Kuns: Henry Moore

0706-vk1-moore-web

‘Dié beeld was miskien die eerste een waarin ruimte en vorm volledig van mekaar afhanklik was – en geheel en al onskeidbaar’

Deur JOHAN MYBURG

Op 50-jarige ouderdom het Henry Moore reeds as die vernaamste beeldhouer van sy era in Brittanje bekendgestaan. Hy het daardie jaar die beeldhouprys op die 1948 Venesiese Biënnale gekry en die volgende jaar opdrag gekry om ’n beeld vir die Festival of Britain van 1951 te maak. Slegs ’n paar jaar ná die verwoestende Tweede Wêreldoorlog was die oogmerk met dié fees om Brittanje se tegnologiese en kulturele vernuf te vertoon. Aanvanklik het die Britse kunsteraad wat Moore (1898–1986) die opdrag gegee het, ’n beeldegroep in gedagte gehad.

Met die titel Discovery, wat met die tema van die fees sou strook, het hulle op ’n beeld van ’n gesin gehoop. Moore het egter op ’n lêende figuur besluit, getiteld Reclining Figure: Festival. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Moore tekeninge van die mense gemaak wat in die Londense moltreinstasies geslaap het om bomaanvalle vry te spring. Dié tekeninge het heelwat daartoe bygedra om Moore se reputasie wêreldwyd te vestig, maar terselfdertyd ’n ryk bron geword waaruit hy later vir sy beeldhouwerk geput het. Daar was mense wat gemeen het dié hol en skeletterige beeld is darem nie geskik vir ’n feesjaar nie en dat dit eerder die lyding van die oorlog weer voor die oog roep. Dit mag so wees, maar wat Moore nié gedoen het nie, is om ’n vereenvoudigde optimisme voor te hou wat die luim van die fees weerspieël het.

LEES OOK: Kuns: Sol LeWitt

Die kritikus Richard Cork het jare later geskryf Moore “refused to concoct a sculptural placebo for the entertainment of the crowd”. Wat talle mense in dié vrouefiguur gelees het, was die veerkragtigheid van die mensdom, en daarmee saam die gedagte van die vrou as moeder. Op ’n tegniese vlak was dié beeld die kulminasie van al sy vooroorlogse ondersoeke na ruimte en vorm. Oor dié werk het Moore self opgemerk: “Dit was miskien die eerste beeld waarin ruimte en vorm volledig van mekaar afhanklik was – en geheel en al onskeidbaar. Dit is volledige driedimensionaliteit wat ek nou in gedagte het. In my vroeëre gebruik van gate in beelde was die gate op sigself belangrik.

Nou is ruimte en vorm só verenig dat dit een geword het.” Hoe ’n mens ook al na Moore se beeldhouwerke kyk, is dit die natuurlike vorm wat telkens opval: klip, been, skulp en selfs bergformasies. “Beeldhouwerk het iets van die energie en krag van groot berge,” het hy volgehou. Maar saam met die waardering vir die natuurlike vorm, was dit die menslike lyf wat Moore se aandag geboei het. Inspirasie het hy vroeg in sy loopbaan gekry in die werk van Giotto, Masaccio en Michelangelo.

Maar toe hy in Parys kennis maak met die Chacmool, ’n beeldhouwerk van die Asteke van om en by 900 tot 1000, het dit hom in ’n nuwe rigting gestuur. Hy het meer op gekerfde, enkele figure met die fokus op gewig en vorm begin fokus. Oor die klein koppe wat sy figure dikwels het, het Moore opgemerk: “Die kop is só belangrik dat ek dit dikwels kleiner maak om die res van die lyf meer monumentaal te maak.” Meer as een afgieting van Reclining Figure: Festival is gemaak en in 2012 het een van dié beelde op ’n veiling van Christie’s onder die hamer gekom en ’n rekordprys vir Moore, bykans 25 miljoen Britse pond, gehaal.

Send this to a friend