Wynmaker: Salome Buys-Vermeulen

Salome Buys-Vermeulen is die wynmaker by Lozärn Wines op Doornbosch in die Robertson Wynvallei

Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf

Salome is getroud met Sybrand, een van die produksiebestuurders van Smuts Broers Agri, die hoofmaatskappy waarvan Lozärn ’n vertakking is. Hulle het ’n seuntjie van 4½, Amiël en Nina 1½ en die gesin woon die afgelope sewe jaar op die plaas.

Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Dit was die liefde vir beide kreatief wees en wetenskap wat vir my uitgestaan het.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
So ’n week nadat ek my laaste eksamen geskryf het in my derde jaar op Elsenburg, het ek begin werk by Saronsberg in Tulbagh as algemene parshulp – eers in die wingerd en later in die kelder.

Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Alhoewel die handelsmerk Lozärn maar eintlik net 18 maande jonk is, is ek en my man al van November 2012 op Doornbosch. In 2013 het ons twee vaatjies Shiraz op ’n baie eenvoudige manier, met die minium toerusting gemaak, en van daar het ons die kelder begin opbou en stadig maar seker die toerusting en tenke bygekry wat nodig was.

Kry jy teenstand as vrouewynmaker of is dinge meer geslagsgelyk in die wynbedryf?
Ek sal nie sê noodwendig teenstand nie, maar ons vrouens dink en doen dinge mos maar anders as mans, nie reg of verkeerd nie. Maar ons sien dalk ander goed as belangrik en omgekeerd, wat partykeer die beplanning bietjie deurmekaar maak.

Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Beslis Carménère! Ons het in 2014 ’n groot geloofsprong geneem toe ons besluit het om die “minder” bekende kultivar te vestig. Daar is maar net ongeveer 10 ha Carménère in Suid-Afrika, en een kloon om van te kies.

Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Eers so twee, drie later – hy moet eers so bietjie emosioneel loskom van jou.

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Ek dink dit moet die eerste keer wees wat ek Carménère geproe het, en absoluut verlief geraak het op die oordrewe vrug en elegansie.

Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ek dink dit is belangrik dat die publiek ook tog graag die kleder en plek van oorsprong wil en moet sien, maar bygesê is ons ook maar nog ’n jong handelsmerk, en streef ook nog na baie veranderings en verbeteringe, wat moet gebeur in en om die kelder! Rome is nie in een dag gebou nie.

As jy jou wynmaakstyl in een woord moet opsom, wat sal dit wees?
Ek wil glo dit is ’n styl van eenvoud, een waarin die druiwe absoluut vanaf wingerd tot in die kelder met finesse versorg word en daar so min as moontlik aangepas, of reggemaak moet word. Uiteindelik is dit wat jou wyne se boustene sal bepaal, en hoe goed dit kan verouder.

Watter veranderinge of uitbreidings beplan jy vir die plaas en kelder?
Lozärn se goue lyntjie is vir seker Bordeaux-kultivars, waarvan carménère beslis ons grootste fokus is. Ons het aanplantings vir malbec en petit gemaak, sodat ons ook eendag weer ‘n volledige Bordeaux-versnit kan maak, en hopelik sal carménère weer deel daarvan kan wees!

Wat glo jy is die uitdaging vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Dit moet al die papierwerk wees! Soms voel ek ek is meer ’n adminklerk as iets anders. Maar in die groter prentjie van ’n handelsmerk moet dit seker wees om te verseker jy gaan ’n mark kry en kan volhoubaar groei.

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Om so op my eie aan te gaan, en ’n handelsmerk te moet begin. Dis nie net om wyn te maak en in die bottel kry nie, maar dit was ook ’n lekker leerskool en groeiplek vir my om so by verpakking, bemarkingstrategieë tot kelder-uitleg betrokke te kan wees.

As ’n kelder ontwerp en gebou word, wat is noodsaaklik?
Wel hier is ek baie bevoorreg om so van die begin betrokke te kon wees by die uitleg en besluite. Om seker te maak ’n kelder se prosesse kan ’n eenvoudige vloeiproses volg. Op dié manier kan tyd baie effektief bestuur word – veral in jou piektye soos pars.

Watter kulitvar gee jou die meeste grys hare?
Cabernet sauvignon – om die een of ander rede het ons twee dit nog nooit perfek getref nie, altyd óf te suur óf te groot in alkohol en al die dinge wat wynmakers nie eintlik oor wil skryf nie …

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die wetenskap en kuns wat so nou saamloop.

As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy kon geniet?
As ek nou terugkyk, dink ek eerder fotografie!

Watter wynmaker het die grootste indruk op jou loopbaan en lewe gemaak?
Lourens van der Westhuizen van Arendsig bly nog altyd vir my ’n groot inspirasie. Ek het ook ’n pars by hom gedoen net voor ek op my eie begin wyn maak het.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Cherie Spriggs van Nyetimber, Engeland. Ook ’n jong handelsmerk, met uitstekende produk en visie.

Wat was jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
2019 was verseker ’n anderste jaar! Ons sal moet sien hoe die wyne vertoon – dit was ’n baie koel lente wat die wit kultivars bietjie teruggesit het met bot en ewe skielik het ons hitte gekry, wat die suikers vining opgestoot het, en sommer almal gelyk, wit en rooi.

Send this to a friend