Kies 'n boek: Vlees en bloed & In die skadu van skisofrenie | Vrouekeur

Kies ‘n boek: Vlees en bloed & In die skadu van skisofrenie

Willie Burger kyk na boeke deur Riette Rust en Marga van Rooy en haar dogter Henriëtte Boot

Willie Burger

 Die fliek Pulp Fiction het destyds ‘n soort kultusaanhang gekry. Aan die een kant is die fliek wreed, bloederig en skokkend, maar aan die ander kant oordrewe, spottend en skreeusnaaks. Wanneer iemand in dié donker komedie per ongeluk doodgeskiet word en die voertuig en huis skoongemaak moet word, word ‘n professionele skoonmaker ingeroep. Die toneel waarin die skoonmaker beheer oorneem, is soos byna al die tonele in die roman, grusaam en snaaks.

Ek het altyd gedink die soort opruimers van bloed en derms is blote fiksie, totdat ek van die “bloedsusters” gehoor het. Soos ‘n opruimspan uit ‘n Tarantino-fliek het die susters Eileen de Jager en Roelien Schutte hul onderneming, Crime Scene Clean-Up, begin. In 2011 het Ilse Salzwedel se boek, Bloedsusters, verskyn waarin die verhaal van dié twee susters se bloeiende(!) onderneming vertel is. Dit maak natuurlik sin dat daar in ‘n land waar geweldsmisdaad algemeen voorkom, iemand moet wees wat moordtonele opruim.

Dit is presies wat hulle doen. Riette Rust het nou, vyf jaar nadat Bloedsusters verskyn het, nóg ‘n boek, Vlees en bloed, oor die susters se daaglikse take geskryf. Hoewel die voorblad waarsku dat hierdie boek nie vir sensitiewe lesers is nie, is die beskrywings darem nie net van die een misdaadtoneel na die volgende nie. Elke geval word ook in ‘n wyer konteks geplaas deur die menings van sielkundiges en ander kenners se navorsing te betrek. Wanneer vertel word van ‘n geval waar ‘n kamer ná ‘n selfdood opgeruim moet word, word meer inligting oor selfdood en statistiek en redes en tekens ook gegee. In plaas van bloot die beskrywings van ‘n bloedige plaasmoordtoneel, is daar ook verduidelikings van redes waarom plaasaanvalle dikwels so wreed is, asook inligting oor hoe om misdade te probeer voorkom.

Alles is darem ook nie moord en doodslag nie. Soms kry die bloedsusters ook met opgaarders (selfs opgaarders van gebruikte toiletpapier!) te doen wie se woonplekke opgeruim moet word. Al die blootstelling aan walglike tonele eis uiteraard ook ‘n tol van die susters (en uiteindelik ook van die skrywer – en oppas, dalk ook van die sensitiewe leser!) en die impak van die trauma op hul lewens word ondersoek. Uiteindelik is die inligting nuttig vir almal in die land wat gedurig aan traumatiese gebeurtenisse onderwerp word.

bloed

Aktrise Marga van Rooy is ‘n bekende gesig. Saam met haar dogter, Henriëtte Boot, het sy nou ‘n boek In die skadu van skisofrenie oor dié onderwerp geskryf. Marga en Henriëtte vertel die verhaal van Henriëtte se skisofrenie met ontblotende eerlikheid. Marga se vertelling word telkens deur Henriëtte se weergawe van dieselfde tyd of haar indrukke onderbreek. Henriëtte se ineenstorting in haar eerste jaar op universiteit het vir Marga uit die bloute getref, maar teen daardie tyd was Henriëtte eintlik al jare ‘n depressielyer.

Henriëtte se herhaalde opnames in Stikland, nadat sy “onbeheerbaar” geraak het en aan verskeie psigoses begin ly het (onder meer dat sy ‘n engel, of die Heilige Gees is, of dat sy met Jesus gaan trou) word met deernis aangebied. Veral die spanning tussen ma en dogter word met baie eerlikheid ondersoek. Marga het altyd gedink dat sy ‘n goeie ma was en het haar besonder belowende loopbaan as aktrise vroeg in die 1960’s laat vaar om te trou en kinders te kry. Henriëtte vertel egter dat sy van altyd af gevoel het dat haar ma haar nie aanvaar het nie en nie eintlik wou hê nie.

Nadat sy in Stikland opgeneem is het sy elf maande geweier om haar ma te sien. Die boek ondersoek die verloop en verskrikking van skisofrenie, die effek daarvan op ‘n gesin en op die vernietigende terugslae wat die lyer telkens ervaar. Hierdie boek kan ‘n tranetrekker wees. Dit lê op hartroerende maniere die broosheid van mense bloot: die breekbaarheid van die menslike gees aan die een kant en die wondbaarheid van ‘n magtelose ouer aan die ander kant. Die rol van oorerflikheid in skisofrenie word ook ondersoek, en die maniere waarop dikwels in gesinne oor familielede se gedrag geswyg word omdat dit te moeilik is om daaroor te praat. Verwyt en skuldgevoel word oorkom en ná baie jare kon ma en dogter die boek sáám aanpak. Die verhaal ontroer, maar die boek bied ook veel vir ouers van kinders wat nie slegs met skisofrenie worstel nie, maar dalk ook met bipolariteit of depressie.

marga

Send this to a friend