Vakansiegesondheid

Moenie jou gesondheid afskeep as jy ’n ruskansie van die jaar se harde werk vat nie

Deur CHRISTA SWANEPOEL

Jy het jou werksverantwoordelikhede ’n bietjie eenkant toe geskuif en die tasse gepak vir ’n vakansie by die see, in die bosveld of by ’n vakansieoord. Maar moenie omdat jy ontspan, vergeet om jou liggaam op te pas nie.

Met die temperature wat in Desember rondom 30 °C draai, is dit belangrik om sonwys te wees, hetsy jy binne of buite is.

Ongeag ouderdom en geslag – almal het beskerming teen die son se UVA- en UVB-strale nodig. Blootstelling aan die skadelike strale van die son kan ernstige skade aan jou vel en gesondheid aanrig.

“Jou vel is jou grootste orgaan en moet net soos die ander organe goed opgepas word. Dit het baie belangrike funksies wat jou algemene gesondheid beïnvloed. Die meeste mense weet al van die gevare van die son vir jou vel, maar min weet hoe ernstig die gevolge van sonskade kan wees,” sê dr Nicola Rains, ’n algemene praktisyn by NHC-gesondheidsentrums.

Dink aan jou vel as ’n skild vir jou lyf. As dit nie goed werk nie, is die res van die lyf in gevaar. Dit dien as beskerming sodat vreemde voorwerpe nie die liggaam binnedring nie en beskerm die liggaam teen trauma.

“Wanneer jy ure sonder beskerming in die son sit, is sonbrand nie die enigste ding waaroor jy bekommerd moet wees nie,” sê Nicola. “Die effek van sonbrand kan tot ernstiger toestande soos velkanker lei.”

Met sowat 20 000 aangemelde toestande en 700 sterftes jaarliks, is velkanker die algemeenste vorm van kanker. Dit is volgens die Velsorgstigting van Suid-Afrika (ACFSA). Net Australië het meer voorvalle van velkanker.

Daar is verskillende vorms van velkanker, met kwaadaardige melanoom as die gevaarlikste. Dit kom voor wanneer die vel se DNS beskadig word en die velselle vinnig vermeerder om kwaadaardige gewasse te vorm.

Die oorgrote meerderheid van melanome is swart of bruin, maar dit kan ook velkleurig, pienk, rooi, blou of wit wees. Die meeste word deur ultravioletbestraling van die son of sonbeddens veroorsaak.

“Dit is dus duidelik dat jy jou vel moet oppas, want baie gevalle van velkanker kan voorkom word,” sê Nicola.

Sy gee die volgende wenke:

  • Vermy die son wanneer die strale op hul felste is, tussen 10:00 en 15:00. Selfs in die winter en wanneer dit bewolk is, is daar UV-bestraling. Wend dus sonskerm aan selfs al is dit bewolk.
  • Gebruik sonskerm van ’n goeie gehalte, verkieslik met breëspektrumbeskerming en ’n hoë sonbeskermingsfaktor (SBF). Hoe hoër die SBF hoe beter is die beskerming.
  • Wend die sonskerm elke twee uur aan en smeer dit aan al die dele van die vel wat blootgestel is.
  • Sonskerm bied nie totale beskerming van die UV-strale nie. Dra dus ook klere wat jou vel beskerm.
  • Sonbeddens straal UV-bestraling uit, wat die risiko om velkanker te kry, verhoog. Vermy dit liefs.
  • Slegs 30 minute in die son sonder beskerming is genoeg om sonskade te veroorsaak.
  • As jy wel brand, wend kompresse met koel kraanwater aan tot die rooiheid weggaan.
  • Hou altyd room of spuitgoed aan wat sonbrand verlig, veral as jy baie buite kom.
  • Spreek dadelik ’n dokter as jy erg gebrand het, blase gebrand het, pyn ervaar, naar is of kouekoors kry.
  • Ken jou vel. Jy moet weet van elke vlekkie, knoppie of moesie sodat jy dadelik sal weet as daar ’n verandering is.

As jy oor enigiets bekommerd is, gaan liefs dokter toe. Inligting verskaf deur NHC Ltd & NHC Health Centres

Feestyd sonder skuldgevoelens

Hier teen die einde van die jaar verander ons roetine gewoonlik en daar is baie redes en verskonings om jou gesonde dieet te laat vaar. Wat belangrik is, is om te weet wanneer jy dit oordoen het en so gou moontlik weer balans te kry. Jessica Byrne, dieetkundige van die Hart-en-beroerte-stigting gee ’n paar maklike wenke om deur die feestyd te kom sonder om dit te oordryf of daaroor te stres.

Geniet Kersdag, maar moenie dat dit “Kersmaand” word nie.
Geniet gerus jou Kersmiddag- en -aandete saam met familie en vriende, maar moenie dat dit ’n gewoonte raak nie. Een groot ete sal nie jou middel skade doen nie. Gun jouself dus die feesmaal, maar werk dit teen deur die dag ná Kersfees weer gesonder opsies te kies – moenie eers tot die nuwe jaar wag nie.

Moenie etes oorslaan om vir jou vergryp op te maak nie.
Dit kan bloot tot ’n lus vir soet, sout en vetterige kos lei, wat sal maak dat jy jou met jou volgende ete sal ooreet. Knibbel aan gesonde happies soos rou groente, neute en vrugte om jou eetlus te beheer.

Dink wat jy eet.
’n Buffetete is bloot ’n uitnodiging om te veel te eet. Kyk eers wat is beskikbaar, skep vir jou die kos in waarvan jy regtig hou en wil eet en beweeg dan weg. Eet stadig, fokus op elke happie om die kos te geniet – beleef die smaak en aroma.

Eet waarvoor jy lief is en waarvan jy hou.
In plaas daarvan om jou bord hoog te laai met goed wat nie juis jou smaakkliere prikkel nie, kies kos wat jy regtig geniet.

Los die ekstras.
Baie kos wat oor die feestyd geëet word, kan gesond wees sonder al die ongesonde ekstras. So, geniet die Kersfeeskalkoen, maar maak dit sonder die vel en moenie die vulsel of sous te ryk maak nie.

Gesondheid!
Klink ’n glasie met witwyn met sodawater in plaas van kilojoulebelaaide gemengde alkoholiese drankies. Wissel jou alkoholiese drankies met nie-alkoholiese drinkgoed soos vonkelwater af om die kilojoules te beperk.

Geniet jou poeding.
Geniet jou gunstelingkoek of -poeding, maar eet net ’n kleiner porsie. Vrugtekoek is vol gesonde droëvrugte, maar bedien dit met laevetvla in plaas van room. As jy van sjokolade hou, kies die donker soort en eet net ’n klein stukkie. Geniet die somerseisoen se vrugte vir daardie ekstra soetigheid en vir ’n vars nagereg.

Dra peuselhappies met jou saam.
Hierdie tyd se gejaag lei dikwels daartoe dat jy kitskos koop of etes oorslaan. Om jou eetlus te beheer, sit altyd ’n peuselhappie in jou handsak. Vrugte is gerieflik, asook ongesoute neute. Tuisgemaakte springmielies met paprika en gemengde kruie is gesonder as aartappelskyfies.

Bly gehidreer in die somer.
Dit is maklik om honger met dors te verwar. Hou altyd koue water byderhand en drink eerder water as om ’n snoephappie nader te trek. Vries ’n bottel water oornag of sit mentblare of suurlemoenskyfies by vir ’n vars smaak. Maak jou eie yskoffie wat as ’n daaglikse porsie suiwel kan tel in plaas daarvan om roomys te eet. Verkoel ’n espresso of sterk swart koffie en meng dit met melk en ys.

Kweek aktiewe gewoontes terwyl die weer lekker is.
Maak die beste gebruik van die ligter en warmer dae en raak as gesin aktief. Elke beweging tel, soos om huis skoon te maak, op die strand te stap, met die hond te gaan stap of wegkruipertjie saam met die kinders te speel. Gaan ’n ooreenkoms met jouself aan – hoe ongesonder jy eet, hoe aktiewer moet jy wees.

Send this to a friend