Kos waarvan jou derm sal hou

’n Opgeblaasde, ongemaklike gevoel is aaklig. Gelukkig is daar kos wat jou kan help

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Die webwerf www.consumerreports.org sê verbruikers in Amerika het in 2016 ongeveer 10 miljard dollar per jaar spandeer aan aanvullings wat met spysvertering verband hou.

Daar is gelukkig ook kos wat kan help.

Jy moet egter seker maak dat dit wel vir jou sal werk. As jy sukkel om uit te vind watter kosse sleg vir jou derm is, hou ‘n kosjoernaal.

Vesel

  • Daar word aanbeveel dat vroue daagliks 25 g vesel en mans 38 g moet inneem. As jy nie nou genoeg vesel inneem nie, kan jy jou inname geleidelik verhoog anders kan dit ook krampe en gas veroorsaak. Daar word ook aanbeveel dat ‘n mens genoeg water saam met vesel moet drink.
  • Peulgroente (soos kekerertjies, lensies, splitertjies, witboontjies) kan vir jou omtrent die helfte van jou daaglikse vesel in een koppie gee. As jy skrikkerig is dat dit jou meer gas kan gee, week die bone voor die tyd in water.
  • ‘n Koppie swartbessies of moerbeie bevat ongeveer 8 g vesel.
  • Volgrane soos bulgurkoring, gort en semels is ook ‘n goeie bron van vesel.

Probiotika

  • Jogurt bevat die voordelige bakterieë wat sekere tipe suiker kan afbreek. Aspersies, artisjokke, piesangs, knoffel, sojabone en preie is ook goeie bronne van probiotika.

Pasop hiervoor

  • Alkohol en kafeïne
  • Versoete vrugtedrankies en gaskoeldranke
  • Vetterige kos
  • Kunsmatige versoete kougom of lekkers.

Eet stadiger en vat klein happies

As jou derm jou gas gee, word dit aanbeveel dat jy kleiner happies neem as jy eet. Hier is wenke wat kan help:

  • Oefen om aandagtig te eet en sê vir jouself dat jy stadiger moet eet.
  • Moenie staande eet en terwyl jy besig is met takies nie. Sit by ‘n tafel en fokus daarop om rustig te eet.
  • Eet klein porsies sodat jy nie ooreet nie.
  • Moenie lees of TV kyk terwyl jy eet nie.
  • Sny jou kos fyn en kou jou kos goed.
  • Dit help ook om iets te drink terwyl jy eet omdat dit jou dwing om jou vurk neer te sit.
  • Gesels met jou mense aan’t tafel sodat jy weer jou vurk kan neersit.

BRONNE: www.consumerreports.org; www.summertomato.com

Send this to a friend