Hekel: Badkamerbederf | Vrouekeur

Hekel: Badkamerbederf

hekel_badkamerbederf

Kry ’n bal tou en hekel vir jouself of iemand spesiaal so ’n aardse stel

BENODIGHEDE
• 1 groot bal sagte tou (ek het myne vir R25 by die koöperasie gekoop)
• 4,5 mm-hekelnaald

AFKORTINGS

gs – glipsteek

hlb – halwe langbeen

kb – kortbeen

ks – kettingsteek

lb – langbeen

RUGSKROP

Sirkels (maak 8)

sirkels

Met 4,5 mm-hekelnaald maak 40 ks en gs in 1ste st om ring te vorm. Maak seker dat jy nie die ks-ry draai nie.

1ste rondte: 2 ks (tel as hlb), werk hlb in elke st in rondte en gs in 2de st van 2 ks aan begin.

2de rondte: 2 ks, werk hlb in elke hlb in rondte en gs in 2de st van 2 ks aan begin.

Herh laaste 2 rye nog 2 keer. Moenie tou afknip nie.

Vou ring dubbeld sodat smaller ring vorm en hekel dit rondom met kb aan mekaar deur dubbele laag.

Handvatsels
Met 4,5 mm-hekelnaald maak 60 ks en gs in 1s st om ring te vorm.

1ste rondte: gs in elke st in rondte en heg af.

Om te voltooi

1 Lê die twee sirkels plat en oorkruis op mekaar neer.

Stap 2

2 Vou die onderste sirkel se lusse om die boonste sirkel (sien foto bo).

3 Vou een van die handvatsels in die helfte, druk dit deur albei boonste lusse en trek dit ‘n entjie deur. Maak dit oop, ryg die ander punt van die handvatsel daardeur en trek dit styf.

4 Vou nou ’n volgende sirkel plat en druk dit deur albei lusse van die oorspronklike onderste ring (die een sonder die handvatsel) en trek die lusse gelyk.

5 Vou nog ’n ring dubbel, druk dit deur albei lusse van laasste ring en trek die lusse gelyk.

6 Gaan so aan tot al agt ringe ingeryg is.

7 Vou die ander handvatsel in die helfte en druk een helfte deur die lusse van die laaste ring. Maak dit oop, ryg die ander punt van die handvatsel deur en trek dit styf.

WASLAP

Met 4,5 mm-hekelnaald maak 36 ks.

1ste ry: hlb in 3de st van naald af, hlb in elke st tot aan einde.

2de ry: 1 ks (tel as kb), 1 kb in elke hlb tot einde.

3de ry: 3 ks (tel as lb), 1 lb in elke kb tot einde.

4de ry: 2 ks (tel as hlb), hlb in elke lb tot einde.

Herh laaste 3 rye tot verlangde lengte of ongeveer 26 cm. Moenie tou afknip nie.

Afrondingsry: Werk kb eweredig al om waslap met (1kb, 1ks, 1kb) in elke hoek, gs in st aan begin.

WENKE
Hierdie lappie werk net so lekker as ‘n wasvadoek in die kombuis

SEEPSAKKIE (vir 150 g-seep)

Met 4,5 mm-hekelnaald maak 20 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.

1ste rondte: 2 ks (tel as hlb), hlb in elke st tot aan einde, gs in 2de st van 2 ks aan begin.

2de rondte: 1 ks (tel as kb), kb in elke hlb tot aan einde, gs in ks aan begin.

3de rondte: 3 ks (tel as lb, lb in elke kb tot aan einde, gs in 3de st van 3 ks aan begin.

Herh laaste 3 rye tot sakkie ongeveer 15 cm is. Heg af.

Om te voltooi
Vou onderkant plat en hekel toe met ry gs. Dop om.

Met 4,5 mm-hekelnaald maak sowat 70 ks vir toutjie. Ryg toutjie deur ry gaatjies aan bokant van seep, trek toe en maak strikkie.

WENK
Gebruik met seep en al as skuursponsie

Send this to a friend