Hekel pixel-kussings

Maak jou eie prente met gehekelde blokkies!

Deur KAREN ADENDORFF

Moeilikheidsgraad: *

Benodigdhede

Oorskiet Vinnis Nikkim 100% katoen DK (50 g-balle) of enige dubbeldraad in kleure van jou keuse
3 mm-hekelpen
Naald met groot oog
Vir kussing:
katoenmateriaal (52 cm x 50 cm) vir agterkant
45 cm-ritssluiter
Binnekussing (50 cm x 50 cm)
Algemene naaldwerkbenodigdhede

Wenke

  • Gebruik grafiekpapier of blokkiespapier om ontwerp op te teken.
  • Kruisiesteekpatrone werk baie goed vir hekelontwerpe.
  • As jy ’n foto wil hekel, kan jy die foto eers in pixels omskakel.
  • Pixel-ontwerpe is groot en word meestal vir komberse gebruik. Deur ’n blokkie te hekel en te meet, kan jy bepaal hoe groot jou eindproduk gaan wees.

Grootte van kussing

50 cm x 50 cm

Afkortings

dies = dieselfde, gs = glipsteek, h/af = heg af, kb = kortbeen, ks = kettingsteek, lb = langbeen, rdte = rondte, st = steek, vlg = volgende

Metode (vir kussing)

  • Gebruik enige grafiekontwerp soos aangedui. Die voorbeeld in hierdie patroon het die eerste diagram gebruik.
  • Bepaal jou kleure en aantal blokkies in elke kleur.

Hekel die blokkies as volg: Hekel 4 ks, gs in 1ste ks om ring te vorm.

1ste rdte: 1 ks, 8 kb in ring, gs in 1ste kb.
2de rdte: 1 ks, 2 kb in elke kb, gs in 1ste kb = 16 kb.
3de rdte: 1 ks, 1 kb in dies st, 1 kb in vlg 2 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb) in vlg kb, [1 kb in vlg 3 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb) in vlg kb] 3 keer, gs in 1ste kb. H/af. Werk los drade weg.

  1. Werk die blokkies in rye aanmekaar met onsigbare steke volgens jou diagram vas.
  2. Werk die rye met onsigbare steke volgens die diagram aan mekaar vas.
  3. Knip twee agterpante van 50 cm x 26 cm uit wit katoenmateriaal.
  4. Inwerk van die ritssluiter: Plaas die twee pante met regte kante op mekaar en stik die twee punte slegs 4 cm vas. Ryg die naat in die middel met lang steke verder vas. Plaas die ritssluiter met sy regte kant op die oop naat (ryggedeelte) aan die verkeerde kant en ryg vas. Stik die ritssluiter aan die regte kant aan weerskante vas. Trek die rygdraad uit. Laat die ritssluiter ’n entjie oop.
  5. Plaas die agterpant en gehekelde voorpant met regte kante op mekaar en stik reg rondom ’n naat van 0,5 cm.
  6. Dop die kussing deur die opening van ritssluiter om en steek binnekussing in.
  7. Maak tossels indien verkies en werk op die hoeke vas.

Voorbeelde

Send this to a friend