Ken jou storie: Kulturele toe-eiening

Willie Burger kyk hoe fiksie mens in staat stel om die wêreld uit ander oogpunte te kan ervaar

Een van die funksies van fiksie wat dikwels deur liefhebbers van boeke voorgehou word, is dat fiksie ’n mens in staat stel om die wêreld uit ander oogpunte te kan ervaar, om as ’t ware die bewussyn van ’n ander mens te kan ervaar. Hoewel fiksie ’n mens uit jou eie wêreld in ’n ander wêreld kan intrek, sodat jy ’n ander perspektief “van binne” kan ervaar, is daar ook mense wat beswaar aanteken teen fiksie waarin outeurs ’n wêreld of ervaring wat van hul eie wêreld verskil, uitbeeld. Volgens hierdie besware behoort ’n man byvoorbeeld nie ’n vrou se belewenis uit te beeld nie, of ’n vrou ’n man s’n nie. Ook behoort iemand van Europese afkoms nie ’n Afrikaan se belewenis uit te beeld nie. (Hierdie besware hou natuurlik in dat die wêreldletterkunde nie beroemde romans soos Anna Karenina of Madame Bovary sou kon oplewer nie.)

Die besware dat ’n skrywer nie oor ander mense, veral nie oor mense uit minder bevoorregte omstandighede durf praat nie, gaan van die standpunt uit dat geen mens namens ’n ander mag praat nie, dat elkeen sy/haar “eie storie” moet vertel. Boonop is die beswaar dat iemand wat namens ’n ander “ontmagtigde” persoon praat, self baat daarby vind om die ander persoon se storie te vertel – deur geld te maak met ’n boek of deur as skrywer op grond van ’n ander mens se storie roem te verwerf. Op ’n manier word dit as “diefstal” van iemand anders se storie beskou. Toe Elsa Joubert op grond van lang onderhoude met haar huishulp die roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) geskryf het, was daar kritiek uit sommige oorde dat sy die huishulp uitgebuit het. Volgens hierdie redenasie het Joubert haar eie bevoorregte posisie as wit vrou en gevestigde skrywer misbruik deur haar huishulp se storie te “steel” en ’n suksesvolle roman daaruit te maak, ’n roman wat Joubert se roem as skrywer bevestig het.

Aan die ander kant kan aangevoer word dat sy met die roman eintlik die storie van talle huishulpe se lyding onder apartheid vertel het en sodoende lesers van die effekte van apartheid bewus gemaak het, waaroor hulle nooit nagedink het nie. Die roman het dit moontlik gemaak om apartheid “van die ander kant” te ervaar en dié ervaring het inderdaad skokgolwe deur die Afrikaanse gemeenskap gestuur. Omdat die roman die wêreld van Poppie Nongena egter so oortuigend aangebied het, is die roman ook veel wyer – ook verder in Afrika – met groot lof ontvang.

LEES OOK: Ken jou storie: resensies

Teen hierdie agtergrond is Etienne van Heerden se roman Die wêreld van Charlie Oeng (2017) ook besonder interessant. Aan die een kant sou mens maklik krities kon wees oor Van Heerden se poging om oor ’n Chinees “se wêreld” te skryf. Die kwessie word ook in die roman self geopper wanneer Jenny May byvoorbeeld vir Tian daarvan beskuldig dat hy Hongkong besoek, enkele toeristiese indrukke opdoen wat sy verwagtings van China en Hongkong bevestig, en hom dan verbeel dat hy nou oor ’n Chinees se ervaring van daardie wêreld kan skryf sonder om in stereotipes te verval.

Verder word ook in die roman na die rolprent The World of Suzie Wong verwys en die kritiek wat op hierdie rolprent gevolg het omdat dit nie werklik die Chinese wêreld van “Suzie Wong” uitgebeeld het nie, maar ’n stereotipiese beskouing oor China uitgebeeld het. Hierdie roman is dus nie ’n naïewe verbeel van iemand anders se wêreld nie, maar juis die probleme met en die uitdagings ten opsigte van die belewenis van die wêreld van ’n ander mens word op die voorgrond geplaas. Reeds die titel suggereer dat die belewenis van ’n ander se wêreld sentraal in die roman staan. Uiteindelik word dit onduidelik wie nou eintlik vir hierdie wêreld verantwoordelik is: Is dit ouma Ogies wat alles droom, of is dit Tian Kilian wat die roman skryf, wat alles verbeel?

Uiteindelik stel Etienne van Heerden hiermee juis die probleme van skryf oor ander mense op die voorgrond. Aan die een kant bly dit fiksie se groot bate dat dit ons in staat stel om ander wêrelde te betree, om ander mense se belewenisse in daardie wêrelde te kan ervaar. Die Britse skrywer Ian McEwan het eens geskryf: “Imagining what it is like to be someone other than yourself is at the core of our humanity. It is the essence of compassion and the beginning of morality.” Aan die ander kant kan die uitbeelding van iemand anders en die skep van ’n ander se wêreld ook juis ’n gebrek aan meelewing en moraliteit toon wanneer dit in stereotipes verval, wanneer dit sonder deernis, ter wille van effekte, gedoen word. In Die wêreld van Charlie Oeng kry Van Heerden dit reg om ’n ander mens se wêreld te bedink, terwyl hy ook deurentyd krities oor die skep van hierdie wêreld nadink.

Send this to a friend