Ken jou storie: Muurgedigte

Willie Burger kyk na muurgedigte in Nederland, en sluit so sy besoek aan dié land af

Gedigte behoort nie ongelees in digbundels in biblioteke te staan nie. Ook behoort gedigte nie slegs vir ‘n paar ander digters geskryf te word nie.  Eintlik behoort gedigte deel van ons almal se alledaagse lewe te wees. Dit mag idealisties klink om só ‘n stelling oor poësie te maak, maar een manier waarop poësie tóg deel gemaak word van die alledaagse lewe, is deur gedigte teen mure in stede aan te bring.

Die afgelope drie maande loop ek elke dag van my dakkamer na die Universiteitsgebou in Leiden waar ek klasgee. Ek woon skaars 500m van my kantoor. Maar op pad werk toe, loop ek by drie muurgedigte verby. Eerste, op die hoek van my straat, bokant die bakkery, is daar teen die muur ‘n gedig in Arabies. Die gedig, deur Adonis (1930) is in 2013 aangebring om 400 jaar van Arabiese studies aan die Universiteit van Leiden te herdenk. Op die volgende straathoek, is Shakespeare se bekende Sonnet XXX, hoog teen die muur van ‘n ou huis wat nou deur jong studente bewoon word: “When to the sessions of sweet silent thought / I summon up remembrance of things past …”. Dan, teen een van die universiteitsgeboue bietjie verder is daar ‘n Nederlandse gedig deur Ida Gerhart.

Geleidelik het ek uitgevind dat hier meer as 120 muurgedigte in Leiden is. Hullle is in verskillende tale en selfs in verskillende soort skrif aangebring. Benewens die Arabiese gedig op die hoek van my straat is daar ook gedigte in Chinese en Japanse karakters, asook gedigte in die Ciriliese alfabet en in Grieks. Konstantinos Kaváfis se gedig is in die Griekse alfabet vir my onleesbaar, maar laer af teen die muur is ‘n klein bordjie aangebring met ‘n Engelse en ‘n Nederlandse vertaling van die gedig. Dit is ‘n treffende gedig waarin hy, geparafraseer, min of meer die volgende sê: Mense moet my nie probeer verstaan uit my woorde en my dade nie, want alles wat ek ooit gesê of gedoen het, is deur ‘n hindernis geblokkeer om regtig eerlik te wees.

Die Japannese gedig, deur Matsuo Bashó (1644-1694) lyk soos enkele kwashale – maar dié seun van ‘n samoerai was die grondlegger van die haiku as digvorm. Die projek om gedigte teen die mure in die stad aan te bring is deur die “Stichting Tegen-Beeld” aangepak. Hul aanvanklike doelwit was om 101 gedigte aan te bring en dit het tussen 1992 en 2005 gebeur. Intussen het sommige van die gedigte weer verlore geraak (soos geboue gerestoureer of oorgeverf is), ander gedigte is telkens opgeknap en daar is ook omtrent 50 gedigte aangebring wat nie deel van die oorspronklike projek was nie.

Die Stichting Tegen-Beeld se aanvanklike doel was om die Nederlandse kunstenaar, Theo van Doesburg (1883-1931) wat vir ‘n paar jaar in Leiden gewoon het, te vereer. Hy was een van die oprigters van ‘n invloedryke tydskrif, De Stijl, wat in 1919 in Leiden ontstaan het. De Stijl was uiteindelik veel meer as ‘n tydskrif. Dit het die naam geword van ‘n internasionale kunsrigting waaraan ‘n groep skilders, argitekte en ontwerpers deelgeneem het wat almal gestreef na abstrakte kuns wat bestaan uit reghoekige vlakke en primêre kleure. Van Doesburg het verskeie kunstenaars en argitekte om hom versamel wat almal met De Stijl geassosieer word, soos Piet Mondrian, Gerrit Rietveld en Bart van der Leck.

Een van die oogmerke van De Stijl was dat kuns nie slegs in museums of die spesiale biblioteke moet bestaan vir ‘n uitgesoekte klompie elite bewonderaars nie, maar dat dit juis deel van die alledaagse lewe van almal moet wees. Iets van hierdie idee skemer ook weer deur in die inisiatief van  gedigte wat oral op straat, teen gewone huise of skole of winkelmure staan. In hierdie gees het Stichting Tegen-Beeld aanvanklik in die straat voor Van Doesburg se werkplek, die beroemde ontwerp van die voorblad van De Stijl met plaveistene, uitgelê. Mense loop en ry daagliks daaroor. Dit is deel van die lewe.

So ook die gedigte teen die mure. Die meeste gedigte is seker in Nederlands, maar die gedigte in al die ander tale weerspieël iets van die geskiedenis van die Universiteit se 444-jarige geskiedenis van bemoeienis met ander tale en die teenwoordigheid van ander gemeenskappe in die stand. Uiteindelik het ek ook twee Afrikaanse gedigte gevind. Teen Stevenshof se gemeenskapsentrum is Ingrid Jonker se bekende gedig wat bekendstaan as “Die kind”.

Ek probeer ‘n foto van die gedig te neem en staan oorkant die straat om dit te probeer inkry, toe drie vrouens wat op ‘n bankie sit en rook my begin uitvra oor waarom ek die gebou waarin hule werk wil afneem. Ek verduidelik dat ek vir die gedig daar is. Dadelik beduie hulle my na die ander Afrikaanse gedig, ‘n paar straatblokke verder. En, heel gepas, teen die muur van ‘n laerskool, vind ek Elisabeth Eybers se gedig “Taalles”.

Send this to a friend