Ma van die jaar: Jy weet jy het kinders in die laerskool as jy …

MA_VAN_DIE_JAAR

Ag, dis geyk, ons sê dit almal, maar kan jy glo ons is aan die einde van nog ‘n skooljaar? Met my kinders in die laerskool, het ek gaan dink aan dinge waarvan laerskoolma’s weet

Jy weet jy het kinders in die laerskool as jy …

  • al die hasiegrappies ken. As jy nie een ken nie, hier is ‘n lekker floue: Wat noem jy ‘n hasie in ‘n tumble dryer? Spinhasie!
  • weet wie Jan Bloukaas is. Hy sing liedjies soos “Ek hou van kaas, bra”, “Kyknet en tjil” en laerskoolkinders het ‘n verbasende vermoë om al die woorde te onthou. Hulle kan dalk nie onthou wat hulle die oggend geleer het nie, maar hulle sing sy liedjies woord vir woord saam.
  • op minstens twee of drie WhatsApp-groepies is, maar steeds nie weet wat in die skool aangaan nie.
  • deur al wat ‘n moet-hê-fase is, van fidget spinners tot neonslym tot albasters.
  • by die dag meer oor maanfases, plantstelsels en maaltafels weet.
  • dit oorweeg om ‘n “petty cash”-stelsel vir die huis te kry, want jy kort konstant geld. Vir die Tandmuis, entrepreneursdae, snoepies, skenkings … Die lys hou nie op nie.
  • chronies besittings moet merk, want soos dit skool toe gaan, word dit verloor.
  • al gewoond daaraan is dat daar pal maatjies genooi moet word.
  • weet wat ‘n laerskoolkys beteken. Kom ek verduidelik: iemand word gewoonlik uitgevra met ‘n briefie en dan hoef jy nooit weer met jou kys te praat nie.
  • ‘n eksamen vrees soos toe jy in die skool was, want jy weet jy moet saamleer en dit gaan ‘n gekners van tande wees.
  • male sonder tal in die oggend histeries raak en begin goed omdop en soek, want dan onthou ‘n kind skielik van iets wat hy moet skool toe vat. Dit kan enigiets van skuurpapier tot ‘n taak wees.
  • al ‘n “fake” lag perfek kan namaak vir die mees onsnaakse grappies in die heelal.
  • op hoogte van cool toeps is soos dié waar hulle kan sing en dans. Jy was dalk al self ‘n prop in een van die video’s!
  • al geld moes opdok vir buitekurrikulêre aktiwiteite wat hulle ná een kwartaal verveel het.
  • al jouself moes terughou om nie iets vir anders kinders te sê wat lelik met jou kind is nie.
  • weet dat skool hoogte- en laagtepunte behels en dat dit ons werk is om hulle te troos, trane af te droog, op te tel, te motiveer en weer te laat aangaan.
  • weet hoe week klein lyfies in oorgroot skooluniforms jou hart maak.

Ek drink ‘n heildronk op alle ma’s. Ons het nog ‘n skooljaar oorleef!

Sterkte vir 2019.

Send this to a friend