Eksamentyd! | Vrouekeur

Eksamentyd!

Agter kinders wat eksamen skryf, is daar bekommerde ouers wat moet motiveer en help. Ons het ouers vir eksamenwenke gevra

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Dis weer tyd vir die laaste skooleksamen van die jaar en ja, soms moet Ma en Pa net so hard soos hul kinders vir die eksamen leer. Party kinders leer makliker as ander en sommige kinders moet behoorlik gesoebat, gesmeek en gedreig word om hulle voor die boeke te kry. Watse wenke het ouers vir ander ouers? Ons vind uit.

Maja Jacobs

Ons begin so drie weke voor die eksamen leer – elke tweede dag ‘n ander vak.

Ek gee vir my dogter een lepel stroop per dag tydens eksamentyd wat met konsentrasie, breinfunksie en rustigheid help. Dit is spesiaal vir kinders geformuleer wat eksamen skryf.

Ek gee ook vir haar spesifieke tye wanneer sy wat moet doen. Soos leertyd en ontspantyd. As dit leertyd is, moet die selfoon af.

Roline Haine

My oudste seun skryf tans matriekeksamen. Ek het seker gemaak dat sy studieplek netjies en gemaklik is met ‘n studielamp en ‘n waaier. Sy eksamenrooster is teen die yskas opgeplak sodat almal in die huis weet wanneer hy skryf en dit respekteer.

Ons het oor studietyd ooreengekom en ek probeer my bes om hom daarby te laat hou. Ek het ook vir hom vorige vraestelle gekry wat hy deurwerk en ek vra uit oor die onderwerpe waaroor hy skryf sodat ek kan agterkom of hy sy werk ken of nie.

Ek gee vir hom B-kompleks-vitamiene en het ‘n lekker “survival kit” met sy gunstelingpeuselhappies vir hom saamgestel. Ons studiereël is dat die kinders hul selfone afsit en dit vir my gee as hulle studeer.

Anneli Argella

Ons maak rympies vir my graadviertjie op en wat vir my seun werk, is as ons die rympies snaaks maak – soms ook met swetswoorde! Dis al hoe ek hom kan kry om van geskiedenis te hou.

Moryn Hanzen

Begrip bly die eerste prys in baie vakke.

Alida Ryder

Ons kry ons afbakening ‘n maand voor dié tyd en dan begin ons dadelik opsom. Ek stel ‘n rooster op vir twee weke voor die eksamen en verdeel die vakke tussen die dae op. Ek het ‘n tweeling en dit werk om vooruit te werk sodat ek kan sien of daar werk is waarmee hulle sukkel en dit betyds regstel.

Shanda Luyt

Herhaal, herhaal, herhaal met breinkaarte en opsommings. Beweeg terwyl jy leer. Baie hang van jou leerstyl af so dit help as jou kind sy leerstyl ken en benut, teken prentjies wat jou kan help onthou. My een dogter maak stories op om haar feite te help onthou en ek het gevind dit werk goed in my klasse ook. Rympies kan ook werk solank hulle nie so op die rympie fokus dat hulle die feite vergeet nie. En laastens: vraag en antwoord. Baie kinders ken die feite, maar weet nie watter vraag dit beantwoord nie. Om vrae te beantwoord, help ook met herroeping.

Aniki Joseph

Ek het vier kinders wat reeds skool voltooi het en die laaste twee studeer nou in Kaapstad.

My wenke:

  • Glo in jou kinders.
  • Laat hulle self doelwitte stel en ondersteun dit.
  • Skep ‘n rustige atmosfeer in die huis.
  • Maak seker hulle nuttig ‘n proteïenryke ontbyt.
  • Hou genoeg gesonde peuselhappies byderhand (soos neute, droë vrugte, biltong, ensovoorts).
  • Moedig hulle aan om genoeg water te drink.
  • Fisieke aktiwiteite bly belangrik. Oefening is goed vir breinfunksie.
  • Eet gesonde maaltye wat vars groente en vrugte insluit.
    Vermy onnodige vetterige kosse vol suiker.
  • Maak seker daar is tyd vir rus en ontspan tussen die studies.
    Die ergonomie van die plek waar die kind sit en studeer is ook belangrik – genoeg lig en vars lug.
  • Vul skryfbehoeftes aan vóór die eksamen begin.
  • Wees betyds vir skool. Dit verminder angs. Vertrek bietjie vroeër as dit moet.
  • Hou die kommunikasie oop sonder om ‘n helikopterma te wees.
  • Vertrou jou kinders. Hulle voel dit aan.
  • Onthou ook dat verskillende mense op verskillende maniere studeer. Aanvaar dit.
  • Wees daar vir hulle sodat hulle vry en gemaklik voel om te gesels as dit ‘n moeilike dag of vraestel was.
  • Help hulle om te verstaan dat die uitslae nie hul waarde as individu of mens bepaal nie, maar wel ‘n stap nader aan hul eie drome is.
  • Wees net lief vir jou kinders. Sê dit, wys dit.

Maretha Botes

As jou kind met sekere vakke sukkel, stuur hulle na iemand wat hulle kan help. Dit verlig baie spanning.

Janet Thiele

Opsommings het altyd vir my gewerk en hulle moet baie piesangs in eksamentyd eet, want dit is goed vir die brein en help glo om inligting beter te onthou.

Linda Snyman

Ouers moet nooit ‘n groot ophef maak as die kinders in graad 4 begin eksamen skryf nie. Ondersteun net deurgaans met die skoolwerk. Sodoende ken jou kind die werk met die toetse.
Natuurlik werk ‘n bietjie omkoop ook nou en dan: “As jy hierdie stuk werk klaarmaak, kan ons iets lekkers doen.”

Suzanne Niewoudt

My meisiekind leer maklik, maar ek moet langs my seunskind sit en letterlik alles saam met hom leer. Ek glo kinders leer deur te sien, te hoor en te skryf. Dus as ons feite leer, skryf ons dit neer, lees dit hardop en herroep dit daarna. Teen die dag voor die eksamen behoort mens net vrae oor die werk te vra, maar ek weet dit werk nie altyd so nie.

Verdi Snyman

Ons gebruik die spinnekopmetode of breinkaarte en dan sal ons verder lyste van kenmerke, ensovoorts, onthou deur humor by te voeg met snaakse prente of snaakse stories. Byvoorbeeld: Om al die plaasdiere te moet onthou, kan jy elkeen in ‘n vertrek in die huis sien. Die koei gooi vir hom melk in die kombuis in. Die vark lê in die bad, ensovoorts.

Send this to a friend