Bipolêre steuring: Als wat jy moet weet | Vrouekeur

Bipolêre steuring: Als wat jy moet weet

Bipolêre versteuring ruïneer lewes, verpletter selfbeeld en dryf baie na selfmoord.

Deur: Elri Rautenbach

Verwilderd kyk sy om haar rond – sy kan nie onthou hoekom sy supermark toe gekom het nie! Sy loop nog rustig deur die rakke, maar raak dan meteens paniekbevange. Sy bewe, voel dronk en sukkel om asem te haal. Sy gooi haar mandjie neer en laat spaander vir die uitgang.

Só verloor ‘n mens met bipolêre versteuring beheer oor sy lewe, wat veroorsaak dat alledaagse take en besluitneming moeilik raak. Die wêreld word net té veel om te hanteer, daarom leef die bipolêre mens net van dag tot dag.

As jy bipolêr is probeer jy voortdurend jou lewe herbou – net om te ervaar hoe dit weer ineenstort. Soggens is dit ‘n stryd om op te staan en aan die gang te kom. Ander dae staan jy vol energie op, net om dan weer skielik te sukkel om jouself so ver as die badkamer te kry. Jy voel voortdurend moeg aangesien dit voel asof jou brein nooit kan afskakel nie.

Baie mense ly jare lank aan dié siekte voor hulle gediagnoseer en behoorlik behandel word.

Wat is bipolêre versteuring?

Bipolêr beteken letterlik “twee pole” wat in die brein aangetref word. Dié twee pole verduidelik die twee toestande van ‘n bipolêre mens, naamlik die hipomaniese fase (die oppool of high) en depressie (die afpool of low), verduidelik dr Franco Colin, ‘n psigiater van Pretoria.

“Daar is ‘n groot verskil tussen bipolêr en gewone depressie waar die depressielyer nooit in ‘n maniese fase ingaan en die oppool bereik nie.

Twee soorte bipolêr, naamlik bipolêr I en II, kom by pasiënte voor,” verduidelik Franco. Al twee gevalle beleef op- en afpole, maar in die geval van bipolêr II kom die afpole meer gereeld voor wat beteken dat die pasiënt meer depressie ervaar.

‘n Bipolêr I-pasiënt ondervind agt keer meer afpole as oppole, terwyl die pasiënt met bipolêr II 37 keer meer afpole ervaar. Die pasiënt met bipolêr II is dus baie meer depressief. Om dié depressie te vermy kan die pasiënt hom tot slaappille, alkohol en dwelms wend.

Franco sê dit is ongelukkig so dat daar baie gevalle is waar pasiënte met bipolêr nie korrek gediagnoseer word nie. ‘n Dokter wat nie oor die nodige kennis van dié siekte beskik nie, kan die toestand baie maklik met gewone depressie verwar.

“Die op- en afpole volg mekaar op verskillende maniere op,” verduidelik Franco.

“Die eerste patroon is die vinnige verwisseling van emosies (rapid-cycling): jy gaan op-af-op-af vir ure, selfs vir dae. Dié patroon verhoog die gevaar van ernstige depressie en selfmoordpogings.”

Tydens die gemengde episode kom die op- en afpole gelyk voor: die lyer is rusteloos, hiperaktief en sy gedagtes jaag, maar hy voel terselfdertyd ook ellendig, moedeloos en angstig.

Hiérdie is ‘n baie gevaarlike kombinasie, aangesien die lyer impulse ervaar om homself te beseer in ‘n poging om die emosionele pyn te verlig. Sommige lyers vertel dat hulle selfs “stemme” hoor wat hulle aanmoedig om hulself fisieke skade aan te doen deur hulle byvoorbeeld te sny, brand, krap en in erge gevalle, hul bene te breek en kneusplekke toe te dien.

“Jy moet egter dié impulse beveg, want dit bring jou nêrens nie, dit doen net skade,” waarsku Franco.

Worsteling met eetversteurings soos ooretery, anoreksie of bulimie kom ook gereeld voor.

Verloor kontak met die werklikheid

Johan Smuts (50), ‘n bipolêre lyer van Durban, het jare navorsing oor sy siekte gedoen.

Hy vertel in sommige gevalle kan die pasiënt selfs kontak met die realiteit verloor. Dit sluit hallusinasie (hoor, sien of voel iets wat nie regtig daar is nie) en illusies (verkeerde sintuiglik waarneming, droombeelde wat nie verwesenlik kan word nie) in.

Johan voeg by dit is raadsaam, wanneer die lyer in dié fase is, om nie met hom te argumenteer of belangrike sake met hom te bespreek nie.

Navorsing toon die siekte gaan met abnormale vlakke van serotonien, dopamien en norepinefrien in die brein gepaard. Verdere navorsing moet egter nog gedoen word om die breintoestand van die lyer tydens die verskillende toestande presies te verstaan, asook om te probeer vasstel hoekom pasiënte dié siekte opdoen. In sommige gevalle blyk dit dat die siekte oorerflik kan wees.

Die op- en afpole

Die depressie-fase

Tydens die afpool, of depressiewe stadium, is die lyer geneig om homself te onttrek en aanhoudend hartseer en huilerig te wees.

Verdere simptome is eet- en slaapversteurings en ‘n lae gemoed wat gevoelens van hopeloosheid, pessimisme, skuld en waardeloosheid veroorsaak.

‘n Afname in energie laat ‘n gevoel van moegheid wat swak fisieke funksionering veroorsaak en dit moeilik maak om te konsentreer, te onthou en besluite te neem.

Depressie laat die lyer belangstelling in en die plesier van alledaagse aktiwiteite verloor.

Rusteloosheid, prikkelbaarheid, angstigheid en agterdogtigheid kom ook voor.

Johan vul aan: “Ek het al baie vriende as gevolg van my wantroue en agterdog verloor. Dit voel vir my of mense agter my rug opmerkings oor my maak en asof hulle na my kyk asof daar iets met my fout is.”
Depressie kan verslawing versterk en angstigheid verhoog wat weer paranoia en paniekaanvalle vererger. Depressiewe mense se selfmoorddreigemente moet onder geen omstandighede geïgnoreer word nie.

Die manie-fase

Tydens die oppool, of die toestand van manie, is die lyer uiters onverantwoordelik en onvoorspelbaar.

Impulsiewe, roekelose en aggressiewe gedrag kom voor en gaan met oormatige energie, hiperaktiwiteit en abnormale verhoging in aktiwiteit gepaard.

Spraakdruk kom voor wat veroorsaak dat die lyer oormatig, voortdurend en vinnig aan die praat raak, maar self nie noodwendig weet wat hy sê of bedoel nie.

Tydens die maniese toestand verkeer die lyer in ‘n verhoogde toestand van kreatiwiteit en produktiwiteit waartydens hy ook met min slaap oor die weg kan kom.

Ander simptome is rusteloosheid en ‘n onrealistiese geloof in sy vermoëns en krag.

Mania verhoog verslawing en impulsiewe gedra wat na fisieke geweld en onwettige of kriminele gedrag kan lei. Die pasiënt ontken natuurlik dat enigiets fout is.

“Die angstigheid wat met die siektetoestand gepaardgaan, kan veroorsaak dat die lyer beneuk en bakleierig raak,” verduidelik Franco.

Hy sê een van sy pasiënte het hom vertel sy raak so “demonies van kwaadheid” dat sy haarself later nie meer herken nie.

Ongeneeslik

Bipolêre versteuring is ‘n lewenslange, maar behandelbare siekte. Medikasie soos gemoedstabiliseerders word gewoonlik voorgeskryf om te help om die pasiënt stabiel te hou. Soms word ander medikasie bygevoeg om die verskillende tydperke van manie of depressie te beheer.

Franco sê die psigiater moet aan die pasiënt verduidelik watter medikasie en behandeling gebruik word en hoekom. “Mense wat aan bipolêre versteuring ly, kán ‘n gesonde en produktiewe lewe lei as die siekte doeltreffend behandel word.”

Hy waarsku egter dat sommige antidepressante die siekte kan vererger.

Leef met bipolêre versteuring


Die bipolêre lyer word aangeraai om aan aktiwiteite deel te neem waarmee hy goed is en wat hy geniet.

Kreatiwiteit, soos om te verf, kook en onthaal, reis of in die tuin werk, word aangemoedig.

Die lyer moet besef sy lewe het, net soos anders mense s’n, wel betekenis. Hy moet eerlik en openlik met homself wees, maar ook bereid wees om homself in die afpool-stadium op te hef.
“Die skadu’s sal agter jou val as jy met jou gesig na die son staan,” som Franco dit op.

Bipolêre mense is egter nie áltyd depressief of manies nie – hulle kan ook vir lang rukke in ‘n normale toestand wees.

Die skrywer Danielle Steel het in haar boek oor haar bipolêre seun vertel hoe dié verwoestende siekte nie net sy lewe nie, maar ook sy geliefdes se lewe beïnvloed het.

“Nick was ‘n buitengewone jongman met ‘n briljante verstand en ‘n hart van goud, maar iemand met ‘n besete siel. Iemand wat voortdurend moes veg net om aan die lewe te kon bly.”
Nick het op die ouderdom van 19 dié geveg verloor …

‘n Lyer se ernstige gedragsprobleme is vir familie en vriende moeilik om te hanteer. ‘n Ma van Noordwes verduidelik dit so: “Die moeilikste is die vinnige veranderings in my bipolêre dogter se buie. Dit is erg, maar ek probeer nie eers om daarmee tred te hou nie. Dit is net my geloof wat my aan die gang hou.”

Johan verduidelik dit is veral die maniese tydperke wat ander kan ontstel: “Die intensiteit en vreemde gedrag is vir sommige net te veel om te hanteer. Hul gedrag en besluite is soms vreemd en buite die norme van die samelewing. Die lyer is nie altyd verantwoordelik vir sy dade nie. Verder is die denkwyse van die bipolêre depressielyer onrealisties en onbillik.”

Die bipolêre lyer benodig baie aanmoediging, ondersteuning en liefde. Dis belangrik dat geliefdes hulle én hul siekte moet verstaan aangesien onkunde oor die toestand konflik met ander kan veroorsaak.

Bekendes

Bekende bipolêre mense sluit Ben Stiller, die model Sophie Anderton, Robert Downy Jr en Robbie Williams in.

Robbie moes al ‘n gedeelte van sy wêreldtoer kanselleer as gevolg van sy bipolêre toestand.
Daar is na lyers soos Hemingway, Van Gogh, Virginia Wolf en Sylvia Plath as “kranksinnige genieë” verwys.

Miskien het Sylvia die bipolêre toestand die beste beskryf: “Dit is ’n tyd van donkerte, wanhoop en ontnugtering – so swart soos net die inferno van die menslike verstand kan wees …”

Vir meer inligting bel die Depressie- en Angsondersteuningsgroep by 011 783 1474 of besoek sadag.org

Hierdie artikel is die eerste keer in Vrouekeur van 20 April 2007 gepubliseer.

Send this to a friend