Eldaleen het nie ’n (bang) haar op haar kop nie

As Plan A nie werk nie, maak jy Plan B, het Eldaleen Hugo se stryd met Alopecia areata haar geleer

Hooffoto’s WILLEM BOTHA

Ek het lankal ophou tel hoeveel mense my al prontuit gevra het wat onder my kopdoek aangaan. Vir my is dit nogal ’n persoonlike vraag en nie iets wat ek noodwendig sou vra nie. Dis soos om iemand te vra wat gaan onder jou klere aan, en niemand het daai vraag al ooit vir my gevra nie. Die realiteit is dat hare ’n soge­naamde natuurlike deel van ’n mens se lyf is en enigiets “abnormaal” maak mense nuuskierig en nie noodwendig gemeen nie.

My storie begin presies 30 jaar gelede een oggend in Maart 1989 in Duitsland waar ek in daardie stadium gewoon het. My dogter, Jana, was 18 maande oud en ek vyf maande swanger met my seun, David Hugo. Eintlik het dié begin ’n inleiding …

Kort ná ons aankoms in Desember 1987 in Duitsland is ek met my geradbraakte Duits in daardie stadium haarkapper toe. My hare het in die middel van my rug gehang en was dik, gesond, welig en blink ná die geboorte van Jana, drie maande tevore. Die haarkapper het bykans ’n floute gekry toe hy hoor ek wil my hare sny. Hy het volstrek geweier en in sy geradbraakte Engels gesê: “Such beautiful hair you don’t cut!” En dit was die einde van die storie.

My hare was my lewe lank vir my ’n vreugde en ek kan eerlik sê ek het nooit ’n “bad hair day” gehad nie. Behalwe miskien toe ek in my tweede jaar my hare in die koshuiskamer met bokskleursel gekleur het en ek vir twee maande met oranje hare moes rondloop.

Tot daai dag in 1989.

Ek het oudergewoonte my hare in ’n Franse vlegsel gevleg toe ek dit sien … ’n koeëlronde kaal kol aan die linkerkant van my kop. Ek het my hare by dié kol getrek en met ’n handvol hare in my hand gesit.

Was ek geskok? Ja. Het ek geweet wat dit is? Ja. Ek het reeds in 1972 met Alopecia areata kennis gemaak. Een van my broers is op sesjarige ouderdom met dié siektetoestand gediagnoseer. In daai dae was daar bitter min kennis oor alopesie en die moontlikheid dat dit in families kan voorkom, was nie ter sprake nie. My broer se hare het jare gevat om weer te groei en die nuwe hare was die wonderlikste groot bos krulle, maar Alopecia is nie ’n siekte wat jou los nie – nes jy gerus raak, slaan sy weer toe. Hierdie outo-immuunsiekte het hom in sy tienerjare weer van sy mooi hare beroof. Hy is vandag ’n ginekoloog en desnieteenstaande sy mediese kennis het hy nie oplossings of antwoorde vir dié vreemde siekte nie.

Ek moes leer lief raak vir die nuwe vrou in die spieël wat my soggens gegroet het

Siende dat ek geweet het wat die prognose is, was ek uiteraard platgeslaan. ’n Vuishou in die maag het my op die bad se rand laat sit met my kop in my hande. Ek was gebroke.

Duisende Mark en eweveel bloedtoetse later om vas te stel of ek nie dalk die een of ander onderliggende siekte het wat ’n mens se hare laat uitval nie, is ek blakend gesond verklaar. Teen dié tyd het ek my hare, wat al dunner geword het, elke maand korter laat sny en haarbande gedra om die kolle te bedek. Alopecia areata se kolle verskyn in spieëlbeeld. Eers die een kant en dan die ander kant. Die kolle raak al groter en smelt later inmekaar.

Ses weke ná David Hugo se geboorte het ek gelyk soos ’n babavoëltjie wat uit ’n nessie geval het. En ek het so gevoel. Hier en daar was ’n sliertjie hare. Ek het een oggend summier als afgeskeer en dit was die begin van pruike en uiteindelik kopdoeke, maar meer nog, ’n lang rouproses oor die verlies van my hare.

Ek sou graag in ’n fetale posisie wou gaan lê en my aan die wêreld onttrek, maar twee kinders onder twee jaar en ’n lewe in die openbare oog as gevolg van my eksman se werk, het my dié luukse nie toegelaat nie. Ek moes elke aand my stiletto’s en little black dress aantrek en met mense oor skemerkelkies en aandetes mingle met my kop omhoog.

Ek het kaal gevoel. Trouens, ek sou eerder sonder klere in die straat loop as sonder my pruik of kopdoek – kan jy jou dan die mense se vrae voorstel?

Op 29-jarige ouderdom moes ek oornag baie diep in my binneste delf op soek na dit wat my meer maak as die mens wat ek tot toe geken het – die een met die mooi hare. Ek moes leer lief raak vir die nuwe vrou in die spieël wat my soggens gegroet het. Ek moes leer saamleef met verlies. Uiteraard is die verlies van jou hare nie vergelykbaar met die verlies wat dood bring nie en dis ook nie op dieselfde vlak as verlies van ’n ledemaat of die gebruik van jou bene nie. Maar dat jy iets verloor het, is onontkenbaar.

Die sewe stadiums van rou

1. Skok en ontkenning

Uiteraard was ek geskok, naar geskok om die waarheid te sê. Tot trane toe geskok. Maar ontkenning was nie deel van die prentjie nie. Ek het immers geweet wat dié siektetoestand behels en as jy in die spieël kyk en letterlik sien hoe jou hare uitval, kan jy dit nie ontken nie.

2. Pyn en skuldgevoel

Jip, ’n diep pyn het in my lyf kom sit en glo my, ek kon vir lank nie sonder pyn na myself in die spieël kyk nie. Ek het egter oor niks skuldig gevoel nie, want niks in hierdie situasie was my “skuld” nie. 

3. Woede en onderhandeling

Was ek vies? Beslis. As ek net geweet het vir wie ek moes kwaad wees. Ek het egter nooit gevra: “Hoekom ek?” nie. Nie omdat ek so wonderlik is nie, dis net ’n sinlose vraag. Dan moet ek mos ook vra hoekom daar goeie dinge met my gebeur? ’n Slag­offermentaliteit staan my gewoon nie aan nie. Die onderhandelingsfase was deel van die proses. Dit het gepaardgegaan met ’n hulpkreet na ’n Hoër Hand en soos vele voor my en ná my het ek stilletjies allerlei goed belowe as my hare sou terugkom.
Hierdie onderhandeling het tot groot struweling in my binneste gelei – ek het meer vrae as antwoorde gekry.

4. Depressie, refleksie en eensaamheid

Ek val nie sommer in ’n swart gat nie, maar terugskouend was depressie gewis aanwesig, maar meer nog het ’n melankolie in my posgevat en ek het inderdaad baie eensaam gevoel. Trouens, as ek na mense gekyk het, het ek eerste na hul hare gekyk en dit het my verlies onderstreep. Nêrens het ek mense met Alopecia gesien nie. Almal het hare soos “normale” mense gehad. Dit het mettertyd so verander dat ek nou soms na mense kyk en wonder hoekom het jy hare.

5. Draaipunt

Dié punt het ek nie oornag bereik nie. Veral nie as my hare weer begin groei, net om weer ’n maand later uit te val nie. Ek dink die draaipunt was toe ek besef het om sonder hare te wees, is my “nuwe normaal”. Dis nou hoe dit is.

6. Rekonstruksie en verwerking

Mettertyd het ek besef niks gaan my hare weer laat groei nie. My dae van lang hare is verby. Trouens my dae van hare is verby. Ek moet kies of ek gelukkig sonder hare of ongelukkig sonder hare wil wees.

7. Aanvaarding en hoop

As jy ná 30 jaar nog nie aanvaar het dat jy nie hare het nie, gaan jy dit waarskynlik nooit kan aanvaar nie. Het ek hoop? Ek is nie iemand wat sommer ophou hoop nie, maar ek hoop lankal nie meer dat ek weer gaan hare hê nie. Dis soos as jy kort is en graag lank wil wees – it ain’t gonna happen. Die meeste wat jy kan doen, is om ’n paar stiletto’s aan te trek en langer te voel. Sou my hare teruggroei, sou dit ’n bonus wees, maar ek voel soos my geliefde en my kinders sê: “Ons weet nie hoe dit gaan wees  nie – ons is so gewoond daaraan dat ’n ’nuwe jy’ vir ons vreemd sal wees”.

Ek en my geliefde, Johannes, is hierdie jaar 15 jaar bymekaar. Hy het my leer ken in ’n fase waar my hare weer teruggegroei en daar nie tekens van die siekte was nie. Alopecia areata het mos dié geneigdheid. Maar kort voor lank voel jy letterlik weer waar ’n kaal kol gaan verskyn. Dit voel soos wanneer jy ’n poniestert te lank vasgemaak het en jou hare losmaak. So het die kolle mettertyd een groot kaal kop geword en het ek weer die skeermes nader getrek.

My haarverlies het hom nog nooit gepla nie. Vir hom is ek die mooiste, slimste, oulikste, sexyste vrou op aarde – trouens hy dink ek loop op water (oukei, 95% van die tyd). Met die tweede keer se uitval van my hare het ek baie vinniger deur die stappe van rou gevorder en die eensaamheid was nie deel van die proses nie. Johannes hou deurentyd my hand in syne vas.

Ek het geleer dat elke dag nie ’n “bad hair day” hoef te wees nie. As ek anders daarna kyk, is elke dag ’n “good hair day”.

Wat beteken hare?

Hare is deur die eeue heen steeds ’n simbool van vroulikheid, sensualiteit en skoonheid, maar meer nog, dit gee jou identiteit. Verskillende kulture en gelowe heg verskillende waardes aan hare, maar in alle kulture het hare simboliek en waarde.

Die behoudende en konserwatiewe Amiese gemeenskap skryf aan vroue voor dat hulle nie hul hare mag sny nie. Trouens, hulle mag dit net op ’n spesifieke manier vleg. Ek sou vir hulle nogal ’n probleemgeval gewees het – die “elders” sou lank hieroor beraadslaag en gebid het.

Lang hare vir vroue was baie lank die norm. In die jare twintig het vroue hul stem op verskeie vlakke laat hoor en dis ook toe dat vroue besluit het, basta met lang hare en die bob-haarstyl was hoogmode. Rokke het korter geword, korsette is weggegooi en as deel van die bevryding het vroue besluit om hul hare te sny.

Vroue is selfs so kort gelede as aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog “gestraf” deur hul hare vir die een of ander “sonde” af te skeer. Dink maar aan die Franse vroue wat in die dae ná die einde van die oorlog deur die strate geparadeer is nadat hul hare afgeskeer is. Dié vroue het met Duitse soldate durf slaap.

Dis nie net vroue wat waarde aan hul hare heg nie. Praat jy met mans wat veral op ’n vroeë ouderdom bles raak, kom jy agter dis ook ’n verlies en verlange om te verwerk.

Vir die “antieke Franse” was lang, gesonde hare ’n simbool van mag en belangrikheid. Toe Julius Caesar Rome in 50 VHJ verower het, het hy die leiers in wat vandag Frankryk is, gedwing om hul hare te sny om hulle te verneder en van hul mag te stroop. Mettertyd het “groot hare” in Frankryk gewild geraak en dit het die era van gepoeierde pruike in die 17de eeu in Frankryk en Brittanje ingelui. Sulke hare was simbolies van wysheid en mag. Ek dink ons kan nou maar daarvan afskeid neem, want regslui met hul pruike en togas in howe lyk vir my meer potsierlik as belangrik (maar dalk is dit net ek wat so dink).

Native Americans (mans en vroue) het nie hul hare gesny nie, behalwe in tydperke van rou as simboliek van die verlies van ’n geliefde. Diep spirituele betekenis word tot vandag toe nog in dié kultuur aan hare geheg.

Boeddhistiese monnike skeer hul hare om die onbelangrikheid van die materiële te simboliseer en ook om van ydelheid bevry te wees.

Sikhs sny ook nie hul hare nie – hulle draai dit in ’n bolla en dra die mooiste tulbande daaroor. Dit was interessant met my onlangse besoek aan Indië – Sikh-mans wou weet of ek die een of ander konneksie met hierdie geloof het.

Die Bybelse storie oor Simson het my kleintyd gefassineer – dié man se krag het met die sny van sy hare verdwyn. In die jare sewentig was dit vir my ’n vreemde konsep dat mans lang hare sou hê – in ons skool is die seuns gefoeter as hul hare aan hul krae of ore geraak het. Wys jou net hoe relatief reëls en regulasies is. Dieselfde mense wat gedink het “ware seuns” dra nie lang hare nie, was diegene wat die storie van die dapper Simson met sy lang hare verkondig het. Ideologie kan mens se uitkyk op die lewe so beperk dat jy later dink net jou waarheid is die waarheid.  

Wat het ek geleer?

  • Ek het ’n ambivalente gevoel oor simpatie en empatie vir mense en my verdraagsaamheid het twee kante. Mense wat kerm oor twak, irriteer my vinnig. Mense wat rede het om te kla en net aangaan met die lewe, vir hulle het ek baie tyd.
  • Ek aanvaar niks as vanselfsprekend nie.
  • Ek put vreugde uit dinge soos: my geliefde, my kinders, my familie, my vriende, om te kan loop, om te kan sien, om te kan hoor, om te kan werk, om te kan reis … om te leef.
  • Ek vergelyk my met geen ander mens nie en beny of misgun niemand iets nie.
  • Ek oordeel stadiger – wat jy van ’n mens sien, is nie die hele prentjie nie. Agter elkeen se masker (of kopdoek) is ’n storie wat jy nie ken nie.
  • Ek het beperkte energie in ’n dag en beperkte dae oor om te leef. Ek gaan beslis nie my energie op ’n valse hoop mors nie en gewis nie ’n dag mors om in sak en as te sit nie.
  • Ek lag eerder as om te huil.
  • I don’t sweat the small stuff ... en eintlik is die meeste goeters waaroor ons stres onbenullig.
  • Daar is nie net een “normaal” nie.
  • Ek leef (meestal) in die oomblik. 
  • Ek mors nie my tyd op goed wat ek nie wil doen en met mense met wie ek iets moet doen nie.
  • Ek stres nie oor goed waaroor ek nie beheer het nie – en daar’s min wat ek kan beheer.
  • Ek hou van myself nes ek is.
  • Ek is nie meer bekommerd, gefrustreerd of kwaad oor my verlies nie. Wêreldwye armoede, onreg, oorlog, korrupsie, geweld, onverdraag­saamheid, religieuse fundamenta­lisme, die toestand van die onderwys, gesondheid en die inmekaarstort van ’n infrastruktuur in die land wek by my woede, frustrasie en bekommernis.
  • Niks wat ek geleer het, het ek oornag geleer nie. Mense wat aan die begin van die proses staan (om welke rede ook al) moenie hulself kasty oor hulle nog met hul verlies worstel nie. Die worsteling is deel van die proses.

Twee bekende mense wat ook Alopecia het, Gail Porter en prinses Caroline

Die vrae wat mense vra (en ek maak dit nie op nie)

Mense het my al tydig en ontydig gevra “wat gaan onder die kopdoek aan”. Onlangs staan ek by ’n toonbank en bestel twee spieëls wat gesny moet word. Ek is besig met die bestelling toe ’n lang man so in sy sestigerjare neffens my kom staan en ook iets bestel. Uit die bloute wil hy met ’n sterk Duitse aksent van my weet: “Are you now also Muslim?

Of jy staan in ’n tou in die apteek en wag jou beurt af en die vrou agter begin simpatie met jou te betoon omdat jy kanker het. Dis interessant dat vroue by wie kanker gediag­noseer word, te midde van dié lewensbedreigende siekte steeds bekommerd is oor die verlies van hul hare as gevolg van chemoterapie. Wat net weer eens bevestig hoeveel waarde ons aan ons hare heg – hoe ons mooi of sleg voel as ons ’n “bad hair day” het. Ons hare laat ons mooi of lelik voel. Ons kyk mis dat ’n “bad hair day” nie noodwendig ’n slegte dag is nie.

Die verskil in opmerkings oor my kopdoeke is merkbaar by swart mense. Niemand vra hoekom nie. Die vroue wil almal weet hoe ek dit vou en is mal daaroor. Mans is altyd uiters respekvol en verwys daarna as “makhosi” wat, so het ek geleer, ’n teken van respek en status is.

Ek het eers gedog dit beteken onderdanigheid van ’n vrou aan haar man en enige persoon wat my ken, sal vir jou vertel dat ek met of sonder hare, en met of sonder kopdoek, nie ’n onderdanige vrou is nie. Daarvoor is ek te vry. Gelukkig leef ek saam met ’n man wat waarskynlik nog ’n groter feminis as ek is.

Elke mens het ’n pakket wat deel van hul menswees is. As ek weer sou terugkom aarde toe, sou ek ’n ander pakkie kies? Nee, ek ken dié pakkie, en die goeie in my lewe is veel meer as die slegte. Maar een ding kan ek jou sê, sou daar ’n hemel wees en ek is voor jou daar, die vrou met die lang bos welige rooi krulhare – dis ek daai.

Wat mis ek?

  • Die wind wat deur my hare waai.
  • Om haarkapper toe te gaan en met ’n nuwe haarstyl uit te stap.

Die voordele

  • Ek hoef nie vir duur haarafsprake te begroot nie.
  • Ek kan in ’n rekordtyd klaarmaak vir werk (g’n geblasery of reguitmaak van hare nie).
  • Ek hoef nie beenhare te skeer nie en ’n bikini wax bestaan nie in my woordeskat nie.

Send this to a friend