Boekhoek: Karel Schoeman – Afskeid van Europa

In die herfs van sy lewe het Karel Schoeman geweet dat sy twee reise in die Europese herfs van November 2011 en 2013 na Amsterdam, Berlyn, Dresden, Salzburg en Wene sy laaste besoeke sou wees…

In die herfs van sy lewe het Karel Schoeman geweet dat sy twee reise in die Europese herfs van November 2011 en 2013 na Amsterdam, Berlyn, Dresden, Salzburg en Wene sy laaste besoeke sou wees, en die aantekeninge daaroor dan ook sy Afskeid van Europa genoem. Soos ons weet, het hy sy eie dood beplan en vanjaar uitgevoer; dit lyk asof hy dit al jare vooruit in die oog gehad het.

Dit is eienaardig om met dié wete in jou agterkop oor sy besoeke aan sy gunstelingplekke in sy mees geliefde stede te lees. Wat hy daar in sy nabetragtings oor sy reise neergeskryf het, is die persoonlike herinneringe van ´n uiters privaat mens. ´n Mens vra jou af waarom hy dit met sy leserspubliek wou deel, dié mense van wie hy hom altyd afgewend het, op wie hy tot ´n mate neergesien het. Hy noem herhaaldelik dat Nederlands sy moedertaal was en dat hy hom in Amsterdam tuis gevoel het, meer as in “die aftakelende stad waar ek meer as ´n halfeeu met tussenpose woon of in die dreigende, agterdogtige land waar ek gebore is”.

Hy skryf hy voel soos ´n buitestander in sy geboorteland –  hy is onmiddellik tuis in die stede wat hy in die boek beskryf, “op ´n manier waarop ek dit in Suid-Afrika nie buite die mure van my eie huis is nie, en miskien nooit werklik wás nie.”

Hy skryf wel dat hy ervaring net kan hanteer as hy dit in woorde uitdruk: “Ek kon hierdie beplande besoek aan Europa nie anders sien nie as in die vorm van ´n boek.” Hy praat oor sy “mymerende ouderdom” wat hom noop om “op papier te flaneer”. Die vraag bly egter bestaan: aan wie is sy “mymerings” gerig; waarom dit nie bloot in ´n persoonlike dagboek aanteken nie in plaas van ´n volledige boek met ´n bronnelys en register wat bladsye beslaan? Hy het altyd weggeskram van openbare optredes, en nou openbaar hy sy diepste gevoelens oor sy geliefde stede (weliswaar postuum) aan juis die mense wat hy wou vermy; meer nog in sy laaste boek, Slot van die dag.

Sy historiese romans het die Suid-Afrikaanse geskiedenis vir sy lesers laat lewe en hy het veral ook die Vrystaatse landskap met iets soos deernis beskryf. En dan beweer hy telkens dat hy ontuis gevoel het in die land en taal waarin hy geleef en geskryf het.

Sy lewe was dié van  ´n passasier: hy het nooit leer bestuur nie en moes in Suid-Afrika altyd iemand kry wat hom na plekke neem wat vir hom en sy navorsing van belang was. As ´n passasier sien ´n mens ander dinge as die bestuurder, wat op die pad moet fokus. Jy sien vergesigte en nabye detail, maar jy is nie self agter die stuur nie, jy beheer nie die voertuig nie. So het hy ook geskryf, agter sy mymeringe aan, meegesleur deur gebeure in die verlede, die ”ander land” wat hy altyd opgeroep het. Altyd ´n besigtiger, ´n kyker wat baie noukeurig kon waarneem, ´n buitestander wat nooit geken wou word nie, maar nogtans indirek iets van homself prysgegee het.

Dis opvallend dat hy neig om die 18de eeuse lewenstyl te romantiseer en nie veel in Afskeid van Europa oor die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog te sê het nie, waarskynlik omdat die nuwe saaklikheid nie met sy sentimentele opvattings oor die stede klop nie. Hy besoek dus so te sê die verre verlede op hierdie reise. Hy mymer en leef in sy eie gedagtes. Hy praat net met hotelpersoneel en ander diensverskaffers en besoek niemand nie, verder is daar literêre stemme uit die verlede waarmee hy hom bemoei.

Dis jammer dat so ´n groot skrywer so ´n eng lewe gelei het, maar merkwaardig dat so ´n eng lewe so ´n groot skrywer voortgebring het.

Onderstaande gedig deur JC Bloem het onwillekeurig by my opgekom toe ek Afskeid van Europa gelees het.

November

Het regent en het is november:
Weer keert het najaar en belaagt
Het hart, dat droef, maar steeds gewender,
Zijn heimelijke pijnen draagt.

En in de kamer, waar gelaten
Het dagelijks leven wordt verricht,
Schijnt uit de troosteloze straten
Een ongekleurd namiddaglicht.

De jaren gaan zoals zij gingen,
Er is allengs geen onderscheid
Meer tussen dove erinneringen
En wat geleefd wordt en verbeid.

Verloren zijn de prille wegen
Om te ontkomen aan den tijd:
Altijd november, altijd regen,
Altijd dit lege hart, altijd .

Send this to a friend