Die waarheid oor verhoudings | Vrouekeur

Die waarheid oor verhoudings

verhoudings

JB Roux gesels met die skrywer van ʼn nuwe boek oor verhoudings oor dit wat paartjies kwel

 

’n Leser sê: “Ek was vir niks so bang nie soos ’n sieldodende huwelik met twee mense wie se gesprekke beperk geword het tot voorspelbare nietighede. Dis presies wat gebeur het. Ek verlang na die dae toe daar opwinding tussen ons was, maar my man is tevrede met hoe dinge nou is.”

“Jy het ’n keuse om aan die aanvaarding dat dinge nie gaan verander nie, te werk,” sê Stefan Blom, skrywer van Die waarheid oor verhoudings. “Een persoon kan ’n positiewe invloed hê deur eerstens aan haarself te werk. Die veranderinge wat één persoon maak, verander dikwels die verhouding, maar natuurlik is daar ’n beperking op die ‘nuutheid’ wat jy op jou eie na jou verhouding kan bring.

“As jou lewensmaat gelukkig is met hoe dinge is maar jy het verandering nodig, kan jy eerlik wees oor jou behoeftes en hom nooi om saam met jou aan moeite met julle verhouding te doen. ’n Uitnodiging is ’n kragtige manier om jou lewensmaat te vra om deel te wees van wat vir jou en jou verhouding belangrik is. Nooi hom om saam met jou ’n reis na verandering aan te pak en te deel in die vreugdes van die lewe.

“So ’n uitnodiging moet nooit neerbuigend, voorskriftelik of verwytend wees nie, maar eerlik en liefdevol. Jy sal miskien nie altyd ’n antwoord kry nie, maar hou aan probeer. Elke uitnodiging skep ’n bewustheid van wat jy in jou verhouding nodig het en ’n geleentheid om meer van mekaar te hoor en sien.”

 

Send this to a friend