Kuns: Banksy

0907-vk1-banksy-web

Banksy se Rage, the Flower Thrower (2005), ’n werk teen ’n muur in Jerusalem wat tans deur ’n laag perspeks beskerm word.

Banksy se stensilstyl is onmiddellik herkenbaar en verskil hemelsbreed van die soort graffiti wat ’n mens gewoonlik teen mure aantref

Deur JOHAN MYBURG

In ’n tyd waarin die kunstenaar self net so belangrik – indien nie belangriker nie – as die kunswerk geword het, is anonimiteit in die kunswêreld skaars. Dit gebeur nie aldag dat mens nié ’n foto van die kunstenaar saam met die kunswerk te siene kry nie. Nietemin slaag die Engelse kunstenaar Banksy daarin om anoniem te bly terwyl sy werk van die herkenbaarste ter wêreld is. Boonop gebruik hy dié anonimiteit omdat dit die status van die kunstenaar as glansgans van die kunswerk losmaak en die fokus volledig op die kuns plaas.

Dit bied hom die vryheid om sonder skroom in sy werk kommentaar te lewer. Bitter min is bekend oor dié Bristolse graffiti-kunstenaar wat sy identiteit soos die grootste geheim bewaar. In 1995 en weer in 2003 het hy onderhoude toegestaan, weliswaar met sy gesig verhul en sy stem vervorm. Hy het oor dit en dat gepraat, maar niks laat blyk oor wie hy is nie. Getrou aan die tradisie waarbinne hy werk – dié van graffiti wat gewoonlik oornag teen mure aangebring word sonder dat enigiemand die spuitverwers aan die werk sien – het Banksy oor die jare ’n aansienlike aantal werke gemaak waarin hy satire, donker humor en ironie inspan om op sosiale, politieke en algemeen menslike kwessies kommentaar te lewer.

Dalk is dit juis sy humor en sardoniese blik op sake wat ’n mens in staat stel om die onderliggende erns van sy boodskappe omtrent kapitalisme, die advertensiebedryf en die politiek te snap. Sy stensilstyl is onmiddellik herkenbaar en verskil hemelsbreed van die soort graffiti wat ’n mens gewoonlik teen mure aantref. In navolging van die Franse graffitikunstenaar Blek le Rat het Banksy dié “guerrilla-kuns” tot hoofstroomkunsvorm verhef. Maar omdat graffiti steeds onwettig is, bring Banksy se werk ook die kwessie van openbare kuns en vandalisme ter sprake. Wat is byvoorbeeld die verskil tussen ’n Banksy, wat as ’n versamelstuk gesien word, en die sproeiverfwerk van ’n straatkunstenaar, wat in die tronk gestop kan word vir vandalisme? Daar bestaan gevolglik, en te verstane, in die wêreld van graffiti heelwat vyandigheid jeens Banksy en die vete tussen hom en die Londense “graffiti-koning” Robbo duur al geruime tyd.

LEES OOK: Kuns: Auguste Rodin

Sodra ’n Banksy-stensil teen ’n muur verskyn, of dit nou in Londen of New York of Bethlehem in Israel is, trek dit onmiddellik wêreldwyd aandag op die internet. Kort ná 2000 het sy syraamdrukke en stensilwerk op veilings van Sotheby en Bonham in Londen begin verkoop. So het sy Slave Labour van 2012, ’n openbare kunswerk wat hy teen die muur van die Britse afslagwinkel Poundland aangebring het, in private besit gekom toe dit die volgende jaar vir iets soos 1,1 miljoen Amerikaanse dollar verkoop is. Verkope soos dié het tot Banksy se kommersiële sukses bygedra, en in 2010 het hy ook sy stempel as suksesvolle skrywer en rolprentmaker met sy Exit Through the Gift Shop afgedruk.

Meer as net die sosiale en politieke kommentaar wat so eie aan sy werk is, het Banksy se gemeenskapsbetrokkenheid by meer as een geleentheid geblyk. Vroeër vanjaar het hy hulp vir Bristol se openbare biblioteek aangebied wat swaar trek as gevolg van die inkorting van regeringsbesteding. Verlede jaar het hy uit verkope van sy werk meer as 200 000 pond aan menseregtegroepe geskenk. Die groot ironie van Banksy se werk is egter dat dit noukeurig beskerm en bewaar (en verkoop!) word terwyl graffiti steeds onwettig is.

 

Send this to a friend