Eet gesond dié feestyd

 

Dis tyd vir eindjaargesellighede, luilekker etes en natuurlik die groot feesmaal wat voorlê. Kan jy gesond uiteet?

IcasConnect is ‘n werknemerwelstandsprogram. Hulle gee die volgende wenke:

Eet ‘n happie voor die tyd

Moenie byna dood van die honger na ‘n restaurant of geselligheid toe gaan nie. Jy gaan dan ooreet. Eet ‘n klein gesonde happie voor die tyd om seker te maak jy eet nie daar te veel nie.

Eet bewustelik

Dit vat ongeveer 20 minute vir jou maag om vir jou brein te sê hy’s vol. Probeer om stadig te eet en regtig elke mondvol te geniet. Sit jou eetgerei nou en dan neer om stadiger te eet.

Kies reg

Kies eerder gebakte of gestoomde opsies as diepgebraaide kos of disse vol room.

Eet baie groente

Kies slaai of groente en maak jou bord daarmee vol. Geniet ander disse in kleiner hoeveelhede.

Wees versigtig vir versnaperings voor die tyd

Brood, skyfies en dies meer word gewoonlik voor die hoofmaal bedien. Vermy dit eerder en geniet dan jou hoofdis.

Deel ‘n poeding

Nagereg is te lekker om heeltemal prys te gee. Kies eerder ‘n kleiner opsie of deel joune met iemand.

Vat iets gesonds saam

As jy by vriende gaan eet en jy weet hulle gaan groot, bied aan om ‘n gesonde dis saam te vat om te deel. So maak jy seker dat daar minstens een gesonde opsie op die spyskaart is.

Drink water

Drink water tussen ander drankies deur om te verseker dat jy nie met elke drankie kalorieë inneem nie.

Geniet dit

Moenie alles wat lekker is, vermy nie. Maak gesonde keuses, maar bederf jouself ook. Dis immers die feestyd!

Meer inligting by www.ecare4me.com

Send this to a friend