Huwelike in gevaar | Vrouekeur

Huwelike in gevaar

SA Huweliksweek word van 1 tot 7 September gevier en die organiseerders daarvan deel interessante statistieke

Volgens Statistiek SA het 44,4% van 2016 se huwelike nie eens tien jaar lank gehou nie. Die meeste egskeidings was onder paartjies wat vyf tot nege jaar getroud was.

Nog interessante statistieke is dat 25 260 egskeidings in 2015 toegestaan is, en 25 326 paartjies in 2016. Dis ‘n styging van 0,3%.

Dus, hoe vergelyk 2016 se skeisyfer met vroeër jare? As mens die afgelope 13 jaar se statistiek in ag neem, het die meeste egskeidings in 2005 plaasgevind (met 32 484!) Die laagste skeisyfer was in 2011 met 20 980 gevalle.

In 2016 het die ouderdom van mans en vroue wanneer hulle skei onveranderd gebly – onderskeidelik 44 en 40 jaar.

Toenemende egskeidings is ‘n wêreldwye tendens, met een Amerikaanse paartjie wat elke 13 sekondes skei. Maar dit is Suid-Afrikaanse statistiek wat ‘n mens onrustig stem.

Wilmé Steenekamp, ‘n kliniese sielkundige en seksuoloog, erken die feit dat die samelewing en eise daarvan gedurig verander. Dit is dus onvermydelik dat huwelike ook gaan verander, maar sy sê ook dat ons spesie deur die jare geleer het om by ons veranderende omstandighede aan te pas.

“Sê wat pla en wat elkeen se behoeftes is. Onderhandel met mekaar oor bevrediging van behoeftes. Beplan hoe om voortdurend aan jou verhouding te bou. Elke party in ‘n huwelik het ‘n gelyke verantwoordelikheid om aan hul huwelik te werk om dit ʼn sukses te maak,” meen Wilmé.

“As net een persoon in ‘n verhouding werk, gaan die ander een ongelukkig wees. Elkeen se behoeftes is geldig. Daarom is eerlikheid en onderhandeling die sleutel tot sukses.”

Wilmé meen dit is belangrik vir ‘n paartjie om te vra: “Wat is die doel van ons huwelik?” En om dan te doen wat nodig is om fokus op hierdie doelwit te behou deur eerstens aan onsself as individue en tweedens aan ons huwelike te werk.

Wanneer julle weer voor die volgende bult te staan kom, vra jouself af: Is dit waarlik die moeite werd om nou handdoek in te gooi? Word vanjaar deel van SA Huweliksweek wat plaasvind vanaf 1-7 September, deur op www.sahuweliksweek.co.za te registreer.

Besoek www.sahuweliksweek.co.za en www.facebook.com/sahuweliksweek

Send this to a friend