Kies ‘n boek: Brandwaterkom deur Alexander Strachan

As oorlog een kenmerk van Strachan se werk is, is vertellings waarin oor die vertelproses self nagedink word, ‘n ander kenmerk

Willie Burger

Reeds sedert sy debuutwerk, ‘n Wêreld sonder grense (1984), staan oorlog sentraal in Alexander Strachan se werk. In Die jakkalsjagter (1990) en Die werfbobbejaan (1994), speel die hoofkarakters se herinnerings aan die Grensoorlog ook telkens ‘n belangrike rol en word die oudsoldaat later ‘n jagter of ‘n wildvanger en ‘n swerwer. In Dwaalpoort (2010) word die Boereoorlog betrek deur die verhaal van ‘n vrou se ervarings in ‘n Britse konsentrasiekamp. Maar dit is óók die verhaal van Bullit – al weer ‘n oudsoldaat van die Grensoorlog.

Brandwaterkom gaan oor Esther van Emmenes, ‘n historikus, wat in Fouriesburg gaan woon om navorsing oor gebeurtenisse te doen wat gedurende die Boereoorlog in daardie streek, die sogenaamde Brandwaterkom plaasgevind het. Generaal Marthinus Prinsloo het hier met meer as 4 000 man aan die Britse magte oorgegee, ‘n daad wat deur baie Boere as ‘n lafhartige en onnodige oorgawe beskou is. (Hierdie geskiedenis staan ook sentraal in Christoffel Coetzee se belangrike roman uit 1998, Op soek na generaal Mannetjies Mentz.)

Esther se navorsing fokus egter nie op hierdie "groot gebeurtenis" van die oorlog nie, maar op die lewe van Fanie Vilonel, ‘n prokureur wat aanvanklik as uitstekende skut, ruiter en strateeg en as veldkornet van die Senekal-kommando, respek onder Boere en Britte afdwing. Uiteindelik word Vilonel egter deur die oorlog ontnugter en hy neem aktief die wapen téén die Boeremagte op met die hoop dat die oorlog gouer verby sal wees.

Die verhaal van Vilonel se verraad maak die ruggraat van die roman uit en Esther poog om hom in ‘n positiewer lig te stel as in geskiedenisboeke. Haar navorsing betrek ook al hoe meer ander verraaiers (ook haar Van Emmenes-voorouers was verraaiers). Verraad word ‘n sentrale tema. Daar is ook sprake van verraad in die liefde – deur Vilonel, maar ook Esther voel verraai deur haar dosent.

Esther sukkel om gefokus te bly in haar navorsing wanneer ‘n vrou uit die Boereoorlog aan haar verskyn met stories oor Boervroue wat in die grotte van die Brandwaterkom weggekruip het (en selfs oor die Voortrekkers). Boonop daag Bullit (uit Dwaalpoort) ook by Esther op met sý vertellings oor die Grensoorlog en met oorlogsdagboeke van ‘n vrou uit ‘n konsentrasiekamp.

Benewens hierdie verhale hoor Esther ook nog baie anekdotes oor die klein ervarings van gewone mense tydens die oorlog. Al die stories saam word vir haar té wydlopend om ‘n enkele greep daarop te kry.

Boonop word dit dan duidelik dat daar ook nóg ‘n skrywer is wat eintlik agter alles sit. Hy sorg dat Esther na die Brandwaterkom gaan en stuur vir Bullit na haar ten einde haar te dwing om ook die Grensoorlog by haar navorsing in te sluit. Hierdie skrywer bely dat hy nie heeltemal beheer het oor sy karakters nie en dat hy soms moet terugsit en dinge toelaat om te gebeur.

As oorlog een kenmerk van Strachan se werk is, is vertellings waarin oor die vertelproses self nagedink word, ‘n ander kenmerk. Telkens is daar sprake van verhale binne verhale sodat dit dikwels moeilik is om te weet wat "werklik gebeur" en wat vertel word. ‘n Waterdigte skeiding tussen wie die storie vertel en wie eintlik ‘n karakter in die storie is, word opgehef. Die karakters verraai die skrywer deur teen sy sin hul eie gang te gaan, maar in die proses word die leserverwagtings ook verraai.

Hierdie manier van vertel was skokkend nuut in 1990 en die leser vra sigself af wat die doel met so ‘n voorspelbare tegniek in Brandwaterkom is.

Eerstens dwing hierdie verteltegniek tot nadenke oor die aard van geskiedskrywing en van historiese fiksie. Historiese fiksie bied dikwels vir lesers die kans om nie slegs inligting oor die verlede te kry nie, maar om die verlede as ‘t ware te beleef. Wanneer die weergawe van die verlede egter onderbreek word, herinner dit die leser dat dit slegs vertelling is, afhanklik van verbeelding, en dat die weergawe nie die verlede self is nie.

Wanneer Esther haar greep op die geskiedenis wat sy skryf, begin verloor omdat daar te veel klein verhaaltjies is, word dit al hoe moeiliker om die groot gebeurtenisse van die oorlog – die vredesluitings, die oorgawes, die deurslaggewende veldslae, in ag te neem. Dit word duidelik dat oorlog veel meer as geskiedenis is. Geskiedskrywing is groot sinmakende projekte. Oorlogstrauma raak elke individu op persoonlike vlak – sonder groter sin.

Verder maak hierdie verteltegniek dit ook duidelik dat elke verhaal maar een interpretasie uit ‘n bepaalde hoek is. Geskiedskrywing is dus, soos die skryf van fiksie, ‘n manipulerende handeling, al is dit nooit heeltemal in die mag van die skrywer nie. Sodoende word uiteindelik nagedink oor die menslike lot – oor hoeveel keuses en beheer ‘n mens werklik in jou lewe het.

SOURCES
Elmarie Knapton

Send this to a friend