‘n Skewe spieëlbeeld

Wil jy jouself in jou kind sien en wat is die impak op hom of haar? vra Kristel Loots

Wat ons van ons kinders verwag, word dikwels bepaal deur die spieëlbeeld wat ons van onsself sien, ons behoef­tes en ook die kultuur van die samelewing waarin ons leef.
Wanneer jy jouself in jou kind weerspieël sien, is dit soms met trots en soms met verskrikking. Dit kan ook gebeur dat jy iemand anders in jou kind herken en dit nie noodwendig tot sy voordeel strek nie. ’n Spieëlbeeld raak maklik verwronge omdat ’n ouer óf deur roosgetinte lense óf deur newels kyk terwyl jou kind veronderstel is om ’n mens in eie reg, met onafhanklike en unieke karaktertrekke, te wees. 
 

Die grootste gevaar in die opvoeding van jou kind lê miskien daarin dat jy self dikwels nog onopgeloste konflik met jou saamdra. Theresa van den Berg, opvoedkundige sielkundige van Monumentpark, Pretoria, wys daarop dat jy vertroue in jou eie menswees en vermoë as ouer moet hê. Eers dan kan jy jou kind leer om sy eie keuses uit te leef én die verantwoordelikheid daarvoor te dra.
Sy waarsku dat ouers wat hul kinders met skuldgevoelens of emosionele bagasie grootmaak, hul eie lewenservaring, wat nie altyd positief is nie, op hulle afdwing en só hul kind van sy eiewaarde, onskuld, mening en vertroue in homself beroof.
 

Wanneer jy byvoorbeeld in jou kinderdae deur ’n ouer broer of suster oorheers en geboelie is, duik die geleentheid om “wraak te neem” of die ouer broer terug te betaal gewoonlik nooit op nie. Die behoef­te om dit te doen, word dalk onderdruk, maar die ou, onverwerkte frustrasie en woede smeul nog onbewustelik in jou psige. Daarom identifiseer jy makliker met die jonger kind in die gesin. Die oomblik wat die ouer kind die jonger broer of suster wil domineer, kom die herinneringe aan jou eie magteloosheid uit jou kinderdae na vore en straf jy, vanuit die magsposisie waarin jy nou verkeer, daardie kind dalk oordrewe. Ouers moet daarvan bewus wees dat hulle emosionele wesens is wat maklik subjektief kan optree en so aan ’n kind, wat heeltemal onskuldig is, baie skade kan berokken.
Volwassenes wat narsisties optree, word maklik as “vol van hulself” beskou, maar dikwels is hulle as kinders verwond en probeer hulle juis ’n leemte met hul selfbeheptheid vul.
’n Kind is veronderstel om deur sy ouers bewonder te word en met positiewe beelde van homself gevul te word. Aanvanklik word die spieëlbeeld wat jy sien, net deur jou ouers gevorm. Later kom ander bronne by en speel sosiale vergelyking sowel as prestasie-ervarings ’n rol, maar ’n jong kind is nog nie tot onafhanklike evaluasie van sy eie waarde in staat nie. Daarom is hy van sy ouer se goedkeuring afhanklik om ’n positiewe beeld van hom te skep.
Gebeur dit nie, soek jy lewenslank na daardie erkenning en rimpel die effek verder uit wanneer jy later jare op jou beurt dit dalk deur jóú kind probeer bekom. Sy prestasies is dus eerder joune as syne. Slaag hy nie daarin om jou tevrede te stel nie, word sy selfdoeltreffendheidspersepsie negatief beïnvloed en begin die bose kringloop van voor af. 
 

Pasop hiervoor

FAMILIENAME KAN ’n INVLOED OP DIE SPIEëLBEELD Hê Volgens kenners kan selfs die gewoonte om vir jou kinders familiename te gee, tot hul nadeel strek. ’n Voorsaat wat dalk al tot stof vergaan het, kan miskien nog met veiligheid vernoem word, ás jy goeie herinneringe aan hom het. Wanneer die persoon nog leef, moet die besluit met groot omsigtigheid geneem word. Selfs al voel jy op die doopdag ’n toegeneentheid teenoor die een wat vernoem word (en hoop jy op ’n stewige erfporsie vir jou kind) is daar geen waarborg dat dit só gaan bly nie. Familievetes kan opduik wat die waters uiters kan vertroebel.
As jou dogter na jou skoonma genoem is en julle sit later nie om dieselfde vuur nie, gaan dit vir jou amper onmoontlik wees om nie die assosiasie met “daardie feeks van ’n vrou” te maak nie.
Melinda* sit in die onbenydenswaardige posisie dat sy na ’n geliefde tannie genoem is, wat voor haar geboorte jonk in ’n fratsongeluk gesterf het. “Blykbaar het hierdie naamgenoot van my net duskant ’n heilige gaan draai,” kla Melinda. “Ek lyk glo op ’n haar nes sy. Die familie verlang na haar en almal soek haar in my. Ek is nie soos sy nie. Ek is kort van humeur en dit word my nie vergewe nie omdat almal, van my ouma tot my ma en die res van die susters, my met háár vergelyk.”
Volgens Theresa kan onrealistiese ver­wagtinge veroorsaak dat ’n mens so op ’n emosionele verlede gefokus kan bly dat jy jou kind sy vryheid van menswees ont­sê. “Daar behoort ’n band van vertroue tus­sen jou en jou kind te wees. Dit sal hom help om te waag waar hý wil en so sy eie lewens­ondervinding en sukses na te streef.”

VERWAGTINGS MOENIE TE HOOG WEES NIE
Alle ouers is aanvanklik onervare en verwag moontlik te veel van hul kinders. Jou oudste kind se kamer lyk soos ’n varkhok en jy neul daaroor sonder om veel reg te kry, behalwe om julle al twee ongelukkig te maak. Wanneer jou tweede kind ook in ’n varkhok tuis voel, slaan jy jou oë hemelwaarts, maar jy weet van beter as om ’n bohaai daaroor te maak. Nog later aanvaar jy die chaos as normaal en trek jy eenvoudig die kamerdeur toe om in vrede in jou geordende deel van die huis te leef.
 
AS JY NA ANDER SE GOEDKEURING SMAG Wanneer die goedkeuring van ander mense vir jou belangrik is en jy graag as ’n modelouer geklassifiseer wil word, gaan jy in sekere situasies in ’n despoot ontaard en van jou kind die gedrag verwag wat vir dáárdie persoon van belang is. Die predikant kom kuier onverwags en jy sterf van skaamte as Ouboet se “duiwelsmu­siek” oorverdowend vanuit sy kamer opklink en hy kaalvoet en met toiings soos ’n vlugteling uit donker Afrika in die sitkamer ingeslenter kom.
Maar wanneer jou vriendin, wat eintlik ’n cool tannie is, haar opwagting maak, spog jy met die funky klein blikskottel se duiwelsmusiek en geskeurde jeans. Geen wonder jou kind weet nie altyd wat van hom verwag word nie.

STEREOTIPES is problematies Ste­reo­­ti­pes bepaal ook dikwels die spieëlbeeld wat jy van jou kind wil sien:
’n Stil kind is veronderstel om soet te wees. Wanneer jou stil kind die dag ram­me­tjie-uitnek raak, is jy so geskok dat die oor­tre­ding buite verhouding aangeblaas word.
Cowboys mag glo nie huil nie, daarom word jou sensitiewe seun nie toegelaat om sy gevoelens te wys nie.
Soms word daar nog geglo meisies moet kan tee maak, daarom word daar maklik skeef opgekyk na jou rabbedoe wat nie tuis in ’n kombuis voel nie. 

TEENSTRYDIGHEDE KAN VERWAR Soms sien jou kind ’n spieëlbeeld wat nie vir hom sin maak nie. Jy vra byvoorbeeld nie verskoning vir jou optrede wanneer jy jou gesag laat geld nie, maar vir hom is dit nie toelaatbaar om homself op dieselfde manier te laat geld nie. 

Help jou kinders só

Jy kan jou kinders help sodat hulle as ’n unieke wese ervaar word.
Gee komplimente waar dit toekom, selfs al is dit nie op ’n gebied wat jý noodwendig as waardevol beskou nie. ’n Sportprestasie moet erken word, selfs al is jy meer akademies ingestel.
Stel redelike eise. Nie almal kan ’n prima ballerina wees nie. As jý dit nie kon regkry nie, moenie dit van jou dogter verwag nie. As jy wél in die kollig geskitter het, is dit eweneens nie te sê jou lomper dogter gaan in jou fyn voetjies volg nie.
Alle kinders verdien respek vir hul uniekheid. Theresa wys daarop dat positiewe ouerskap beteken dat jy nie jou skuldgevoelens, seer en kwaad uit die verlede op jou kinders projekteer nie. 
Sy beveel ook aan dat jy die voorbeeld sal leef wat jy wil hê jou nageslag moet naleef. “Modelleer vir jou kind ’n positiewe manier om foute en mislukkings te hanteer en met vertroue in jouself en jou besondere vermoëns aan te beweeg.”   Vk
*Skuilnaam

Bel Theresa by 012 346 0790 of stuur ’n e-pos na [email protected]

Send this to a friend