5 vrae aan Deon Maas

Vyf vrae aan Deon Maas, skrywer van Witboy in Berlyn, wat pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn het:

Jy erken jy was vir baie jare kwaad. Waaroor was jy al daardie jare so kwaad?

Ek was nie kwaad nie, ek was geïrriteerd.

Hoe kry jy dit reg om nou minder kwaad te wees?

As jy kwaad bly, is dit ’n teken dat jy nie as mens ontwikkel nie. Suid-Afrikaners bly in ’n land met baie spanning; baie wat ek destyds gesê het was ’n refleksie op my direkte omgewing. Nou het my direkte omgewing drasties verander, so as ek gaan probeer om kwaad te wees daar, gaan dit nie wie ek is, reflekteer nie. My skryfwerk is altyd baie eerlik. Ook wat ek sê. Jy weet presies waar jy met my staan. Maar alles was goed nagevors, ek sit dinge in perspektief. Teen die tyd wat ek iets sê, is daai dinge al om ons kombuistafel uitgetrek en enige sagte punt is deur Veda in my ingehamer. Ek doen my navorsing; ek het ’n breë algemene kennis; ek sit dinge in konteks. Maar nou is daardie verwagtinge van my af; ek kan vryer dink.

Jy is al ’n anargis, gifappel en moeilikheidmaker genoem. Hoe voel jy oor sulke etikette?

Dit was nooit intensioneel nie, maar al drie daardie beskrywings is waar. Maar ek het nooit gaan sit en gedink “wat kan ek sê om iemand af te p*s nie”. Elke ding wat ek gesê het; elke ding wat ek geskryf het, glo ek in en kan ek min of meer bewys.

Watter wenke het jy vir ander mense wat oorsee gaan werk en woon?

Dra los broeke dat alles kan loshang, dat jy kan vry wees! Op ’n ernstiger noot, ek dink jy gaan jou vermoë om konstant op jou voete te dink, die meeste inspan. Elkeen se ervaring van ’n lewe oorsee is anders, maar omdat Suid-Afrikaners van nature probleem-oplossers is, is dit ook ons grootste redding.

Is jy bang dat terwyl jy nou voltyds kan skryf, die leespubliek kwyn en daar dalk binnekort nie boeklesers gaan wees nie?

Die interessante ding vir my is dat uitgewers kla daar is nie meer jong lesers nie, maar hulle het obviously nog nie gesien wat gaan by my boek-launches aan nie. Die gemiddelde ouderdom by my boeklaunches is in hul laat-twintigerjare. Daar is dus ’n hele nuwe geslag wat belangstel in wat ek te sê het. Hulle kan daarmee assosieer. Ek is hul ouers se ouderdom, maar ek sê wat hulle wil hoor en nie wat hul ouers wil hoor nie. Onder die Afrikaner is dit nog altyd gelos vir een of twee dissident stemme van ’n generasie – ’n Breyten Breytenbach, ’n Beyers Naude – om ’n idee daar te sit waarmee baie mense saamstem, maar niemand het die balls om dit te sê nie. Ek gaan nooit vermetel genoeg wees om myself met daai twee mense te vergelyk nie, ek dink net ek is deel van ’n heel nuwe generasie wat nuwe mediaplatforms gesien het waarop nuwe opinies uitgespreek kan word.

Send this to a friend