Ken jou storie: David Walliams, Tony Lanoye

Roald Dahl sal seker nog baie lank een van die heel gewildste kinderboekskrywers bly. Meer as 200 miljoen van dié Britse skrywer se boeke is wêreldwyd in talle tale verkoop.

Willie Burger

Sy aweregse humorsin en verrassende slotte, sy ongebreidelde verbeelding in ‘n gemaklik-vloeiende taal wat die moontlikhede van taal ondersoek, vermaak jong lesers en hul ouers al dekades lank.

‘n Mens wil nie te vroeg praat nie, maar daar is mense wat reken dat David Walliams (ook onder TV-kykers bekend as ‘n beoordelaar van Britain’s Got Talent) besig is om die groot leemte wat Dahl gelaat het, te vul. Walliams se styl herinner inderdaad baie aan Dahl. Sedert sy eerste boek aan die einde van 2008 verskyn het, is reeds meer as vier miljoen van sy boeke verkoop. Twee van sy bekendste werke is nou ook in Afrikaans beskikbaar. Ouma is ‘n kroek is ‘n uitstekende Afrikaanse vertaling van Gangsta Granny deur Kobus Geldenhuys.

Ben se grootste droom is om eendag as hy groot is, ‘n loodgieter te word. Hy lees elke maand ‘n tydskrif oor loodgietery. Maar sy ouers is nie baie tevrede met Ben se ideaal nie. Volgens hulle moet hy liewer ‘n danser word. Hulle kyk slaafs na Strictly Stars Dancing op TV en luister oor en oor na die musiek van dié program. Wanneer hulle self gaan dans, los hulle vir Ben by sy ouma. Ben wil nie by sy ouma bly nie, want hy vind haar vervelig en sy ruik na kool. Dan ontdek hy egter dat sy ouma ‘n geheime lewe lei waarvan hy nooit bewus was nie. Skielik lyk sy nie meer so vaal en vervelig nie! Dit is ‘n skreeusnaakse boek met oorspronklike illustrasies van Tony Voss.

Die Afrikaans sprankel só dat ‘n mens kwalik kan dink hoedat die Engels dit sou kon ewenaar! Ook Walliams se Ratburger is deur Geldenhuys vertaal as Rotburger en by Protea uitgegee. In hierdie topverkoperverhaal is ‘n dogtertjie, Zoe, aan ‘n stiefma uitgelewer wie se arms van tatoeëermerke van al haar eks-mans se name oortrek is (wat dan weer doodgetrek is). Die stiefma is só lui dat Zoe die snolle uit haar neus moet krap. Boonop spoeg die skoolboelie elke dag op haar kop. Zoe is ‘n enigste kind en woon op die 37ste verdieping van ‘n woonstelblok. Haar enigste maatjie is ‘n hamster. Die hamster gaan egter dood en boonop verloor haar pa sy werk.

Uiteindelik moet sy veg om haar troetelrot te red. Albei hierdie boeke het meer as 250 bladsye en ouers wat dit hardop voorlees, sal die boek al die eerste aand nie kan neersit voordat hulle dit deurgelees het nie – al slaap die kleingoed lankal. Kinders wat al self kan lees, sal nie deur die dikte afgeskrik word nie, want die verhale is meesleurend en telkens volg nuwe kinkels. Soos in Dahl se boeke is daar wel ‘n “emosionele boodskap”, maar dit voel nooit soos ‘n sedelessie nie. Walliams se boeke is bestem om klassieke werke te word.

Nóg ‘n vertaalde werk wat Afrikaanse leesmoontlikhede verruim – hierdie egter vir (hardebaard) volwassenes – is Tom Lanoye se roman Gelukkige slawe. Lanoye se outobiografiese werk oor sy ma wat weens beroerte sonder spraak gelaat is en in haar laaste lewensmaande van alle waardigheid gestroop is, Sprakeloos, is in 2011 deur Daniël Hugo in Afrikaans vertaal en het ‘n wye leserspubliek ontroer – in Afrikaans, Nederlands, Frans en Engels. Gelukkige slawe is, soos Lanoye se ander werk ook komies. Maar dit is ‘n donker komedie. As jy graag vermaak wil word en sommer terselfdertyd ook veel meer insig in die wêreldekonomie wil verkry, is Gelukkige slawe ‘n roman wat jy móét lees.

Daar is twee hoofkarakters. Albei se name is toevallig Tony Hanssen. Hulle is albei Belge. Die een is in die toerismebedryf en moet ryk toeriste op ‘n plesierboot gelukkig hou, terwyl die ander Tony ‘n rekenaarprogrammeerder in die bankbedryf is wanneer die banke in Europa in 2008 in duie begin stort. Die roman begin met ‘n skreeusnaakse proloog waarin die een Tony in Argentinië besig is om ‘n ryk Chinese sakeman se vrou seksueel te bevredig, terwyl die ander Tony besig is om in die Krugerwildtuin op ‘n renoster aan te lê. Die twee Tonys beland ‘n week later altwee in China. Hoewel die twee Tonys die hoofkarakters in Gelukkige slawe is, speel ‘n Suid-Afrikaanse polisieman, wat warm op die spoor van renosterstropers is, ook ‘n belangrike rol in die roman.

Die boek ondersoek die huidige geglobaliseerde ekonomie waarin alles deur ‘n bepaalde vorm van kapitalisme voortgedryf word. In hierdie ekonomie, waarin handel nie meer op produkte en ruilmiddels (geld) berus nie, waarin dit nie meer nodig is om produkte te hê om te verkoop nie en ook nie om geld te hê voordat jy dit kan bestee nie, verander alles wat ons voorheen oor ekonomie gedink het en die roman ondersoek die gevolge daarvan grondig.

Send this to a friend