Helena Hugo

Ons gesels met Helena Hugo en vind meer uit oor waar sy vandaan kom…

“Ek is gebore op Greytown, Natal, die oudste van vyf kinders van dominee Frank en Leonie Myburgh. Van Greytown onthou ek die reusejakarandaboom in ons agterplaas en die idilliese, dig begroeide omgewing. Ses jaar later het ons op Warrenton in ’n Victoriaanse huis op die oewer van die Vaalrivier gewoon. Ek was in graad 2 toe ons na Florida aan die Wes-Rand verhuis het. My hoërskoolloopbaan het in Florida Hoër begin en in die Hoërskool De Aar geeïndig.

“Ek was nie sportief nie en het op skool eerder aan redenaarswedstryde en debatvoering deelgeneem. De Aar was vol talent en daar is elke jaar ’n dorpskonsert in die stadsaal gehou. Ek moes altyd vir die skoolinspekteur voordra. Een van my gunstelinggedigte was Rietfontein van ID du Plessis. Rietfontein is in die De Aar-distrik. Die leidam omring met peerbome het die digter geïnspireer en my verbeelding aangegryp.

“Ná matriek wou ek ’n psigiater word, maar ek sou eers medies moes studeer en my wiskunde was te swak. Tale was my volgende keuse, maar Pretoria se nuwe drama-departement onder leiding van die dinamiese Anna Neethling-Pohl het my van rigting laat verander. Ons moes tot skermlesse neem en superfiks word!

“Ek het dit oorleef, veral die kostuumontwerpklasse geniet, my graad cum laude geslaag, ’n oudisie vir Sukovs gedoen en ’n jaar lank die Vrystaatse vlaktes op toneeltoere deurkruis.

Henk, destyds lektor in drama by die Universiteit van die Vrystaat, het my van my swerwersbestaan gered. Ons het drie kinders. Eben woon en werk in Londen. Helena is ’n internasionaal erkende portretkunstenaar en ons laatlam, Sanet, ’n ekologiese statistikus. Daar is nog geen kleinkinders nie.”

Send this to a friend