God se alarms

Een manier wat die Here gebruik om die alarms in ons lewens te laat afgaan, is sy Woord op presies die regte tyd

Wat is op die oomblik jou foonalarm se luitoon? Is dit iets wat jou op ’n baie rustige manier wakker maak of een wat jou met ’n groot skok laat wakker skrik?

Ek het ontdek dat die doeltreffendheid van ’n alarm direk verband hou met hoe graag jy nié die geluid wil hoor nie. Met ander woorde, totdat jou begeerte om nié die alarm te hoor nie, swaarder weeg as jou begeerte om te bly slaap, gaan jy nie wakker word nie.

So probeer die Here ook dikwels ons aandag kry, maar ons doof sy stem uit. Ons doen ons eie ding en volg ons eie kop. En dan skielik hoor jy die alarms eendag hard en duidelik afgaan. Jy sit regop. Die Here het uiteindelik jou aandag gekry.

Vir die verlore seun in Lukas 15 het die alarms ’n paar keer afgegaan, maar hy het nie gehoor nie. Dis eers toe hy in die varkhok sit, heeltemal gestroop van alles en almal en heeltemal platgeslaan dat hy besef het wat hy alles verloor het en waarheen hy op pad was. Toe hy sy deel van die erfporsie gevat het, het hy in sy wildste drome nie gedink dinge gaan so verkeerduitdraai nie. Maar daar in die varkhok hoor hy die alarms en God het sy aandag en hy weet dinge sal moet verander. Soms mis ons ook maar die alarms wat in ons lewens afgaan en ons waarsku.


Terugskouend kan jy dalk ook so ’n oomblik in jou lewe raaksien waar jy die Here se hand spreekwoordelik van die deurknop weggestoot het en jy rebels jou eie kop gevolg het, en toe die gevolge moes dra

Een manier wat die Here gebruik om die alarms in ons lewens te laat afgaan, is sy Woord op presies die regte tyd. In Genesis 4 laat Hy die alarm vir Kain afgaan. Kain en Abel bring albei vir die Here ’n offer. God aanvaar Abel s’n, maar nie Kain s’n nie. Kain s’n was ’n afskeepoffer. Kain is kwaad. God gee Kain nog ’n kans. Hy sêvir Kain sonde wag vir jou. God teken die prentjie van Kain wat gereed staan om die deur oop te maak, maar as hy die deur oopmaak, sal hy vind dat ’n keuse aan die ander kant van die deur wag wat sy familie en sy lewe sou vernietig. God sien hoe die eerste seun op die deur afloop en Hy sit sy swaar Vaderhand op die deur en vir ’n oomblik hou Hy dit toe en sê: “Wag net ’n bietjie, Kain. Besef mooi wat agter hierdie deur vir jou wag; iets wat jou lewe kan verwoes.”

En die alarm het afgegaan toe God terugstaan en Kain toelaat om vir homself te kies. Net soos die pa in Lukas 15 sou God nie sy kind dwing om die regte keuse te maak nie. Kain het gekies om nie na die alarms te luister nie, want hy het die deur oopgemaak.

Terugskouend kan jy dalk ook so ’n oomblik in jou lewe raaksien waar jy die Here se hand spreekwoordelik van die deurknop weggestoot het en jy rebels jou eie kop gevolg het, en toe die gevolge moes dra. Wees sensitief vir God se stem, luister daarna en hoor die alarms afgaan, dit sal jou soveel moeite en verdriet spaar.  

Send this to a friend