Ken jou storie: Hoekom nóg boeke lees?

Terug in die roetine – hoekom nóg boeke lees?

Deur WILLIE BURGER

So aan die begin van ’n nuwe jaar, voel mens soms die behoefte om na te dink oor die dinge waarmee ons ons daagliks besig hou. Ná die kort blaaskans in Desember lyk die hervat van die alledaagse lewe soms bietjie vreemd. Hier verskyn al weer ’n nuwe uitgawe van Vrouekeur en daarin is al weer ’n boekeblad waarin elke week oor ’n nuwe boek geskryf word. Mens kan dalk wonder waarom dit nodig is? Waarom die dolle gejaag om elke week nóg ’n boek te lees, oor nóg ’n boek na te dink?

So aan die begin van die jaar stuur ons ook ons kinders terug skool toe. Skool is veronderstel om kinders vir die lewe voor te berei. Maar eintlik het bitter min van die vakke wat op skool aangebied word enigiets te doen met voorbereiding op hoe om te lewe. Die skoolvakke wat aangebied word, stel kinders in staat om inligting te versamel en om sekere vaardighede aan te leer (byvoorbeeld inligting oor die erdwurm of oor vulkane of oor vriespunt en vaardighede soos om sekere somme te doen en balansstate op te stel). Veral in ’n tyd waarin hoë punte en onderskeidings oënskynlik die doel van skoolonderwys geword het, doen die meeste skole bitter min om kinders te leer hoe om hul lewens te lei.

Eeue lank reeds bestaan die idee dat ons deur die bestudering van kultuurprodukte veel kan leer oor hoe om te lewe, want kultuurprodukte, soos kunswerke, is uitdrukkings van maniere waarop individue die lewe ervaar het of daaroor gedink het. Ons kan mense en hul lewe, hoe hulle oor die lewe gedink het, hoe hulle die wêreld ervaar het, uit hul kuns en denke leer ken – die filosofie en die kunswerke. Die kultuurprodukte kan en behoort bestudeer te word ten einde daaruit te leer. Alain de Botton redeneer in sy boek Religion for Atheists dat ons kultuurprodukte moet ondersoek om die soort kennis op te doen wat voordelig is vir die maniere waarop ons leef en wat ons kan help om besluite te neem en om die soort kennis op te doen wat ons kan troos wanneer ons deur siekte en dood en lyding gekonfronteer word.

LEES OOK: Ken jou storie: Maak letterkunde ons beter mense?

Ongelukkig verval die skoolonderrig van letterkunde en kuns dikwels slegs op inligting oor die skrywers en die omstandighede waarin hulle geleef en gewerk het, of op die allerlei oppervlakkige beskrywings van hul tegnieke en style, die manier waarop hulle skryf, op die herkenning van metafore of vergelykings of rymskemas. Die probleem is dat onderrig hoofsaaklik op inligtingoordrag gerig is en ons los die emosionele ontwikkeling van leerlinge om spontaan of privaat te gebeur. De Botton voer aan dat onderrig op ons eie innerlike, deurmekaar en verwarde kant gerig moet wees, want ons word nie gebore met private kennis van hoe om te lewe nie.

Die lees van romans en gedigte, die kyk na rolprente of dramas en die sistematiese bespreking daarvan in ’n klaskamer bied die geleentheid om met hierdie soort nadenke oor hoe om te lewe gekonfronteer te word. Filosofie, fiksie en geskiedenis is die vakke waarin verbande tussen abstrakte idees en ’n mens se lewe gelê word. Die vrae waarop die studie van letterkunde gerig behoort te wees, is ’n fokus op hoe verhoudings tussen mense werk, hoe mense dood en verlies hanteer, hoe mense leef saam met diegene wat hulle onderdruk, of wat deur hulle onderdruk word, hoe mense in omstandighede van onreg met hulself saamleef?

Die voordeel wat die ondersoek van fiksie op skool kan bied, sluit onder meer in dat dit vir kinders ’n taal gee waarin hulle oor al hierdie dinge kan praat. Die literêre tekste bied aanknopingspunte vir gesprek. Dikwels bied die kunswerke voorbeelde van hoe mense in sekere omstandighede optree waardeur ons gekonfronteer word om oor ons eie optrede na te dink. Hierdie is ook die redes waarom ons telkens weer nuwe boeke lees. Ons is deurentyd na ander voorbeelde op soek, na ander maniere waarop mense met die groot lewensvrae besig is. Ons situasies is voortdurend aan die verander en daarom is weer ander maniere van dink oor die lewe nodig. Boonop is ons vergeetagtig en het telkens nodig om herinner te word aan die belang van sekere vrae wat ons maar voortdurend weer moet vra oor ons lewe, ten einde te voorkom dat ons onnadenkend in ’n vaal roetine verval.

Send this to a friend