12 vrae aan Desiré Gardner

desire gardner

12 vrae aan Desiré Gardner, wat die rol van Carmen Foure in Suidooster speel

 

Jy verander gereeld jou haarkleur en lengte en styl, hoekom?

Al my veranderinge was maar vir die rolle wat ek speel. Daleen het deur baie trauma gegaan en toe haar haarkleur en styl heeltemal verander. Sy’t toe uiteindelik ook haarself effe “laat gaan” na die einde toe as gevolg van stres en uitputting. Toe kom die wit hare van Carmen en nou is my hare kort en meer natuurlik, soos wat Carmen ook in ’n nuwe hoofstuk in haar lewe betree. Ek is maar bly, want ek is nie regtig impulsief nie en sou waarskynlik nou nog met dieselfde snit en kleur gesit het as dit nie vir my rolle was nie.

 

Waarvan droom jy?

Dat ek my kinders so kan grootmaak dat hulle, hul lewens sal uitleef op ’n manier wat hulle diepste drome en verwagtinge sal oorskry. Dat hulle sal gelukkig wees en sal kan lag oor hulle foute en leer uit die mislukkings van die lewe. Ek droom ook dat ek sal wees waar ek moet wees. Waar ek veronderstel is om te gaan en dat ek dit sal doen met dankbaarheid en vrede in my binneste.

 

Na watter aktrises kyk jy op?

Marion Holm, Sandra Prinsloo, Esther von Waltsleben onder andere.

Saam met watter regisseurs wil jy graag werk?

O, daar’s so baie. Om net n paar te noem: André Velts, Quinton Krog, Christiaan Olwagen, Sylvaine Strike, Brett Michael Innis.

 

Wie het jou jou beste raad gegee en wat was dit?

My liefste ma, Desiré Monthey, het my geleer om te lag. En sy en my pa, Mike, het my geleer om te glo en om ’n verhouding met God te hê. Met lag en geloof, kan jy enige ding deurmaak!

 

Wat is huis en wat beteken dit vir jou?

Ons huis is in Philadelphia. Dis ’n lekker ruim huis vir ons, die kinders en ons dierkinders daarby. Maar die term ‘huis’ bly nog – selfs al is ek nou self Ma – by my ouerhuis. Wanneer ek en my spulletjie by my ouers, sussies (en hul gesinne) en boetie (en sy gesin) is. Dit sal maar altyd my huis en tuiste bly.

 

As ek jou beste vriendin sou vra, wat sou sy sê is jou mooiste eienskap?

Seker die feit dat ek hard werk. Ek is so ’n bietjie van ’n werkolis. Ek sê nie sommer (indien ooit) nee vir werk nie.

 

Wat het mawees aan jou en dus jou toneelspel verander?

Dit het my geleer om meer as een ding gelyktydig te doen – as jy ’n kind met een hand bad, terwyl jy met die ander hand jou teks omblaai en woorde leer weet jy, min dinge gaan jou van stryk bring. Jy leer ook om jou tyd meer slim te bestuur, want jy weet elke oomblik wat jy het, moet jy jou eende in ’n ry kry. Ek dink die kinders het my ook bietjie laat grootword en tog met tye ook weer laat voel soos ’n kind. Hulle het my hele siening oor die lewe en myself verander.

 

Wat is die mooiste eienskap van Chris wat jou na hom aangetrek het?

Behalwe vir sy pragtige oë en hande, dink ek dis hoe hy alles sal doen om vir sy gesin te sorg. Hy werk ongelooflik hard en is een van die mees professionele mense met wie ek al ooit gewerk het.

 

Waar lê jou liefde – teater, film, sepie en hoekom?

My liefde lê opgedeel in al daai plekke en sommer ’n bietjie in skryfwerk en in my subtitel-werk ook. Ek geniet die genres regtig ewe veel. Elkeen het sy uitdagings. Maar vir my is dit onmoontlik om te kies, want uiteindelik voer elke medium my liefde vir toneelspeel op ’n ander manier.

 

Sal jy meer teater wil ontgin?

Absoluut. Die dissipline en speelfiksheid asook stem en liggaamsgebruik en fokus op die verhoog, help my om te groei as akteur. Die hoeveelheid mooi stories wat ook nog vertel moet word, is baie opwindend.

As die jongste van vyf kinders was jy die kreatiewe een, wat was vir jou lekker aan ’n groot gesin en wil jy ook ’n groot gesin hê?

Ons is nogal ’n kreatiewe gesin, maar net elkeen op sy eie manier. My ousus is byvoorbeeld ongelooflik kreatief met woorde en kan ’n situasie verduidelik en storie vertel soos geen ander mens nie. Tussen my sussies en boeta is daar ’n ingeneur, arbeidsterapeut, sielkundige en prokureur/lektor. Maar elkeen is op sy/haar manier kreatief – al is dit nie noodwendig konvensioneel of alledaags nie.

Ek dink ons gesin is nou voltallig. Al is daar niks so lekker soos ’n groot gesin bymekaar nie, is dit in vandag se dae net nie altyd moontlik om ’n groot gesin finansieel te ondersteun nie. Ons tyd is ook so min en ons lewens só gejaagd dat ek nie weet hoe kry mens one-on-one-tyd met vyf kinders nie (ek haal my hoed af vir my ouers). Gelukkig is my familie baie naby aan mekaar so die niggies en nefies vul ook op ’n manier die ander rolle. Wat vir my lekker is van ’n groot gesin, is hoe soveel verskillende persoonlikhede uit een gesin kan kom. Ook uit een huis is daar soveel mense met soveel verskillende idees. Dis wonderlik. Ek’t so baie al geleer by my sibbe en dis vir my lekker dat al my ouer sussies en my boeta gehelp het om ook die baba in die gesin groot te maak.

Jy het ’n Safta vir jou rol as Erika in Roepman gekry. Hoe voel dit om dié toekenning te kry en wat dink jy het die beoordelaars beïndruk?

Dit was ’n ongelooflike voorreg. En ’n ongelooflike leerproses. Ek was mal oor die karakter en het die hele filmproses baie geniet. Ek het werklik nie verwag om die toekenning te kry nie en toe hulle my naam uitlees, het ek amper oor my rok geval op pad verhoog toe. Om erkenning vir jou werk te kry, is ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Dis so wonderlik as mense raaksien wat jy wou hê hulle moes in die karakter sien. Ek weet nie regtig wat die beoordelaars beïndruk het nie, maar ek glo hulle kon waarskynlik net sien dat ek die waarheid van die kind in die oomblik wou uitbeeld. En as dit is wat hulle kon optel, is ek baie bly!

Send this to a friend