Verbeelding teen vrese | Vrouekeur

Verbeelding teen vrese

Jou verbeelding kan nuttig wees, veral om vrese te besweer, sê ’n kenner

Ons is almal bang vir iets – of dit nou vir spinnekoppe, hysbakke of hoogtes is. As mens daardie dinge wat jy vrees teëkom, begin jou hartklop versnel, jou hande raak sweterig of jy voel dalk of ‘n groot hand jou keel toedruk. Dis wat mens ‘n reaksie op vrees noem en dit bestaan juis om ons te help om potensiële pyn te vermy.

Baie van ons is bang as die fisieke bedreiging daar is, maar wanneer die vreesreaksie gebeur sonder dat daar ‘n bedreiging is, kan dit tot posttraumatiese stresversteuring, fobies of angstigheid lei, skryf Valerie van Mulukom, ‘n neurowetenskaplike aan die Coventry-universiteit op die webwerf www.theconversation.com.

Valerie sê ‘n nuwe studie sê egter dat iets so eenvoudig soos jou verbeelding jou kan help om vrees te oorkom.

“As ons iets vrees, ervaar ons ‘n neurale reaksie en ‘n fisiologiese reaksie tot die bedreiging. As jy jou ‘n bedreiging verbeel, word emosionele prosesse geaktiveer en omdat daar nie ‘n onmiddellike gevaar is nie, sal herhaalde verbeelding help om die stimulus van die verwagte bedreiging te skei. Dit verswak die brein se assosiasie tussen die stimulus en die verwagte uitkoms. As ‘n gevolg, verminder dit ook die neurale en fisiologiese gevolge daarvan,” sê Valerie.

Sy glo die moontlikhede om verbeelding in kognitiewe terapie te gebruik, is eindeloos. En aangesien dit ‘n prosedure is wat min kan kos, kan verdere intervensies ontwikkel word en in huidige terapie geïnkorporeer word.

Daar is egter ook gevare verbonde aan die gebruik van verbeelding in terapie, skryf Valerie, aangesien daar al bewyse was dat verbeelding gebruik kan word om valse herinneringe te skep en negatiewe simptome te laat toeneem.

Lees die volledige artikel hier

Send this to a friend