7 vrae aan Riana Scheepers

7 vrae aan Riana Scheepers wie se nuutste boek, Stormkind, pas verskyn het

1. Waar kom jou liefde vir stories vertel en veral die verhale om kinders, vandaan?

Miskien van die tyd toe ek as klein dogtertjie in Juba se hut gesit en luister het na die stories wat sy (in Zoeloe) vertel het? Ek weet net dat kinders (tot so vyf, ses jaar) se verbeelding so onmeetlik groot en fassinerend is. Ouer as dit verloor hulle (die meeste) dié onskuld, die wonderwerk van verbeelding.

2. As jy jouself in vyf woorde moet opsom, wat sal dit wees?

Ek hou nie daarvan om myself op te som nie. Om ’n eerlike antwoord te kry, moet jy my man of my seuns vra, en dalk gaan die kwaliteit dalk anders wees as wat ek myself moet beskryf. As ek een woord kan gee, dan is dit dat ek nie bang is nie – ek leef onverskrokke.

Die vyf woorde waarmee ek myself sal beskryf, is onverskrokke, weerloos, lojaal, energiek, nuuskierig. My man sê: waaghalsig, romanties, avontuurlustig, weerloos, skaam. Ja, dit is weersprekend, maar dit is waar.

3. Watter reaksie kry jy van lesers oor jou boek en hoe voel jy oor Dave Pepler se aanmerking dat hierdie boek ’n kultusboek gaan word?

Ek kan nie glo dat ek sulke ongelooflike reaksie van resensente en lesers kry nie. Ek is al deeglik geslaan deur resensente, maar met Stormkind is daar net positiewe reaksie. Miskien omdat dit ’n eenvoudige verhaal met ’n hart is? Dave se reaksie is ’n enorme kompliment.

4. Hoeveel van jou boek is waar en hoeveel is Boesman-gelowe en hoeveel is fabel en maak die persentasies regtig saak?

Alles in die boek is waar.

5. Hoe het jou navorsing begin? Het jy eers opgelees of toe jy die Boesmans in die Tankwa gaan besoek het?

Ek het wyd gelees, veral die Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd-argief, maar ook oor religie en rotskuns, Ierse mitologie, oor steenwerktuie en argeologie, maar terselfdertyd het vir Jana en !’Xhuri as karakters begin bou. Dit was dus ’n organiese proses. Daar is nie Boesmans in die Tankwa nie, net nasate van die Boesmans. My suster het vir die Boesmankinders (wat uit Namibië naby Douglas hervestig is) skoolgehou. Ek weet partykeer nie waar my stories vandaan kom nie – ek bedink hulle maar net!

6. Jy gebruik graag orale verteltradisies in jou boeke. Waar kom jy aan al die stories?

Ek luister na wat mense vertel. Ons is ’n nasie van begeesterde storievertellers, ons, wit en bruin en swart. Ek luister na hulle almal met groot vreugde. En dan skryf ek ook die stories wat ék graag sal wil hoor, maak hulle op, soos die sprokie van die wind.

7. Jy noem jou stories volksverhale en nie sprokies of fabels nie. Wat is die verskil?

Ek het geen idee wat die verskil is nie. Die vertellinge in Stormkind laat hulle egter nie in ’n genre indwing nie, want dit het aspekte van almal.

Send this to a friend