Kuns: Ernest Mancoba

Ernest Mancoba se loopbaan as kunstenaar is gekenmerk deur die verantwoordelikheid wat die kunstenaar het om die erfdeel van die verlede te bewaar deur homself in die idioom en medium tot sy beskikking en vir die voortbestaan van menslikheid uit te druk

Deur JOHAN MYBURG

Toe Ernest Mancoba (1904–2002) die land in 1938 verlaat het omdat hy gemeen het hy het hier nie ’n toekoms as kunstenaar nie, het hy in Parys ’n onbekende vir die kunswêreld in Suid-Afrika geword.By sy vertrek na Europa, op aanbeveling van die beeldhouers Lippy Lipschitz en Elza Dziomba, was Mancoba reeds ’n beeldhouer wat veral met sy African Madonna van 1929 aandag getrek het.

Dié beeld in inheemse geelhout was een van die vroegste interpretasies hier ter plaatse van Maria in ’n Afrika-gedaante. Maar dan was Mancoba volgens die kunshistorikus Elza Miles ook een van die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaars, indien nie die eerste nie, wat losgekom het van “die tirannie van representatiewe nabootsing en die Westerse kanons van proporsie”. In Parys en in Kattinge, Denemarke, waar hy ’n tyd lank saam met sy Deense beeldhouervrou, Sonja Ferlov (1911–1984), gewoon het, het hy bekendheid verwerf. Maar in Suid- Afrika was hy onbekend – tot en met die oorsiguitstalling Hand in Hand wat Miles in 1994 vir hom en Ferlov in die Johannesburgse Kunsmuseum byeengebring het, ná 56 jaar in die buiteland.

Dit was ongetwyfeld Miles wat Mancoba van vergetelheid gered het en sy lewe en werk dieselfde jaar met die publikasie van Lifeline out of Africa: The Art of Ernest Mancoba ook wyer bekendgestel het. Mancoba is in Johannesburg gebore en het op 16 onderwys aan die Anglikaanse Grace Dieu-onderwyskollege naby Polokwane gaan studeer, waar hy beeldhouwerk leer doen het. Hy het tot en met 1929 aan die kollege klasgegee waarna hy vir ’n BA aan die Native College of South Africa (deesdae die Universiteit van Fort Hare) ingeskryf het.

Sonder enige formele kunsopleiding en met sy ervaring as beeldhouer het Mancoba in 1936 die opdrag gekry om as toesighouer oor ander swart kerwers beeldjies vir die Empire-uitstalling in Johannesburg te maak. Mancoba moes onder meer osse as kurio’s kerf. Hy het dié aanbod van die destydse departement van naturellesake van die hand gewys. In Parys het hy aan die École Nationale Supérieure des Arts Décoratifs studeer. Hoewel hy as beeldhouer sy stempel afgedruk het, het sy fokus na teken- en skilderkuns, en toenemend abstrakte werk, verskuif.

Waarskynlik het Mancoba nie beplan om Suid-Afrika permanent te verlaat nie, maar toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit. Hy is in 1940 na ’n interneringskamp in Saint- Denis gestuur. Hy is in 1944 vrygelaat, maar sy huwelik met Ferlov sou dit vir hom onmoontlik maak om na sy vaderland terug te keer, veral met Suid-Afrikaanse wetgewing wat teen 1950 ingrypend verskerp is. In 2008 het die Britse kunstenaar en aktivis Rasheed Araeen vir Mancoba as “een van Afrika se oorspronklikste moderne kunstenaars” beskryf, maar, meer nog, “een wat modernisme gevorm en in stand gehou het deur die koloniale mite van wit oorheersing en meerderwaardigheid, van binne af te takel”.

Onlangs het Ernest Mancoba se werk ’n sentrale plek in A Black Aesthetic, die uitstalling in die Standard Bank-galery in Johannesburg ingeneem, waarin werk uit die versameling van die Universiteit van Fort Hare vertoon is. In die woorde van Miles is Mancoba se loopbaan gekenmerk deur integriteit en ’n onkreukbare begrip van die verantwoordelikheid wat die kunstenaar het om die erfdeel van die verlede te bewaar deur homself in die idioom en medium tot sy beskikking en ter voortbestaan van menslikheid uit te druk.

Send this to a friend