Detoks toksiese mense | Vrouekeur

Detoks toksiese mense

Dis maklik om te sê mens moet toksiese mense uit jou lewe verban, maar jy kan nie altyd nie. Hier is wenke om toksiese mense te detoks

Dis maklik om te sê mens moet toksiese mense uit jou lewe verban, maar jy kan nie altyd nie. Jy wil regtig jou baas met ‘n potplant gooi en dan weghol, maar dit is net nie moontlik nie. Hier is wenke om energievampiere te hanteer

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Jou kollega dreineer jou. Sy kla altyd, van die land wat na ‘n afgrond op pad is tot haar kêrel wat haar oor die afgrond dryf. Teen die tyd wat jy huis toe ry, is jy so moeg en negatief dat jy skaars krag het om ‘n glas wyn te gooi. Hoe hanteer mens energievampiere? Jy kan tog nie elke toksiese mens uit jou lewe sny nie …
Energievampiere, ter verduideliking, is daardie mense wat jou dreineer en elke stukkie energie uit jou suig. Jy kry verskillendes natuurlik: die chroniese klakouse, die emosionele boelies, die chroniese slagoffers, die chroniese blameerders, die als-gaan-oor-my-mense, en en en.

Oorlewingswenke

  •  Moenie die energievampier in jou lewe altyd tevrede probeer stel nie. Onthou jy is nie vir ander mense se gevoelens en geluk verantwoordelik nie.
  • As die persoon jou in ‘n argument probeer betrek, bly daaruit. Bly kalm, haal diep asem en besef dis nie jou tyd en energie werd nie.
  • Probeer om af te sny as diesulkes oor hulself begin praat of kla of maak hulle eenvoudig stil: “Sarie, ek is so jammer vir dit waardeur jy nou gaan, maar ek dink dis beter om iemand professioneels daaroor te sien. Ek kan ongelukkig nie help nie en het ‘n wavrag werk om vandag deur te werk.”
  • Wees op en wakker om manipulasie raak te sien. Jy mag ter wille van jou eie geestesgesondheid nee sê.
  • Stel grense – kies hoe ver jy hulle in jou lewe gaan toelaat of nie. As ‘n familielid byvoorbeeld jou altyd kritiseer en jou energie dreineer, probeer om kuiers te verminder tot ‘n uur of twee se koffie-afspraak en nie ‘n hele dag se braai nie.
  • As die energievampier begin skinder en lelike goed van ander mense sê, verander die onderwerp. Praat oor die weer of vertel iets moois van iemand. Probeer die gesprek vinnig in die kiem smoor.
  • As ‘n energievampier in ‘n senior posisie by jou werk is en jy nie ‘n keuse het as om te luister nie, probeer om op iets te fokus wat positief is. Dink aan die naweek wat voorlê en dink aan die fantastiese pos wat jy eendag gaan kry by ‘n werksplek wat baie beter en positiewer is.
  • Gebruik jou ondersteuningstelsel as toksiese mense jou aftrek. Ontlaai in die aand by jou geliefde en deel die pyn.
  • As energievampiere begin spog of die aandag na hulself trek, verander weer eens die onderwerp of maak ‘n einde aan die gesprek. Ignoreer ‘n narsis!
  • As jy toksiese vriende het wat jou ongelukkig maak, onthou daai uitdrukking van “geen mens is ‘n eiland nie”. Ons het almal mense in ons lewe nodig en daar is betroubare, goeie vriende wat jou waardes gaan deel. Ontmoet nuwe mense en reik uit.
  • As jy emosioneel geboelie word, moenie ‘n vloerlap wees nie. Jy het die reg om menswaardig behandel te word. Wees selfgeldend en staan op jou regte.
  • Toksiese mense is gekonfyt daarin om die blaam te verskuif. Vertel hulle waar hulle foute maak en wys hulle daarop en hoe hulle die situasie anders kon hanteer het.
  • Ten slotte, wees jouself en maak ‘n kopskuif. Jy hoef nie mense se negatiwiteit soos ‘n spons op te suig nie.

Lees hier meer oor die onderwerp:

www.heysigmund.com
www.scarymommy.com
www.lifehack.org

Send this to a friend