6 vrae aan Nataniël en sy broer Erik le Roux

Maryke Roberts gesels in die uitgawe van 22 Februarie 2019 met Nataniël en sy broer Erik le Roux oor hul Nantes-kookreeks en –boek en ander kosdinge.

Vrouekeur se 22 Februarie 2019-uitgawe

Hier beantwoord die twee broers nog vrae:

Was dit hartseer om ná vier jaar totsiens te sê vir die program?

Nataniël: ’n Klein bietjie, maar ek is baie weke per jaar in Nantes, so dit was nie ’n vreeslike afskeid nie. Ek sit op hierdie oomblik in Nantes en kyk na die reën!
Erik: Dit was hartseer om die span te groet, ons was net sewe mense en elke oomblik was pret. Nietemin, om ’n ding holrug te ry, hou niks goeds in nie, so dit was tyd om die reeks te groet.

Het jy jou eie groente- en kruietuin?

Nataniël: Nee, ek bly in ’n woud, daar is geen son nie!
Erik: Nee, enigiemand wat dit wel het, sal vir jou sê dit vat net soveel tyd en energie as om kinders groot te maak, gevolglik is dit nie tans moontlik nie. Eendag op my oudag beslis.

Erik, hoe lank is jy al in Frankryk en hoe het jou kookstyl verander sedert jy daar woon?

Nantes is al 15 jaar my tuiste. Die resepte van die kookreeks is gekies en aangepas om TV-vriendelik te wees rondom ’n spesifieke tema vir elke episode. Frankryk het fantastiese vars produkte, gevolglik, in my daaglikse lewe, bly ek so na aan moontlik aan bestanddele se natuurlike stand en eet so rou as moontlik. Ek kook gereeld seekos, hier is ’n vreeslike verskeidenheid vis.

Waarvan het jy altyd die meeste in jou koskas?

Nataniël: Druiwepitolie, suurlemoene, amandelmeel, donkersjokolade, vars pietersielie, Brie, vars spinasie en organiese eiers.
Erik: Baie bottels olyfolie, pasta, tamaties en kekerertjies.

Waar kom die resepte vandaan wat jy elke dag gebruik?

Nataniël: Uit my verlede, ek onthou alles wat Ouma of Topsi Venter of my sjefsvriende gemaak het en waarna ek verlang. Ek kook nooit uit ’n boek nie, dis te veel moeite. Ek moet erken ek het die weelde van ’n privaat sjef wat my lewe makliker en opwindender maak!
Erik: My gesin en ek eet na gelang van die seisoen. My twee jong kinders se smaak ontwikkel nog, so mens pas daarby aan, min sout, min peper en min kruie byvoorbeeld. Ek volg nooit volbloedresepte nie, dit verander elke keer na gelang van wat in die spens en yskas is.

Wat het dit vir jou beteken om uiteindelik in Blois aan te kom? Was dit soos ’n tuiskoms?

Nataniël: Ek was so mal oor die sneeu, ek moes eers later oor die tuiskoms dink! Blois is een van die mooiste plekke wat ek nog gesien het, die lyk asof Walt Disney dit geteken het!
Erik: Ja dit was inderdaad ’n ervaring. Vir my persoonlik en weens die feit dat ek in Frankryk woon, is dit ’n kringloop wat voltooi is. Ongeveer 350 jaar gelede het my voorvaders Blois verlaat en vanaf Nantes na Suid-Afrika vertrek. Nou is ek terug en ek voel tuis.

Send this to a friend