Klassieke klanke: saxofoon

Die komponis Hector Berlioz, ’n tydgenoot van Adolphe Sax, het oor dié nuwe instrument gejubel: ‘Dit kan ween, sug, en droom’ 

Deur JOHAN MYBURG

Oor die saxofoon bestaan daar heelwat wanopvattings. Anders as wat mens sou dink, is dit nie primêr ‘n jazzinstrument nie, dit is nie ‘n koperblaasinstrument nie en dit is ook nie in Afrikaans ‘n “saksofoon” nie. Boonop is die saxofoon ook veel ouer as wat mens sou vermoed.

Dit was die Belgiese instrumentmaker en klarinetspeler Adolphe Sax (1814–1894) (na wie die saxofoon genoem is) wat in die 1840’s met dié instrument vorendag gekom het nadat hy jare bestee het om die klankgehalte van die basklarinet te verbeter deur die laer register uit te brei. Hy was op soek na ‘n instrument met die soepelheid van strykers, die volume van koperblasers en klankmoontlikhede van houtblasers.

Hoewel die saxofoon van meet af aan van metaal gemaak is, is dit deel van die houtblaasafdeling van orkesinstrumente omdat die klank met behulp van ‘n rietjie in die mondstuk (soos die klarinet) voortgebring word. Die ander houtblaser wat van metaal gemaak is, is die dwarsfluit, maar dié instrument het ‘n hout-verlede. Die vroegste fluite is wel van hout gemaak.

Sax het soveel as 14 verskillende soorte en groottes saxofone ontwikkel – van die hoë sopranino tot die laeregister-kontrabas. Hiervan het vier die toets van die tyd deurstaan en word die B-mol-sopraan-, die E-mol-alt-, die B-mol-tenoor- en E-mol-bariton-saxofoon deesdae algemeen gebruik. Elkeen van dié saxofone het ‘n register wat oor twee en ‘n half oktawe strek, wat die saxofoon die houtblaasinstrument met die grootste dinamiese register maak.

Omdat die vorm van die saxofoon konies is, met ander woorde al wyer word na die een kant toe (teenoor byvoorbeeld die klarinet wat silindries is), het die saxofoon die vermoë om klank voort te bring wat verrassend naby aan die menslike stem is. Die komponis Hector Berlioz, ‘n tydgenoot van Sax, het oor dié nuwe instrument gejubel: “Dit kan ween, sug, en droom. Dit het die vermoë om van ‘n crescendo stelselmatig tot ‘n eggo van ‘n eggo weg te sterf. Ek weet van geen ander instrument wat dit kan regkry nie.”

Etlike komponiste het dié nuwe instrument gretig in orkeswerke ingespan, soms as solo-instrument: komponiste soos Maurice Ravel in sy Boléro en die orkestrasie van Modest Moessorgski se Prente op ‘n uitstalling, dink maar aan “Die ou kasteel”; Sergei Rachmaninoff in sy simfoniese danse; Alban Berg in sy Vioolkonsert van 1935; Richard Strauss in sy Sinfonia domestica en les bes George Gershwin in sy Rhapsody in Blue en An American in Paris.

Nietemin het die saxofoon nooit, soos die klarinet of die Franse horing, deel van die tradisionele orkesbesetting geword nie. En moontlik is dit juis omdat die saxofoon aan so ‘n wye reeks emosies uitdrukking kan gee dat dié instrument so ‘n prominente plek in die wêreld van jazz ingeneem het. Eers was dit die New Orleans-styl-jazz van die 1920’s waaruit die Chicago-styl-jazz ontwikkel het wat plek gemaak het vir die saxofoon. Daarna, in die 1930’s, was dit swing wat vir dié instrument ‘n spesiale plekkie in die groot swing bands verseker het.

En Sax? Sax was teleurgesteld om te sien dat sy instrument deur militêre orkeste van sy dag opgeraap word en dat dit nie dadelik deel van die wêreld van klassieke musiek geword het nie. En op 80 is die uitvinder van die baldadige saxofoon, wat eweneens kon ween, sug, en droom, brandarm dood.

Send this to a friend