Wynmaker: Henry Conradie | Vrouekeur

Wynmaker: Henry Conradie

Henry-Conradie-web

 Henry Conradie is die afgelope twee jaar die wynmaker by Arabella Wines buite Robertson

Deur MARYKE ROBERTS

Foto verskaf

Hy is as die wenner van die “Discovery of the Show”-trofee by die onlangse Old Mutual Trophy-wynskou 2018 aangewys wat by ’n spoggeleentheid by die Belmond Mount Nelson Hotel in Kaapstad aangewys is.

Sy vrou, Danelle, is ’n wynmaker by Van Loveren. Hy vertel dat sy al diep spore in die bedryf getrap het en vele toekennings gedurende haar loopbaan verower het. Hy bewonder haar vir haar vermoë om ten spyte van die vereistes van so ’n veeleisende beroep, nog steeds ’n ma duisend te wees vir hul kinders van 2 en 5 jaar.

Ongeveer 70% van die landgoed se wyn word veral na die VK uitgevoer. Die mediumgrootte wynreeks met die meeste van die edelkultivars sluit onder meer sauvignon blanc, chardonnay, chenin blanc en viognier as witwyne en cabernet sauvignon, pinotage, merlot en shiraz as rooiwyne in. Daar is ook ’n rosé van grenache en ’n brut-vonkelwyn.

Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?

Om te sorg dat jy genoeg wyn het om te hou tot 2019! Met die droogte is oeste baie skraal en baie kelders het te min wyn om hul handelsmerke tot die volgende seisoen te diens.

Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?

My bynaam op Elsenburg Landboukollege was Flem. Daar is mense wat my tot vandag toe nog dit noem. Ek is nie seker wat die rede was daarvoor nie, dit het seker net lekker op die oor geval!

Hoe voel dit om by die Old Mutual Trophy-skou beloon te word?

Dit is definitief ’n hoogtepunt in my loopbaan sover dit toekennings aanbetref. Die standaard van beoordeling by die OMTWS is baie hoog en goue medaljes word nie net lukraak uitgedeel nie. Om ’n goud én ’n trofee te kan verower by so ’n topkompetisie vir ’n wyn wat R50 per bottel kos, gee my baie bevrediging.

Hoe voel jy in die algemeen oor kompetisies en toekennings?

Dit bly die enigste manier vir die meeste wynkelders om hul kwaliteit teen ander kelders in die bedryf te kan meet. Daar is ook bemarkingswaarde, veral vir ’n kelder soos Arabella wat in baie supermarkte verkoop word en wat as ’n handelsmerk gesien word wat goeie waarde vir geld bied. ’n Paar toekennings gee die verbruiker die gerusstelling dat hy/sy ’n bogemiddelde wyn teen ´n sakpasprys koop.

Hoe het jou belangstelling in wyn begin?

Ek het nog altyd ‘n belangstelling in wetenskap en kuns gehad. Wynmaak is een beroep waarin ‘n mens beide hierdie velde bymekaar kan bring om iets te produseer wat genot verskaf. Hierdie aspekte het my tot die beroep aangetrek.

LEES OOK: Wynmaker Ilse Schutte

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?

Ek het direk na my studies gaan werk as assistent-wynmaker by Langverwacht Koöperatiewe  Kelder in die Bonnievale-omgewing. Dit was ’n baie leersame ondervinding. So, ek het van onder af begin, die regte manier glo ek!

Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?

Ek is al amper twee jaar by Arabella Wines en het al twee parsseisoene voltooi. Ek was vantevore vir 10 jaar die wynmaker by Goedverwacht Wynlandgoed. Toe die pos by Arabella beskikbaar word, het ek gedink dis ’n opwindende loopbaangeleentheid en ek kon ook in die Robertson-omgewing bly.

Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?

Ek geniet die fisiese wynmaakproses baie en dit bly my elke jaar fassineer. Ek geniet dit om te kan rondbeweeg tussen die kelder, wingerde en kantoor. Die admin-gedeelte en kantoor-aspek is nie my gunsteling-deel van die beroep nie, maar dit kan ongelukkig nie agterweë gelaat word nie.

Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?

Op hierdie stadium geniet ek die Pink Panacea (grenache rosé) baie. Die wyn is heerlik op ’n warm somersdag en pas ook mooi by baie verskillende tipes geregte.

Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?

Ons vlagskip is in my opinie die cabernet sauvignon. Ons sauvignon blanc begin ook egter nou groot aanhang geniet en ons voorsien dat die verkope van hierdie wyn baie gaan styg.

Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?

Enigeen as ek te veel daarvan gedrink het! Nee op ’n ernstige noot, seker merlot. Dis baie moeilik om ’n uitstekende merlot te produseer. Om die regte balans tussen die vrug en die hout te verkry en groen geure te vermy, is ’n groot uitdaging.

LEES OOK: Wynmakers: Kobus Gerber

Watter kultivar stem die beste ooreen/beskryf jou persoonlikheid die beste?

Soos ‘n goeie cab sauv verbeter ek hopelik met ouderdom!

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het wat jy nie verwag het nie?

Ek het geleer hoe om met spanners en skroewdraaiers te werk!

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?

Ek hou nie van onnodige stappe in die proses nie en om wyn uit ’n pakkie te maak nie. Die druiwe wat ek ontvang, is van hoogstaande gehalte en dan hoef ’n mens nie te veel te timmer nie. Ek sorg dat die chemie van ’n wyn so vroeg moontlik reggestel word en dan val die ander aspekte van ’n wyn  in plek, mits die druiwe gesond was. Dit is dus ’n taamlike hande-af benadering.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?

Ek is groot aanhanger van weisser riesling. Ek weet dit is onwaarskynlik in warmer wyngebiede soos Robertson, maar ek sou graag eendag ’n lekker riesling wou maak, omdat ek dit so geniet om dit te drink.

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?

Die Old Mutual-toekenning is definitief een van my grootste oorwinnings, maar ek dink dit was om die 2018-parsseisoen te oorleef. Dit was my langste pars ooit en ’n mens raak nie jonger nie!

Het jy al ’n toekenning ontvang wat jou regtig aangedaan gehad het?

Die 2016 Goedverwacht Sauv Blanc het ’n dubbelgoud by Veritas verower. Dit was net ’n maand nadat ek bedank het en ek kon dus nie self die toekenning gaan haal nie. Dit was dus bittersoet, maar ek sien dit as dalk my grootste prestasie. Om ’n dubbelgoud Veritas Sauvignon blanc te kon produseer in ’n “warm besproeiingsgebied” soos Robertson, is iets wat my altyd sal bybly.

As jy nie wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?

Musikant.

Wie inspireer jou?

Ek kyk op na enige wynmaker wat aan die einde van sy loopbaan kan sê dat elke liter wyn wat hy gemaak het, bemarkbaar en verkoopbaar was.

 

Send this to a friend