-voorgereg met drie kase.

LieSl is altyd met kreatiewe projekte doenig, maar as sy die kans kry, is sy in die kombuis. “Ek’s mal oor kook, om nuwe resepte te probeer, my eie resepte te skryf, in die kombuis te eksperimenteer en gaste te bederf. Ek weet nie of ek so ’n goeie skoonmaker ná die tyd is nie …” Haar gunstelingbestanddele is komyn, room, vars basiliekruidblare, kaneel, roosmaryn, knoffel, granate en vanielje. Sy hou van ’n rogbroodjie met marmelade, skaapribbetjie, Thaise hoenderkerrie, soesji, seekos en crème brûlée. “My ma se melktert, tannie Baby se skons, groen vlaskywe en gesmelte kaas-en-piesang-broodjies vat my na my kinderdae terug,” deel sy. Sy bewonder die sjef James Martin. “Hy kies nie allerhande vreemde bestanddele wat jy net by duur deli’s kan koop nie en hy probeer nie uitheems wees nie.”

 

Escargot-voorgereg met drie kase

6 porsies

 

400 g (2 x 200 g-blikkies) escargotslakkein pekelwater (Goldcrest)

125 g (¼ blok) botter

7 vars knoffelhuisies, grofgekap

30 ml (2 e) vars suurlemoensap

5 ml (1 t) sout

30 ml (2 e) koekmeel

250 ml (1 k) room

30 g bloukaas, gekrummel

50 g cheddarkaas, gerasper

knypie droë origanum

swartpeper na smaak

hand vol pietersielie, vars gekap

10 g parmesaankaas

 

  1. Dreineer escargots in vergiettes en spoel herhaaldelik onder lopende water af. Haal 32 escargots uit om te gebruik. Hou eers eenkant.
  2. Smelt botter in kastrol en soteer knoffel tot sag.
  3. Voeg suurlemoensap en escargots by en roer stadig oor lae hitte.
  4. Roer sout by escargotmengsel.
  5. Roer koekmeel en bietjie van room tot pasta vorm. Voeg nog room by en roer weer tot glad. Voeg oorblywende room by en roer dan by escargotmengel in kastrol.
  6. Kook oor matige hitte vir 5 minute, roer gereeld.
  7. Gooi bloukaas en cheddarkaas by en laat sous prut.
  8. Voeg origanum, swartpeper en pietersielie by na smaak.
  9. Sit escargots warm in escargotbakkies voor.
  10. Sny dun skyfies parmesaankaas oor en sprinkel gekapte pietersielie bo-oor.
  11. Sit saam met vars broodjies voor om die sous mee te geniet.

 

voorgereg

Send this to a friend