Kies ’n boek: Legkaart van ’n jong lewe

Willie Burger kyk na Dolf van Niekerk se Legkaart van ’n jong lewe

In een van die 48 kort essays waaruit Legkaart van ’n jong lewe bestaan, skryf Dolf van Niekerk oor boeke. Dit gaan spesifiek oor die boeke wat hy as kind gelees het en wat ’n groot vormende invloed op hom gehad het. Hy skryf dat hy in sy matriekjaar NP van Wyk Louw se bundel opstelle, Lojale verset, gelees het.  

Van Niekerk skryf dat die boek vol “vreemde begrippe” was wat by hom “’n gevoel van ontoereikendheid en onvermoë om te verstaan” gewek het, maar dan vervolg hy: “Dit raak byna ondraaglik om alles in te neem en te probeer begryp. Jy bevind jou in ’n nuwe wêreld, verhewe bo jou klein verwysingsraamwerk. Oplaas dring dit tot jou deur jy is deel van ’n groter geheel, selfs ’n groter opset as jou land en jou mense.” Hierdie woorde resoneer iewers in my. In my eie matriekjaar is Dolf van Niekerk se roman Die son struikel vir ons voorgeskryf. Dié boek, met sy modernistiese vertelwyse waarin tye oor mekaar skuif, waarin gebeurtenisse uit die verlede steeds in Diederik se hede indring en waarin Diederik met sy onvermoë worstel om in die lewe tuis te voel, was vir my ook vol vreemde begrippe en het ’n gevoel van ontoereikendheid en onvermoë om te verstaan by my gewek. Die son struikel het ook vir my (wat die roman as buitestander in ’n vreemde dorp se skoolkoshuis gelees het) ’n nuwe wêreld, verhewe bo my klein verwysingsraamwerk, oopgemaak en my laat besef dat die wêreld veel groter as my skool, my kerk, my mense en my land is.

Dit is gepas dat Dolf van Niekerk se 90ste lewensjaar (hy het op 22 Februarie hierdie jaar 90 jaar oud geword) met hierdie publikasie herdenk word. Die son struikel het sekerlik, omdat dit soveel jare lank ’n voorgeskrewe werk vir matrieks was, ’n groot invloed op baie mense gehad. Die roman was waarskynlik ’n “veiliger” keuse om voor te skryf as baie van die ander Sestigers se werk, omdat dit nie polities by die Suid-Afrikaanse situasie betrokke was nie en ook nie vloekwoorde of eksplisiete sekstonele bevat het wat so maklik die Afrikaanse leerlinge (se konserwatiewe ouers) kon aanstoot gee nie. Diederik se eensaamheid, sy onvermoë om op enige plek in te pas, om nie ’n tuiste te kan vind in godsdiens, politiek of in sy volk nie, het egter in my, en sekerlik talle ander jong lesers, iets wakker gemaak van ’n eksistensiële angs en ’n bevraagtekening van die maklike antwoorde wat ons Christelik-nasionale onderwys aangebied het.

Ook Skrik kom huis toe het sekerlik op menige jong leser ’n blywende indruk gelaat, terwyl die bewaringstema wat deesdae ook in literatuurondersoek sentraal staan, reeds jare in Van Niekerk se werk teenwoordig is – dink veral aan Koms van die hyreën. Legkaart van ’n lewe gaan nie, soos Elsa Joubert se Spertyd en Karel Schoeman se Slot van die dag, ook outobiografiese boeke wat deur gevestigde skrywers in ’n laat stadium van hul lewens geskryf is, oor die oudwordproses en aftakeling nie. Die kort stukkies (“essays” is in baie gevalle nie ’n akkurate woordkeuse nie) is almal grepies uit sy jeug – herinnerings van toe hy sowat vier of vyf jaar oud was en sonder ’n eie ma grootgeword het, skoolherinneringe en sy universiteitservarings totdat hy op 21 as omroeper by die SAUK aangestel is.

Die herinnerings is nie noodwendig chronologies nie en skakel nie nou met mekaar nie – hulle bly los grepies, legkaartstukkies. Sommige is blote staaltjies (en daarom nie “essays” nie). Baie van die staaltjies sal ook waarskynlik slegs vir ’n ouer generasie lesers interessant wees. Iets van die temas, vertelwyse en denke, bly in ’n vervloë era vassteek. Maar soms, hier en daar, word die stukkies meer as staaltjies, meer as herinnerings wat spaarsamig met die woorde vertel word. Dan roer die vertellings mens tot nadenke. Telkens is daar vertellings waarin Van Niekerk jou emosioneel oorweldig met alles wat nie gesê word nie. Legkaart bied heelwat insig in Van Niekerk se skryfwerk en denke. Hy verduidelik hoedat sy eie skryfwerk eintlik die gevolg van ’n soeke na “iets” is.

Hierdie bewus wees van “iets”, van ’n deel wees van ’n groter werklikheid, het hy al op vyfjarige ouderdom beleef. Hy sit uiteen hoedat hy hierdie ervaring probeer begryp het, hoedat die denke van Plato, Herakleitos, Kant, Nietzsche, Hegel, Van Wyk Louw en Dostojefski hom in sy soektog na begrip van daardie “iets” begelei het en hoedat hy dit verder ondersoek het deur self te skryf. Op universiteit soek hy in die filosofie na antwoorde: “Die wysbegeerte prikkel my om verder te dink as die gegewe dinge. Iewers in my kop wil ek dat bewussyn die grond vir skepping is en nie bloot die vermoë om te dink en jou eie handelinge te ken nie.” Dit is veral hierdie skeppingsdrang as deel van menslike bewussyn wat op boeiende manier as belangrike grond vir menslike bestaan blootgelê word. Geluk met die 90 jaar, Dolf, en dankie vir jou rol in die verruiming van ons verwysingsraamwerke. (Protea Boekhuis)  

Send this to a friend