Ken jou storie: Boeke oor reise

Willie Burger kyk na boeke oor reise deur Suid-Afrika

Onder die vroegste skryfwerk in Suid-Afrika tel veral reisbeskrywings. Wanneer die VOC byvoorbeeld soldate gestuur het om die binneland te verken, is daar noukeurig verslag gehou oor die reise, sodat inligting oor die geografie, die fauna en flora en die inwoners van die land vasgelê kon word. Op dié manier is die onbekende Afrika aan Europeërs “bekendgestel”.

Benewens reisverslae het reise ook in fiksie ’n belangrike rol gespeel. SJ du Toit het byvoorbeeld in 1894 ’n reis na die destydse Rhodesië (Vandag se Zimbabwe en Zambië) onderneem en op grond daarvan ’n reisverslag, Sambesia of Salomo’s goudmijnen besocht, geskryf en die reis het ook as agtergrond vir sy roman, Di koningin fan Skeba (1898) gedien. Mens kan verstaan dat hierdie soort skryfwerk veral in die koloniale tyd gebloei het. Lande en mense wat vir die Europese besoekers onbekend was, word deur dergelike reisverslae bekendgestel en die romantiese en avontuurlustige verlange na eksotiese plekke (en die droom van rykdom wat daar te vind mag wees!) word hierdeur geprikkel.

Die aard van sogenaamde ontdekkingsreise in die koloniale tyd word baie goed in André Brink se roman Inteendeel (1992) vasgevang. In dié roman onderneem Estienne Barbier (’n historiese figuur wat die hoofkarakter in die fiktiewe werk van Brink word) drie reise vanuit die Kaap na die binneland. Tydens die eerste reis is hy deel van ’n verkenningsgroep van die VOC. Hy is die “skribent” op dié ontdekkingstog en sy taak is om boek te hou van hoe ver elke dag getrek is en wat alles gesien is. Later onderneem hy ’n jagtog (of eerder plundertog) saam met ’n klompie boere na die binneland. Hulle skiet troppe wild dood en veg teen inheemse inwoners. Hulle neem vee af en keer relatief ryk terug. Uiteindelik onderneem Barbier ’n derde reis, op sy eie, waartydens hy probeer om werklik die inwoners van die land en hul tale te verstaan.

Hierdie is ’n “verbeelde” reis waartydens hy probeer om die foute van die eerste twee reise te herstel. Terwyl dit verstaanbaar is dat reisbeskrywings belangrik in die koloniale tyd was (al was die meeste van die reisbeskrywings en ontdekkingstogte soos Barbier se eerste twee reise bloot op die onderwerping van die vreemde land gerig), is dit eintlik verrassend dat die reismetafoor, die reis as ontdekkingstog en die oorsteek van grense na die onbekende, steeds in die afgelope klompie jare, selfs ná die aanbreek van die demokratiese, postapartheid-Suid-Afrika, dikwels voorkom.

Die volgende is sommer ’n klompie lukraakgekose boeke waarin reise voorkom: Ingrid Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens; John Miles se Op ’n dag ’n hond; Tom Dreyer se Dorado en Lien Botha se Wonderboom. Reis was nog altyd belangrik in Breyten Breytenbach se werk. Van sy vroegste prosatekste, soos ’n Seisoen in die paradys, is ’n reisteks maar ook in sy “postapartheid”-werk, soos A Veil of Footsteps, staan reis sentraal. Antjie Krog beskryf in werke soos ’n Ander tongval en Begging to be Black besoeke en herbesoeke aan spesifieke plekke in die land. Sy reis na plekke en praat met mense, voer onderhoude, leer die plekke opnuut ken. Dit is dus ontdekkingstogte.

Een van die gewildste onlangse Afrikaanse boeke waarin ’n reis onderneem word, is Dana Snyman se Op pad, waarin sy reis van Kaapstad na die noorde en ooste van die land beskryf word en hy talle klein dorpies besoek, op soek na hoop vir die land. In Op pad word dit helder waarom reise in Suid-Afrikaanse skryfwerk steeds sentraal staan: Dit blyk duidelik dat ’n gewone (wit, Afrikaanse) skrywer soos ’n vreemdeling in die land voel. Suid-Afrika is (veral vir baie wit Afrikaanse mense) steeds ’n onbekende en vreemde land – een wat al weer “ontdek” moet word. Baie mense voel dat hulle die land waarin hulle grootgeword het en wat vir hulle bekend was, nie meer ken nie; dat hul eie land en hul plek daarin opnuut “ontdek” moet word. Gevolglik word bekende plekke herbesoek. Dikwels word vir die eerste keer met die mense in dié plekke gepraat, in ’n poging om te verstaan en te leer ken.

Skrywers wat so op reis gaan en wat onderhoude voer, wat probeer om ander inwoners van die land te verstaan en om hul eie plek in die land te begryp, se reise sluit aan by Estienne Barbier se derde reis. Die reismetafoor kom egter nie slegs by Afrikaanse skrywers voor nie, maar is, soos Leon de Kock in Losing the Plot aandui, merkbaar in die skryfwerk van byna alle skrywers in die land. Dit getuig daarvan dat baie mense ’n gevoel van vervreemding in die land ervaar, dat die land self steeds in ’n oorgang is, dat Suid-Afrika as begrip eintlik steeds vorm gegee moet word, en daarom voortdurend ontdek moet word. Ongelukkig bly die reise, die ontdekkingstogte, byna soos Barbier se eerste reis, dikwels net by ’n beskrywing van die verskille en die vreemdsoortigheid van die ander, by ’n bevestiging van die eie vervreemding en gevoel van ontuisheid, eerder as ’n blootstel vir die ander, vir die ’n aanleer van die ander se taal.  

Send this to a friend