Tyd = liefde | Vrouekeur

Tyd = liefde

Hoeveel onverdeelde aandag gee jy elke dag vir jou kinders? In Pieter van Jaarsveld se jongste boek kyk hy onder meer na hoe nodig kinders dié aandag het

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Dr Pieter van Jaarsveld is ‘n internasionale spreker en kenner op die terrein van positiewe denke. Sy jongste boek, ‘n Gelukkige kind – Bemagtig jou kind om positief te dink, is ‘n omvattende ouerskapsgids wat kyk na hoe kinders se koppe werk en hoe ‘n mens ‘n gelukkige en gebalanseerde kind kan grootmaak.

In een van die hoofstukke noem hy tereg dat almal die uitdrukking ken dat kinders liefde as T-Y-D spel.
Pieter sê elke kind het alleentyd by ‘n ouer nodig. “Hierdie behoefte is net so sterk soos die behoefte aan kos en water. Dit vestig ‘n verhouding wat van kameraadskap, beskikbaarheid en betrokkenheid getuig. En ‘n sterk ouer-kind-verbintenis is beslis die belangrikste hoeksteen wat jou kind sal help om ‘n goeie selfbeeld te bou.

Pieter skryf van Zig Ziglar wat die verhaal van ‘n jong man vertel het wat tot tronkstraf gevonnis is. Die regter het die jongman se pa, ‘n bekende in die regswêreld, goed geken en daarom ook die jongman van sy kinderdae af geken.

“Onthou jy jou pa?” het die regter gevra.
“Ek onthou hom baie goed, Edelagbare,” het die jongman geantwoord.
Met die gedagte om die jong man se gewete aan te raak, vra die regter toe: “Noudat jy op die punt staan om gevonnis te word, wat onthou jy die heel beste van jou wonderlike pa?”

“Ek onthou die keer toe ek vir hom raad wou vra,” het die jong man gesê. “Hy het opgekyk van die boek wat hy besig was om te skryf en vir my gesê: ‘Gaan speel eers, seun, ek is besig.’ Toe ek hom nodig gehad het, het hy weggedraai en gesê: ‘Ek kan nie nou nie seun, die boek moet klaarkom!’ Edelagbare, u onthou hom as ‘n wonderlike regsman. Ek onthou hom as ‘n verlore vriend.”

“Hoe droewig!” het die regter gesê. “Die boek is klaar, maar sy seun is verlore!”
Pieter skryf oor ‘n radioprogram wat hy behartig het, wat op adolessente se probleme gefokus het. Op die laaste dag van die reeks programme het ‘n groep graad 12-leeders by hom in die ateljee aangesluit.
Een van die seuns het vir hom gesê: “Daar wag vir my ‘n BMW in ons motorhuis. Verlede maand het my pa my Duitsland toe geneem. Maar ek wil nie sy geld hê nie. Ek wil hê hy moet vir my tyd hê en tyd maak.”
Pieter noem dat spesiale tyd saam met jou kind nie is om saam TV te kyk of net saam in dieselfde vertrek te wees nie. Dit is veel meer as dit.

Hy vertel dat Janis-Norton spesiale tyd met ‘n kind as volg beskryf:

  • Een ouer saam met een kind.
  • Doen iets wat julle albei geniet.
  • Dit hoef nie baie geld te kos nie.
  • Dit is beslis nie tyd voor ‘n skerm nie.
  • Dit moet voorspelbaar wees.
  • Dit moet elke dag gebeur as dit enigsins moontlik is.
  • Dit moet minstens tien minute duur.

Pieter skryf dat hy eenkeer gehoor het die gemiddelde pa in Suid-Afrika bring 12 en ‘n half minute per week saam met sy kind deur en van hierdie minute is agt minute negatief gelaai.
Dit terwyl die ideaal is om ongeveer 30 minute onverdeelde aandag per dag aan elke kind te gee. Dis nie altyd moontlik nie, maar dan is tien minute per dag ononderhandelbaar, skryf Pieter. Dit is ‘n vereiste.

Hy gee die volgende wenke:

  • As jou kind vir jou vertel van ‘n fliek wat hy gesien het, luister na hom al val die fliek nie in jou smaak nie. Hoe jy luister en die feit dat jy luister, is vir jou kind noodsaaklik. Dit laat hom voel: “Ek is belangrik genoeg dat iemand na my luister. As jy nie kan luister nie, verduidelik hoekom jy nie kan nie, maar belowe dat jy later tyd sal maak. Sodra jy klaar is, gaan na jou kind toe en luister aandagtig.”
  • Maak seker dat jou kind genoeg tyd het om ‘n spesiale verhouding met jou te bou. Deesdae word kinders van die een oefening ná die ander gejaag. Op die ou end daag ouer en kind doodmoeg by die huis op. Moenie dink jy moet jou kind grootmaak sodat hy eendag ‘n uitvoerende hoof sal wees nie. Jou doelwit moet wees om ‘n gelukkige kind groot te maak.
  • Maak saam kos. Dit is ‘n wonderlike tyd om saam te wees en te gesels. Sorg net dat jou kind dit nie as werk ervaar nie. Gee vir hom take om te doen wat sy selfvertroue sal bou.
  • Gaan stap met die honde en gesels ontspanne.
  • Werk saam in die tuin.
  • Moet nooit die waarde van ‘n rustige etenstyd onderskat nie.
  • Gebruik jul tyd saam min die motor sinvol. Jul gesprekke kan jul verhouding laat verdiep. Gebruik jou kinders se slaaptyd as ‘n spesiale tyd saam.
  • Kinders het spesiale tyd met albei ouers nodig, maar veral met die ouer van dieselfde geslag. Pa’s moet dus alles in hul vermoë doen om elke dag 10 minute met hul seuns deur te bring.
  • As jy baie reis, gebruik Skype, WhatsApp, teksboodskappe en die telefoon om kontak met jou kinders te behou.
  • Onthou, dis die klein dingetjies wat positiewe kameraadskap laat ontwikkel. As jy dinge saam met hulle doen, bou jy hul selfrespek en selfvertroue.

Pieter van Jaarsveld se boek, ‘n Gelukkige kind – Bemagtig jou kind om positief te dink, word deur Lux Verbi uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar

Send this to a friend