Fiëstas 2017 | Vrouekeur

Fiëstas 2017

kykNET_Fiestas6

Francois Toerien en Kosie Smit met die Fiësta vir beste teaterontwerp vir Heidi by die KKNK. Die produksie het ook die Fiësta ingepalm vir beste musiekgedrewe produksie (teater)

 

Die wenners van vanjaar se Fiëstas is Donderdagaand by ’n glansgeleentheid van kykNET by die Kunstekaapteater in Kaapstad bekend gemaak

Deur: Maryke Roberts

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

Die seremonie is regstreeks op kykNET uitgesaai en die teater was tot barstens toe vol. Dit is vanjaar die sewende jaar wat die Fiëstas aangebied is. Dié toekennings vereer die beste van die beste op die grootste kunstefeeste in Suid-Afrika.

Daar is verskeie vererings vir lewensbydrae gedoen, waaronder musiek: Acáma Fick; musikale teater: Alvon Collison en kunste-filantroop: Ton Vosloo.

Vanjaar se wenners is:

Beste opkomende kunstenaar: Faith Kinniar in Valencia (KKNK);

Beste teaterontwerp: Francois Toerien & Kosie Smit vir Heidi (KKNK);

Beste vroulike byspeler: Nicole Holm in In Ongenade (Woordfees);

Beste manlike byspeler: Dawid Minnaar in Die Huis van Bernarda Alba (KKNK);

Beste prestasie in ’n solo-vertonining: Richard September in Rooivalk (Woordfees);

Beste musiekgedrewe produksie (arena): Charl du Plessis vir Big Band Boogie Woogie (KKNK)

Beste musiekgedrewe produksie (podium): Hunkering na die ses (Suidoosterfees);

Beste musiekgedrewe produksie (teater): Heidi (KKNK)

Beste prestasie in klassieke musiek: Corelli & Co.  – Stefan Temmigh & Erik Dippenaar (Woordfees);

Beste prestasie in visuele kuns:  Alex Hamilton, Kurator van visuele kunsprogram (Woordfees);

Beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie: Nico Scheepers vir Rooivalk (Woordfees);

Beste regie: Marthinus Basson vir Die Gangsters (Woordfees);

Beste aktrise: Ilse Klink in Kristalvlakte (Suidoosterfees);

Beste akteur: Stefan Erasmus in As (Woordfees);

Gewildste fees: Innibos

Beste aanbieding: Rooivalk (Woordfees);

kykNET se Bloustoel-Toekenning gaan aan KKNK vir die Uitkampteater-inisiatief.

Die onderskeie feeste het ook erkenning gekry en Innibos is as Gewildste Fees benoem deur ’n publieke stemproses.

Gaste is ook vermaak met uittreksels uit die toneelstukke Hensop!, Stof Rooi, Heidi en Pa en optredes deur Arno Carstens, Corlea Botha, Thembeka Mnguni en New World Dance Theatre.

kykNET_Fiestas1

Jurg Human, Margit Meyer-Rödenbeck en Anton Goosen by die geleentheid

kykNET_Fiestas4

Ilse Klink met haar Fiësta as beste aktrise vir haar rol in Kristalvlakte by die Suidoosterfees

kykNET_Fiestas8

Daar was kunstenaars in elke moontlik hoek en draai, sommige het beweginskuns gedoen, ander het musiek gemaak

kykNET_fiestas2

Lesca van As en Christia Visser, een van die gas-aanbieder

 

Send this to a friend