'Ek soek ’n baba, maar nie ’n man nie" | Vrouekeur

‘Ek soek ’n baba, maar nie ’n man nie”

In die Vrouekeur van 13 April 2018, op bladsy 22-23 gesels ons oor dié onderwerp. Hier is ekstra inligting

“Vroue moet hulleself afvra: ‘Hoekom wil ek dit doen?’” sê Liesl Saayman, ‘n lewensafrigter, oor enkellopende vroue wat doelbewus besluit om swanger te word. “Daar kan edele redes wees, maar dit kan ook wees dat die besluit selfsugtig geneem word. ’n Kind is ’n lewenslange verbintenis en ouerskap gee ’n nuwe dimensie aan jou lewe. Indien jy eensaam is en ’n leemte in jou lewe wil vul, moet jy besef dat jy as ouer dikwels meer alleen gaan wees. Baie enkelouers sal ook sê dat enkelouerskap veel meer uitdagings het as wanneer daar twee ouers is.

LEES OOK: Hoe om jou kind voor te berei vir ‘n nuwe baba

“Die idee van moederskap en die feit dat jy alles self kan doen, is soms meer idillies as die werklikheid. Jou besluit gaan gevolge hê waarmee jy vooraf moet vrede maak. Maak ’n lys van die uitdagings waarmee jy vermoed jy gekonfronteer gaan word. Is jy in ’n finansiële posisie om ’n kind te versorg? Hoe gaan ’n kind jou loopbaan affekteer? Kan jy die nodige tyd aan jou kind afstaan en jou loopbaan behou? Die tydsdruk op ’n enkelouer is dikwels net so erg soos die finansiële druk.

“Wees doodeerlik oor hoekom jy ’n kind op jou eie wil grootmaak. Dit is nie ’n ligte besluit nie en nie een wat emosioneel geneem moet word nie. Indien ’n vrou egter gereed is om ’n baba te hê en in al die baba se behoeftes kan voorsien, indien sy voel dis ’n logiese, weldeurdagte besluit en bewus is van die impak wat haar besluit op haar kind gaan hê en bereid is om dit te hanteer, glo ek sy het die regte besluit vir haar individuele situasie geneem.”

Send this to a friend