Wynmaker Clarise Sciocatti-Langeveldt

Clarise Sciocatti-Langeveldt is die afgelope drie oeste die wynmaker op Hazendal Wynlandgoed

Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf

Dié landgoed is op die Bottelary-subroete van die Stellenbosch Wynroetes. Die plaas behoort aan die Russiese sakeman dr. Mark Voloshin en word bestuur deur die volgende geslag Voloshins: Simone en Ina en sy skoonseun, Shlomi Azar. Die plaas se historiese geboue word stuk-stuk opgeknap en nuwe aantrekkings soos ’n restaurant, wynproelokaal, galery en tegnologiesentrum vir kinders, is bygevoeg.

Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Clara (vriende en familie) en Clarita (Meksikaanse kollegas wat soos familie voel in die Napa-vallei).

Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
My ma en pa drink wyn en ek wou nie ’n kantoorwerk hê nie…

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek was ’n kelderhulp byWindmeul Kelder in die Agter-Paarl. Ek het pype gesleep, wyn geskuif, gis aangemaak, byvoegings gedoen, oorpompe gedoen, monsters getrek – basies enigiets wat die wynmaker verlang het. Baie lang ure, dit was my hardste pars ooit.

Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Vanjaar was my derde pars by Hazendal. Ek was gereed vir ’n skuif na ’n kelder wat ernstig was oor wyn en het toevallig in my kraamverlof op die pos afgekom. Die res is geskiedenis en ek is baie gelukkig waar ek nou is. ’n Groot projek soos hierdie is ’n groot uitdaging, maar ek gryp dit graag aan. Groei is nooit gemaklik nie.  

Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
My ma het my op ’n wynproe saamgeneem toe ek nog op skool was. Een van die plase wat ons besoek het, was J.P. Bredell. Die shiraz was vir my ongelooflik mooi, dit was ’n duur bottel, maar my ma kon sien ek was baie opgewonde daaroor. Ons het dit laat lê en 5 jaar later oopgemaak toe ek van ’n pars oorsee terugkeer. Ek dink dit was ’n 1999 as ek reg onthou. Dit was absoluut die wag werd.   

Hoekom wou jy by Hazendal aansluit?
My onderhoud was heel aan die begin met Shlomi en Simone, toe die projek nog in die beplanningsfase was. Simone het met oorgawe vertel hoe lief haar pa vir die plaas is en watter planne en vooruitsigte daar is. Ek kon sien daar was definitiewe passie betrokke, en ’n wil om ’n sukses van ’n wynlandgoed nie net as ’n kom-kyk-plaas nie, maar as ’n besigheid te maak. En dit is vir my belangrik. ’n Wynplaas is steeds ’n besigheid en dit het my baie opgewonde gemaak dat ons dieselfde waardes deel.   

Julle het die afgelope tyd baie druiwe ingekoop, maar van November af is dit jul eie rooiwyn, wat is die uitdaging aan inkoop?
Die rooiwyn is steeds ingekoopte druiwe. Ons sal in 2020 ook nog ’n fraksie van die oes inkoop aangesien dit die eerste jaar sal wees wat die plaas se stokke in drag sal wees. So die oesverwagting is maar klein. Inkoop het talle uitdagings: Almal soek altyd die beste druiwe teen ’n bilike prys. So jy kompeteer met baie ander produsente waarvan die meeste van hul groter volumes doen, so hulle kan ’n hele wingerd blok uitkoop waar ek dalk net ’n fraksie koop, vanweë ons grootte. Ons pars in kissies, dis ook meer werk en duurder as om in ’n parsbak te sny vanweë arbeidskoste. In terme van kwaliteit gaan jy nooit weet tensy jy al ’n oes by ’n boer ingekoop het nie. Aangesien jy klein is, staan jy ook dikwels laaste in die tou as dit kom by oes en watter tyd van die dag jou druiwe afkom. Al die bogenoemde stryk ’n mens maar uit en kry ’n middeweg deur ’n goeie verhouding met die boere op te bou en altyd ’n plan B in plek te hê. Mettertyd kry ’n mens die boere waarmee jy ’n pad kan stap in terme van kwaliteit en diens wat by jou plan inpas. 

Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Daarvan sal ons eers seker wees as ons ons eie druiwe inneem. Op hierdie stadium is my gunsteling die MCC. Elegant en stylvol.

Jy en die wynmaak is deel van ’n groot plaas-aanbieding met troues, restaurant, Russiese tee en so meer. Is dit makliker as jy net een deel van ’n groter eenheid is, of hou jy daarvan om op jou eie te werk?
Alhoewel elke afdeling afsonderlik bedryf word, het almal wel ’n groot oorhoofse doel in die oog en ons werk baie goed saam om mekaar te komplementeer.

Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Die beeld van ’n handelsmerk is van kardinale belang as jy ’n tydlose handelsmerk wil bou waarna kliënte gedurig terugkeer. Ek voel dat ons op hierdie stadium op die regte pad is. Alhoewel ons ’n gedaanteverwisseling ondergaan het, is die plaas steeds sinoniem met familie.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Moenie die wyn te veel proe nie – dit sal jou mal maak. Wyn  is ’n lewende vloeistof en dit ondergaan baie stadiums in die bereidings- en verouderingsproses. Geure verdwyn, maar kom weer terug. Vertrou die proses.

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Minimalisties. Probeer die grootste werk in die wingerd en in parstyd doen. Maak seker jou vatkeuses is in lyn met die styl.

Hoe verskil Hazendal van ander wynplase waar jy al gewerk het?
Hier heers ’n gesonde, kreatiewe atmosfeer. Ons wil anders wees.

Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Charles Hopkins – in die trant van “as jy later as 19:00 nog druiwe in parstyd verwerk, is die kelder te klein vir die hoeveelheid wat jy inneem. Beplanning, beplanning, beplanning…”

Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Natuurbewaring, ek wou in Afrika in ’n reservaat werk.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Torrontés

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe my oupa vir my sê ek moet vir hom ’n boks wyn by die Shoprite gaan koop. Maar hy soek ’n spesifieke een, dis ’n nuwe een wat hy die vorige keer gekoop het: “Hulle noem hom ‘Rose’” – soos roos in Afrikaans.

Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Om “current” te bly sonder om nonsens aan te jaag.

Dink jy dis moeiliker vir ’n vroulike wynmaker in Suid-Afrika?
Ek dink vrouens moet ophou kla en meer selfvertroue ontwikkel.

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
My man hou van my wyn.

Watter kulitvar gee jou die meeste grys hare?
Pinotage. Dis taamlik soos ‘n vrou wat gevoelens opkrop, maar as jy haar verstaan, blom sy.

Watter wynmaker het die grootste indruk op jou loopbaan en lewe gemaak?
Daar is twee: Francois van Niekerk en Corné Marais.

Wat is jou man se naam, wat doen hy en het julle kinders?
Hannes Langeveldt, hy hou van vrugte en eet baie daarvan, so hy is nie sleg met die verkoop daarvan nie. As mens passie vir die produk het, is dit maklik om te verkoop. Hy werk vir ’n uitvoermaatskappy, Coré in die Paarl. Ons het ’n pragtige blondekop-groenoog-seuntjie, Hanno. Hy is drie en vreesloos, lewenslustig, lief vir die natuur, ’n geselsie en sy oumas en oupas. 

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Madame Cliquot Ponsardin – maar dit sal in my drome moet wees.

Watter land se wynmaak-praktyke beïndruk jou die meeste?
Om eerlik te wees, doen die meeste van ons maar dieselfde ding, maar Qvevri van Jordanië is nogal interessant.

Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
2017 – my eerste oes by Hazendal. Ons kelder was nog nie heeltemal reg nie. Ek moes op kort kennisgewing ’n gedeelte van my wit by ’n ander kelder pars. En die res in Hazendal se kelder, maar terwyl die kontrakteurs nog besig was. Water en elektrisiteit was gereeld aan en af. Ingange was versper en kontrakteurs was in die pad. Gelukkis is die wyne geensins ’n weerspieëling van die chaos nie.

Send this to a friend